Boere raadop met Limpopo se ‘hek na vryheid’

Limpopo, Musina, grens, Zimbabwe, Beitbrug, smokkel, Limpopo-rivier

Stukke van die nuwe grenslyn tussen Zimbabwe en Suid-Afrika lê verniel langs die kontrolepad oos van die Beitbrug-grenspos. (Foto: Isabel Venter / Maroela Media)

Die Beitbrug-grensheining tussen Suid-Afrika en Zimbabwe word al lank spottenderwys “die wasgoedlyn” genoem. Die gevolge van hierdie powere stuk brouwerk is egter geen grap nie en grootskaalse smokkelary vind oop en bloot hier plaas.

Die grensheining is nog betreklik nuut nadat die departement van openbare werke en infrastruktuur kort ná die Covid-19-pandemie in 2020 ʼn tender toegeken het vir die oprigting van die 40 km lange heining.

Dié heining, wat die belastingbetaler meer as R40 miljoen gekos het, is veronderstel om die grens doeltreffender te beveilig. Maroela Media het egter tydens ʼn onlangse besoek gevind dié draad hou niemand of niks uit nie.

In teendeel word goedere reg onder die neuse van die Suid-Afrikaanse Weermag (SANW) gesmokkel.

In Desember was daar selfs sprake dat busse vol kinders vir die doeleindes van mensehandel van Zimbabwe oor die grens gebring is. Die kommissaris van die grensbeheerowerheid (GBO) het toe gesê 42 busse met meer as 400 onbegeleide kinders van Zimbabwe is aangekeer. Die kinders is by die grens aan die Zimbabwiese owerhede oorhandig.

In die oostelike gedeelte by die grensdraad is ʼn klein informele nedersetting wat op die oewers van die Limpopo-rivier opgeskiet het.

Die nedersetting, genaamd Ha-Tshirundu, bestaan uit verskeie gehuggies en sinkhuisies wat tussen die bome op ʼn klipperige randjie staangemaak is en reg op die Limpopo-rivier afkyk. Dié nedersetting word na verneem word as ʼn soort basis vir smokkelaars gebruik, wat goedere deur die nabygeleë Hek 2 vervoer. Dit is volgens ʼn plaaslike boer en jarelange inwoner van die omgewing, wat op voorwaarde van anonimiteit met Maroela Media gepraat het.

Hek 2 was een van talle wat met tussenposes langs die rivier opgerig is om toegangsbeheer toe te pas vir vee wat oor die grens tussen die twee lande dwaal. Deesdae staan die hek bekend as die “hek na vryheid”, omdat dit langs die hoofweg is waar alles tussen Zimbabwe en Suid-Afrika gesmokkel word.

Tydens Maroela Media se besoek is tientalle mense opgemerk waar hulle swaar kartondose van die rivier se kant af dra.

Ha-Tshirundu is net sowat 15 km van Musina, langs die Malaladrift-pad wat oos van die dorp loop.

In die droë rivierbedding van die Limpopo het daar ook verskeie donkiekarre – klaar ingespan – gestaan. Volgens nog ʼn bron word die donkiekarre gebruik om enigiets van kruideniersware tot gesteelde voertuie oor die grens te smokkel.

Limpopo, Musina, grens, Zimbabwe, Beitbrug, smokkel, Limpopo-rivier

Tydens Maroela Media se besoek aan Ha-Tshirundu, reg langs die Limpopo-rivier, is tientalle mense opgemerk waar hulle swaar kartondose van die rivier se kant af dra. (Foto: Isabel Venter / Maroela Media)

Sowat 2 km verder  – soos wat die kraai vlieg – is daar ʼn weermagpos wat motors langs die pad aftrek. Twee motors is aan Maroela Media uitgewys – blykbaar vol gesmokkelde goedere. Dié motors is ongestoord deur die wagpos.

Praat jy met plaaslike inwoners dan hoor jy dit gaan al vir jare so. Dit is glo ook nie vreemd om gereeld bolle rook oor die Limpopo te sien wanneer smokkelaars gesteelde voertuie aan die brand steek nie.

Voertuie word oor die riviersand gesleep met die hulp van donkies en donkiekarre en wanneer dit vasval, word dit aan die brand gesteek en moet die weermag die wrakke kom verwyder.

Limpopo, Musina, grens, Zimbabwe, Beitbrug, smokkel, Limpopo-rivier

Donkiekarre, wat glo gebruik word om goedere tussen Suid-Afrika en Zimbabwe te smokkel,  staan in die Limopo-rivier naby Ha-Tshirundu. (Foto: Isabel Venter / Maroela Media)

Dit is ook nie net die smokkelary wat ʼn kopseer veroorsaak nie. Beeste wat na hartelus kom en gaan oor die grens besmet plaaslike boere se wild en vee, vertel boere.

Soms moet die polisie ook kom ondersoek instel wanneer ʼn liggaam uitspoel of op ʼn buurplaas gevind word.

“Die grensdraad is ʼn grap, kyk hoe lê die wasgoedlyn hier, uitmekaargetrek langs ʼn pad wat onbegaanbaar is,” sê die bron wat Maroela Media begelei het.

Die weermag het nie op enige navrae hieroor gereageer nie.

Hofbevel oor Beitbrug-grensheining

Intussen het die hooggeregshof in Johannesburg ʼn bevel gemaak wat twee konstruksiemaatskappye die winste ontneem wat hulle uit die verslonsde grensheining gemaak het.

Dié bevel het gevolg nadat die twee konstruksiemaatskappye, Caledon River Properties en Profteam, geappelleer het teen ʼn vroeër besluit van die spesiale tribunaal om hulle van hul winste te ontneem.

Die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) het bevind daar was tender-onreëlmatighede en dat die heining van swak gehalte is. Later het die hooggeregshof dié bevinding bekragtig, waarop die twee maatskappe ʼn appèlaansoek gebring het.

Dié aansoek is vroeg in Januarie van jaar van die hand gewys.

Maroela Media het die SOE genader om uit te vind of die geld al terug betaal is. Die eenheid se kommentaar sal bygewerk word sodra dit ontvang word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.