AgriSA het gesê dit is ‘n “verpletterende slag” vir handelsboere dat grondeise vir die volgende vyf jaar weer oopgestel is, het Rapport Sondag berig.
“Boere is nou baie onseker of hulle oor die volgende twee jaar in hul grond moet belê,” het Theo de Jager, adjunk-president van AgriSA, aan die koerant gesê. “Hulle weet nie of hulle moet saai vir die volgende oes nie, want wat gaan gebeur as daar ʼn grondeis kom?”
Hy sê AgriSA het dit reeds met die regering bespreek. “Daar is groot vraagtekens oor die integriteit van daardie besprekings, want verskeie ministers het vroeër gesê grondeise sal nie weer oopgestel word nie.”
Die wysigingswetsontwerp oor die restitusie van grondregte is Dinsdag in die Parlement aanvaar. Die wysigingswetsontwerp stel 31 Desember 2018 as die sperdatum vir grondeise. Die vorige sperdatum was 31 Desember 1998. -SAPA