Boere, polisie vang brandstofdiewe

(Argieffoto: pixabay)

Vinnige optrede deur Vrystaatse boere en die polisie het gekeer dat diewe vort is met miljoene rande se brandstof.

Roy Jankielsohn, DA-leier in die Vrystaat, sê boere van Warden, in samewerking met die polisie, kon op 29 Desember daarin slaag om beslag te lê op vier brandstoftenks vol gesteelde brandstof. Die brandstof is na bewering afkomstig van ʼn ondergrondse pyplyn wat tussen Durban en Gauteng loop.

Die polisie het aanvanklik twee verdagtes, oorspronklik van Zimbabwe, aangekeer. Boere in die area het die polisie toe te hulp gesnel.

Volgens Jankielsohn is die brandstof R3 miljoen werd. Die Valke sal nou die saak verder ondersoek.

“Dit is die tweede keer die afgelope paar maande wat diewe brandstof hier probeer steel,” sê Jankielsohn. “Drie maande gelede het polisie van Verkykerskop vier verdagtes van Zimbabwe, Malawi en die Demokratiese Republiek van die Kongo in hegtenis geneem voordat die brandstof gesteel kon word.”

Jankielsohn sê die tenks staan tans buite die polisiestasie in Warden en hou ʼn gevaar vir inwoners in, aangesien die een tenk brandstof in die straat uitlek. “Dit is nou Transnet se verantwoordelikheid om te verseker dat hierdie waens verwyder en veilig gestoor word.”

Hy sê omdat die polisie in landelike gebiede in die Vrystaat beperkte mannekrag het, is hulle afhanklik van die hulp van plaaslike boere.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.