Boere nog ’n tree nader aan skadevergoedingseis teen SA-regering  

(Argieffoto)

Regter Frits van Oosten het vandeesweek in die hooggeregshof in Pretoria ’n groep boere en Zimbabwiese maatskappye se aansoek om met ’n skadevergoedingseis van R2 miljard teen die Suid-Afrikaanse regering voort te gaan, toegestaan.

Die eis spruit uit ekonomiese verliese wat ses Suid-Afrikaanse en vier Zimbabwiese boere asook 15 Zimbabwiese maatskappye gely het toe Zimbabwe onder wyle pres. Robert Mugabe suksesvolle boere in die land se plase sonder vergoeding afgevat het.

Van Oosten het die voornemende eisers se aansoek om kondonasie vir die indien van hul eis teen pres. Cyril Ramaphosa en die regering goedgekeur. Ramaphosa en die regering het die eis teengestaan en aangevoer dat die eisers se hofstukke nie voldoende bewerings bevat om hul aansoek te ondersteun nie.

Die eisers voer aan dat hulle destyds hul eise voor die Suid-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) ingedien het of wou indien om vergoeding van Zimbabwe te eis vir die verlies van hul plase. Hulle voer aan die eis kon nie voortgaan nie omdat Jacob Zuma, voormalige president, in 2011 ’n protokol onderteken het om die SAOG-tribunaal te ontbind en gevolglik kon die eis nie voortgaan nie.

Hul kondonasie-aansoek was gegrond op ’n uitspraak van die konstitusionele hof wat bevind het Zuma het nie die reg gehad om die protokol te onderteken nie en dat Suid-Afrika ongrondwetlik opgetree het deur die protokol te onderteken wat tot ontbinding van die tribunaal gelei het. Die hof het bevind Zuma het die eisers se eiendomreg en hul reg tot geregtigheid geskend. Hy is ook beveel om die ondertekening van die protokol terug te trek.

Ramaphosa, wat toe reeds president was, het dit teruggetrek.

Die eisers het ná die konstitusionele hof se uitspraak die regering in Desember 2018 ingelig dat hulle van voorneme is om te eis. Die kondonasie-aansoek is ingedien omdat die staatsprokureur hulle ingelig het dat hul eis verjaar het.

Van Oosten het in die eisers se guns beslis hoewel hy bevind het dat hul hofstukke nie genoeg bewyse bevat om te bepaal of daar ’n direkte verband is tussen Zuma se ondertekening van die protokol en hul beweerde skade nie. Hulle het nou grasie tot 29 Januarie 2021 om hul hofstukke aan te pas.

Willie Spies, regsverteenwoordiger vir AfriForum en Zimbabwiese boere.

Willie Spies, regverteenwoordiger van AfriForum en die Zimbabwiese boere, het die voorlopige uitspraak verwelkom.

Hy sê die boere wat deur Zimbabwe se grondgrypprogram geraak is, voer sedert November 2009 ’n stryd om geregtigheid in die Suid-Afrikaanse howe. AfriForum is destyds deur leiers van georganiseerde landbou in Zimbabwe genader nadat dit duidelik geword het dat die burgerlike samelewing in dié land in duie gestort het weens Zanu-PF se beleid.

“AfriForum het finansiële bystand gelewer in hierdie uitgerekte stryd wat reeds twee keer in die konstitusionele hof gedraai het en waartydens die boere suksesvol was. Die litigasie het teen ’n groot koste gekom en sou nie sonder die steun van AfriForum moontlik gewees het nie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.