Boere positief ná goeie reën

Die plaas Nielsview digby Dealesville het vandeesweek tot 47mm reën gehad (Foto: Mike Krüger)

Boere is positief oor wat die komende oes kan oplewer ná goeie reënval in die Vrystaat en die Noord-Kaap. Reën word boonop die naweek in groot dele van die land verwag.

“Die grootste gedeelte van die Vrystaat het in Februarie meer as die gemiddelde reënval vir die seisoen gekry,” sê Toni Rossouw, ’n weervoorspeller by die weerkantoor in Bloemfontein.

Goeie reën het die afgelope week wydverspreid oor dele van die Vrystaat en Noord-Kaap geval. Bloemfontein en Bothaville het tot soveel as 50 mm gekry. Tot soveel as 72 mm reën is op die grens van die Suid-Vrystaat en Oos-Kaap by Aliwal-Noord aangemeld.

Wolke het ook aan die begin van die week dik saamgepak in die droë dele van die Karoo. Volgens ’n reënval-opname in die Noord-Kaap deur AgriSA het dele rondom De Aar (tussen 30 en 90 mm), Colesberg (tussen 25 en 66 mm) Hanover en Richmond (tussen 15 en 40 mm) goeie neerslae vandeesweek ervaar. Die noordelike dele van die Noord-Kaap het ook goeie reën onvang en in dele rondom Kuruman en Hotazel is tussen 20 en 85 mm aangeteken.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het die meeste reënval in die eerste twee weke van Februarie by Wepener (112 mm), Bothaville (85 mm), Bloemfontein (65 mm), Gariepdam (61 mm), Betlehem (57 mm) en Fauresmith (49 mm) aangeteken.

In die Noord-Kaap het Boetsap (90 mm), Vaalharts (81mm), Noupoort (70 mm), Deben (65 mm), Britstown (58 mm) en De Aar (57 mm) ook goeie reën in die eerste twee weke van Februarie gekry.

Reën in Koopmansfontein in Noord-Kaap (Foto Reënval SA, Twitter)

Die verre westelike dele van die Noord-Kaap gaan egter steeds gebuk onder uiterse droogte en Garies en Springbok het in die hele Januarie skaars 3 mm reën gekry.

Rossouw sê die noordoostelike streek tussen Heilbron, Villiers en Vrede in die Vrystaat het ook nog min reën die afgelope seisoen gekry. “Die veld is in ’n goeie toestand, maar die boere kort nog baie reën vir hul mielies,” sê hy.

Charlie van der Linde, wat tussen Bloemfontein en Jagersfontein in Suidwes-Vrystaat boer, sê hy het tot 150 mm reën die afgelope twee weke op sy plaas gemeet. Hoewel boere in dié streek reeds goeie reën gehad het, is groot reënbuie steeds op pad, meen Van der Linde.

“Die veld is grasgroen. Boere het sommer weer moed en is positief oor die toekoms. Alles kry weer lewe,” sê Van der Linde.

Van der Linde vertel boere kan ná ’n droogte van omtrent sewe jaar ’n goeie mielie- en sonneblomoes verwag. “Drie jaar gelede kon boere ’n goeie mielieoes van tussen 3,5 en 4,5 ton per oes verwag. Ek verwag vanjaar tussen 5,5 en 6,5 ton mielies per oes.”

Reën noord van Upington (Foto Reënval SA, Twitter)

Van der Linde verwag ’n gemiddelde sonneblomproduksie van 1,7 ton per hektaar teenoor die 0,8 ton drie jaar gelede.

’n Verdere 60%-moontlikheid van swaar reën word die res van die naweek vir die groot dele in die Vrystaat, sentraal-oostelike dele van die Noord-Kaap en Noordwes verwag. SAWD het ’n waarskuwing uitgereik vir swaar reën en donderbuie vir Vrydag en Saterdag in die noordelike dele van die Noord-Kaap. Die reën sal waarskynlik teen Sondag in meeste dele van dié provinsies opklaar.

Reën word ook die naweek in Mpumalanga, Limpopo en Gauteng verwag. Die SAWD waarsku teen swaar reën, donderbuie en sterk winde vir die noordelike gebiede van die hoëveld en platorand in Mpumalanga, asook vir die sentrale en oostelike dele van Limpopo. ’n 60%-moontlikheid vir swaar reën word ook Vrydag en Saterdag in meeste dele van Gauteng verwag.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sonia ·

Ons loof en dank die Here vir die goeie reënval soos gerapporteer en bly bid vir die plekke waar dit nog gladnie of min gereën het.

Miskruier ·

Dankie, hier in Limpopo is dit nog vrek droog. Ek verkoop byna my hele trop beeste, die verlies aan inkomste en die feit dat ek 12jaar aan die trop opgebou het, maak mens moedeloos.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.