Boere sal self oor hul grond besluit, sê TLU SA

TLU SA (Foto: Facebook)

Die landbouers, wat hulle grond wettig besit, sal self besluit oor die status van hulle grond, en raak nou moeg daarvoor dat ander rolspelers buite die landboubedryf voorskriftelik probeer wees oor wat met landbougrond moet gebeur, of wat landbouers met hulle grond wil doen. Daarom sal geen voorstel of gepoogde ooreenkoms wettig of aanvaarbaar wees as landbouers nie self, en in besonder die hoofrolspelers, in sodanige gesprek is nie.

Dit was die reaksie van TLU SA se president, Louis Meintjes, nadat TLU SA ter elfder ure kennis geneem het van die Nasionale Forum vir Dialoog se konferensie wat op 27 en 28 Maart 2018 aangebied word in Johannesburg wat handel oor onder andere onteiening sonder vergoeding.

By navraag daaroor is TLU SA in ʼn baie laat stadium ook genooi om dit by te woon. TLU SA sal dit nie bywoon nie aangesien die integriteit van die konferensie ernstig bevraagteken word, het Meintjes verduidelik.

“Die vertrekpunt is onder andere ʼn algemene stelling dat grond deur kolonialisme of apartheid van swart mense gesteel is. TLU SA bepleit al lank ʼn konferensie oor die geskiedenis van grondbesit, waar alle stawende bewyse oor grondbesit op die tafel geplaas word. Die versoek val op dowe ore, want die regering is skynbaar te bang om die feite te hoor, wat waarskynlik gaan insluit dat die swart mense dan net so min reg op die grond het.

“Die nuutgeskepte leuen dat landbouers grond gesteel het, moet nou tot die been oopgevlek word, sodat die geskiedenis vir eens en vir altyd geboekstaaf kan word en die toekoms sonder enige onsekerheid oor hierdie aangeleentheid aangedurf kan word.

“Met verlede week se verslag van Moody’s, is dit pertinent uitgewys dat daar beleidsekerheid in die land moet kom. Landbou vra reeds lank daarvoor, maar die beleidsonsekerheid oor landbou en grondbesit word eerder met die dag al groter, veral omdat niemand meer met sekerheid kan sê of die owerheid nog verbind is tot privaat besitreg en die vryemarkstelsel nie. Dit wil eerder lyk of die ANC besig is om geleidelik na sosialisme en kommunisme te beweeg.”

Meintjes het dit duidelik teenoor die organiseerders van die konferensie gestel dat niemand, ook geen ander landbou-organisasie, die mandaat het om namens TLU SA se lede, of die boere wat nie by georganiseerde landbou betrokke is, te praat nie.

“Dit is absoluut belaglik en selfs uiters arrogant dat ‘n groepering mense ‘n konferensie hou oor landbouers se besitreg sonder om landbouers self daar teenwoordig te hê. Geen persoon of instansie het die reg om namens iemand anders se wettige eiendom te besluit oor die moontlike afstaan daarvan nie,” het Meintjes bygevoeg.

Maroela Media het vroeër berig AfriSake het gesê die besluit van die Nasionale Forum vir Dialoog (NFD) om belangrike stemme teen grondonteiening sonder vergoeding uit te sluit, dompel dit in ʼn geloofwaardigheidskrisis weens beweerde eensydigheid. “Boonop voorspel die deelname deur pres. Cyril Ramaphosa, sleutelfigure in die regering en die grondwetlike hersieningskommissie aan so ʼn eensydige geleentheid niks goeds vir die openbare deelnameproses oor onteiening sonder vergoeding nie,” het Piet le Roux, uitvoerende hoof van AfriSake, gesê.

Volgens berigte vind die NFD, geïnisieer deur onder andere Roelf Meyer, ʼn voormalige minister, eerskomende Dinsdag en Woensdag in Illovo in Johannesburg plaas.

“AfriSake is nie deur die NFD genader nie, ten spyte daarvan dat AfriSake onlangs gasheer was vir ʼn hoëprofielspitsberaad vir organisasies gekant teen onteiening sonder vergoeding,” het Le Roux bygevoeg.

Dié spitsberaad is op 6 Maart, binne ʼn week nadat die mosie oor onteiening sonder vergoeding in die parlement goedgekeur is, aangebied. “Dit is bygewoon deur meer as ʼn dosyn organisasies, insluitende gerekende organisasies uit die burgerlike samelewing, landbou-organisasies, ‘think tanks’ en omtrent alle politieke partye wat teen die mosie gestem het. Dit is ondenkbaar dat iets wat vandag hoop om ʼn nasionale dialoog daar te stel ons en feitlik al die organisasies wat aan ons spitsberaad deelgeneem het, kan uitsluit.”

Verteenwoordigers van TLU SA het AfriSake se spitsberaad bygewoon.

“Ons sal die geleentheid monitor, maar die wyse waarop hierdie NFD byeengeroep is, maak dit feitlik onmoontlik dat die verloop daarvan ʼn dialoog daarstel,” het Le Roux bygevoeg. “Deur die kritiese stemme van gerekende rolspelers van die geleentheid uit te sluit het die NFD sy geloofwaardigheid prysgegee.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

43 Kommentare

jaco ·

daar loop konserwatiewe Afrikaners al weer weg van onderhandeling af – nes die Konserwatiewe Party tussen 1990 en 1994. Laat maar weer net ons eie mense in die steek.

skillie ·

Jaco praat jy van die 1994 weggee proses? met sy checks en balances? Daardie was absoluut geensins onderhandeling nie, dit was net ja se. Gaan lees maar self SR se weergawe en ongeloof oor hoe maklik die linkses als weggegee het en absoluut niks beskerming vir minderhede ingebou het nie. My ou maar as jy dink dit gaan ‘n verskil maak die keer het die afgelope 24 jaar jou nie baie geleer nie.

Trots Afrikaans ·

Jaco, in liefde broeder, ek is self een wat glo dat ‘n mens moet praat. Maar ‘n mens kan net ‘n gesprek betree as jou insette onpartydig ontvang word en die gesprek gaan om die uitkoms te bepaal. As die uitkoms reeds bepaal is, is jou insette ‘n gejaag na wind.

Ek verwys na die 1898/1899 gesprekke met Brittanje. Daar is niks wat die Boere kon doen nie. Die Britte het bly die grense skuif en sodoende onderhandelinge onmoontlik gemaak want hulle wou die goud hê. Dit is nadat die Boere al reeds die grense geskuif het om vir hulle die diamante te gee.

Hierdie gesprekke is ‘n gejaag na wind. Ons moet maar soos in 1899 ons self regmaak vir ‘n vyand wat ons uit die pad wil hê

Piet ·

Jaco moontlik is jy baie jonk of jy kan nie onthou wat gebeur het nie. Die KP het wel onderhandel. Die land is toe weg onderhandel. Die HNP se beleid was “ons onderhandel nie”. Dalk moet jy jou feite agter mekaar kry voor jy post.

Moeilikheid ·

Ek sal my eiendom verdedig en ek sal kommunisme nie aanvaar nie. Die ANC beplan aanvalle al lankal via hulle nuwe militere fleul genaamd die EFF. Die internasionale gemeenskap moet betrek word, die VN moet die situasie monitor want die ANC beplan ernstige misdade teen die mensdom.

Selfbeskikking ·

Met onderhandelinge met ons regering en die buiteland sal ons kan grond uitruilings maak sodat ons ons eie land kan hê, wat ons gou tot n sterk eerstewereldland sal ontwikkel.

HPV ·

Roelf Meyer en kie het reeds 1994 die hele land sonder vergoeding aan die ANC geskenk, is daar nog iets oor wat hy wil skenk!?

dr. Sakkie van der Merwe ·

Stem heelhartig saam. Hom en sy maters kan jy nie vertrou nie. Weereens die AB wat agter alles sit?

tamboti ·

Presies Jaco, die konserwatiewes stap weg van die onderhandeling wat net poog om hulle te bedrieg, valslik beskuldig en teen hulle beter wete laat boedel oorgee. Net soos dit in ’94 gebeur het – en wat jy nog nie mooi verstaan nie.

jaco ·

amper 1 miljoen nee stemme in 1992 is in 1994 af na net 425 000 vir die Vryheidsfront. die ander 500 000 is seker in 2 jaar se tyd almal dood of almal australië toe of het almal in 1994 vir die Nasionale Party gestem. 1 miljoen stemme in 1994 sou vir die Vryheidsfront n kabinetspos gegee het.
en sedertdien verminder die VF-plus se stemme by elke verkiesing. keer op keer, sedert voor 1994, hoor ek dieselfde by talle regse konserwatiewe Afrikaners: “ons stem nie want ons het ons kans gehad. ‘Hulle’ (menende die swartmense’) kan nou maar aangaan”.
Maar dan is dit dieselfde regse konserwatiewe Afrikaners wat kla oor alles wat so versleg in SA.
Ons eie mense grawe die meeste en die beste aan ons eie grafte.

tamboti ·

Baie mooi TLU neem stsndpunt in en hou alternatiewe beraad waar julle en belangstellendes die grondbesit / diefstsal kwessie mooi uitmekaar krap.

Awie Opperman ·

Jaco, daar is niks om oor te onderhandel nie. Hier is vir jou ‘n toets: Gaan ry met jou motor in die aand deur Hillbrow en maak sommer jou vensters ook oop. Dan probeer jy onderhandel met die eerste rower/hijacker wat jou konfronteer.

Alice ·

Ek steun TLU se besluit heelhartig. Die afgelope 24jr het die ANC bewys hul is nie bereid om op ‘n redelike en regverdige manier te onderhandel nie. Ek hou by my standpunt: Is Pres. Cyril bereid om afstand te doen van sy bees asook wildsplaas – albei plase meer as 5000ha. Toevallig is die plaasbestuurders op albei plase blankes. Ons moet ophou om voorgeskryf te word en standpunt inneem.

Reguit ·

As mens so na al die kante kyk, dan lyk dit as of grootskaalse konflik onvermydelik gaan wees. Donker tye lê voor in SA.

Boerseun ·

Tjoep stil, die Kaap het ook nie die Groot trek meegemaak nie. Sommer die vryheid oorloe ook mis geloop

willie ·

Waar Roelf Meyer betrokke is voorspel net verraad! Wil hy nou die laaste spyker in die boerevolk se kis in slaan? BLY weg dit is die regte ding om te doen julle gaan in elkgeval in die minderheid wees en dan sal daar agterna gesê word julle was deel daarvan!

johann van as ·

Roelf meyer is en was nog altyd “bad news”. Ek hoop sy dag kom baie spoedig. Die awb het hom gehaat. Haat hom nog steeds. Soos wat E Tereblanche gesê het, hy is die enigste persoon wat betrokke was om 2 lande weg te gee, in minder as 1 jaar. (Ek dink 1 jaar?)

DelaRey ·

Jaco mens onderhandel uit ‘n posisie van mag of relatiewe mag. Meyer het geen magsbasis nie. Hy is ook ‘n liggewig en almal weet dit teen die tyd. Die TLU het wel mag want hulle verteenwoordig die boere. En die regering weet hulle het die wit boere nodig net soos hulle aanvanklik wit bestuur nodig het wanneer transformasie in maatskappye begin.

Ramaphosa skiet in die lug oor grondonteining in ‘n hoop dat boere gaan tafel toe hardloop en afskop met toegewings nog voor onderhandeling begin het. TLU doen die regte ding. Hulle moet seker maar daar is respek.

‘n Voorstel: boere kom ons ondersteun mekaar en hou op om sekere voedselsoorte te produseer (koring en dan mielies) sodat SA’ners kan sien wat gaan kom as bevoegde boere uitgestoot word. Ja dit klink onmoontlik maar as lede fondse poel kan ons die tien plae oor die ANC laat kom……

Laat die Farao kennis neem! God staan in verhouding met die mens en met volke en ons is ‘n gelowige volk. Sterk staan Afrikaners!

rollie ·

Om weg te bly gaan beslis nie julle saak bevorder nie. Dom taktiek.

dr. Sakkie van der Merwe ·

Sterkte Louis en Bennie. B;y weg van die Joiners en Hensoppers Maak bymekaar wat bymekaar hoort dan gaan ons vorentoe.

DC ·

Die hoofdoel vd beoogde Grondwetwysiging is die uitbreiding v selektiewe diskriminasie, diefstal en verarming. Die teiken is indiwidue wat deel is van n minderheidskultuur/ bevolkingsgroep. In proses word die ooreenkoms om n demokratiese bestel te vestig verbreek. Dit skep dalk net die geleentheid vir n ‘minority exit’. Minderheidsgroepe moet meer paraat en militant raak met beskerming v eiendom en mekaar. Georganiseerde landbou kan gerus kyk om n internasionale drukgroep te vorm wat deur hul regerings kos en hulp van grondgrypers en bullebak regerings weerhou. Verwag en berei voor dat die huidige aanslag teen minderhede gaan eskaleer.

Neels ·

Wie is die NFD. Waar is hulle gestig en wie is hulle lede. Ek aanvaar nie komentaar wat se ons bly weg nie. Ons is nie in kennis gestel of genooi nie. Ek het gewerk vir elke sent om my stukkie grond te koop na 1994 en met beperkinge soos BEE . As die regering dit wil he betaal daarvoor. Dis die mandaat vir onderhandeling, anders is ek verplig om te baklei vir my eiendom.

Manna ·

Hierdie mense wil alles hê, hulle stel nie belang om te deel en in vrede te leef.

ontnugter ·

O!!!!!!!! Die boere wil saamstaan? Mmmmmmm. Hou vas ek gaan maak gou pop corn. Die wil ek sien. Hulle kan nie eens saamstaan spel nie. Skinder en hooghartig wees.. ja daai is hulle kos.

anton ·

ontnugter………hoe hartseer en tragies dit is, moet ek nogal met jou saamstem!!!
Pieter, gaan sover terug as die voortrekkers se tyd en jy sal sien dat die boere sedert daardie tyd tot vandag toe nie kon of wou saamstaan nie.
Dit is die bittere feite.

Paul ·

Goeiemore Maroela, ek het gister ook probeer. ‘Think tank’, in Afrikaans is ‘dinkskrum’, waarom volhard met die Engels, al is dit in aanhalings, terwyl daar so ‘n mooi Afrikaanse woord daarvoor is?

Werner ·

My grond is nes my geloof ononderhandelbaar as jy dit wil vat sal jy met bloed daarvoor betaal

Gerhard ·

Alhoewel ek kan in sien waarom TLU nie aan hierdie beraad deelneem nie, ek sou ook nie, is ek bevrees hulle droom as hulle dink hulle is die mense wat beluit oor die toekoms van hulle grond. Sommige van die blanke boere in Zim het seker ook so gedink.

Dries ·

Die boere in Zim was die meeste engelse hulle het n plek gehad om heen te gaan ons boere kan nerens gaan nie, hulle sal moet veg vir hulle grond.

Rynhardt ·

My vraag aan die TLU is eenvoudig.Anc en Malema het jul uitgesonder as die vyand.Wat gaan die TLU doen waar die boere se plase onverwags en uit die bloute beset gaan word met derduisende massas der massas wat elke plaas gaan beset??Wat is TLU se plan vir die boere,want hul kom???Die oues by TLU dink nie hieraan nie!???????????

Jerry ·

Jy kan mos dialoog gaan voer oor al jou bekommernisse soos vervat in jou skrywe deur die NFD sitting by te woon, of is jy bang dat teenargumente jou dalk van siening en standpunt kan laat verander. TLU, Afri-Sake, Afri-Forum en Solidariteit is nie verteenwoordig op die NFD deur eie toedoen. Doen so voort deur onversoenende optrede en julle sal alle grond prysgee, met of sonder weerstand! Dit is duidellik dat julle met n onversetlike en onversoenende benadering begin het en nou is daar nie vir julle omdraaikans nie. Konflik agv julle onversoenende benadering tussen wit en swart is dus onvermydellik oppad en ek hoop julle vrouens, kinders en weerlose oumense is gerat daarvoor.

Therese van Schalkwyk ·

Jerry

Miskien het jy net nie mooi verstaan nie …

TLU SA is NIE na hierdie grondberaad uitgenooi nie en het bloot toevallig uitgevind dat dit reeds vandag begin. Dit is dus NIE ‘n geval van enige uitnodiging van die hand wys nie, maar ‘n blatante uitsluiting van die belangrikste rolspelers.
Die blote nagedagte van organiseerders om te sê “ag kom julle outjies ook maar”, is ‘n verkleinerende belediging.

Sou jy daarmee tevrede wees as jy ‘n boer in SA was?

piper ·

daardie bord waarop staan ; have you eaten today thank the farmer; en die die res van die boodskap is volop in zambia. dis orals langs die paaie aangebring. daar word die boere waardeer. hulle is meestal blank en afkomsig van zim en rsa. daar word sommer groot geboer. ek weet nie aan wie die grond behoord nie.

Peet J ·

Dit sal sekerlik meer van toepassing wees om te wag en sien wat die regering en die rolspelers met betrekking tot onteiening aan die landbousektor gaan voorlê .
Ek vermoed sonder vergoeding sal beperk wees tot landbougrond alleen maar die ontwrigting wat daarmee gepaard gaan sal die regering die betrokke eienaar daarvoor moet vergoed.

bgj van der westhuizen ·

EENDRAG MAAK MAG onthou dit ons as wit afrikaners is hier gebore en hier sal ons dood gaan daar is nerens waarna ons gewone mense kan gaan die anc /eff is besig om slapende dier wakker te maak wat hy moet laat slaap en hulle hou aan en aan ons kan net kyk wat het n die verlede gebeur as dit gededon word

Jaco ·

Ek stem saam met ander Jaco. Ek dink nie gaan help om insette daar te gee nie maar dit moet bygewoon word om te hoor wat se twak en verskonings en redes gegee word. Ons kan slegs voorberei as ons weet waarmee die NFD besig is of in die mou voer. Ons kan dan die gemors op internationale vlak sommer aanspreek of beantwoord.

Moeilikheid ·

Ek sal my eiendom verdedig en ek sal kommunisme nie aanvaar nie. Die ANC beplan aanvalle al lankal via hulle nuwe militere fleul genaamd die EFF. Die internasionale gemeenskap moet betrek word, die VN moet die situasie monitor want die ANC beplan ernstige misdade teen die mensdom.

kabous ·

Roelf is ore aangesweis deur CR met kodesa en dit gaan net weer gebeur met sy sg grond onderhandelings. Hy ‘s i anc en manteldraaier soos elke liewe oud Np minister. kortbroek v schalkwyk ens ens

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.