Boere se gebede vir reën verhoor

Sonneblomme twee weke gelede onder water op die plaas Nielsview, digby Dealesville in die Vrystaat (Foto: Mike Krüger)

Boere is oorstelp oor die uitermate goeie reën wat die afgelope tyd oor wydverspreide dele van die land uitgesak en groot verligting gebring het. Tog is daar boere in sekere gebiede wat steeds onder droogte gebuk gaan en ander wat weer moet opdok vir erge reënskade. Van die boere het ook duisende rande se skade gely weens grootskaalse oorstromings.

Henry Geldenhuys, president van TLU SA, sê boere is dankbaar oor hoe die natuur ná die reën nou eindelik herstel het. Gebede is verhoor en die dorre aarde is verlig.

“Dit is wel so dat van die riviere oorstroom en skade veroorsaak het, maar op die langtermyn is die waarde van watertafels wat stabiliseer, rivierstelsels wat skoon spoel en die positiewe eindresultaat van vol damme nie net vir landbou nie, maar ook vir Suid-Afrika in geheel ’n baie groot seën,” sê Geldenhuys.

Water in die grondpad en die mooi groen veld langsaan op ‘n plaas in die Vrystaat (Foto: Mike Krüger)

Jack Armour, operasionele bestuurder van Vrystaat Landbou (VL), sê meeste dele in die Vrystaat het die afgelope drie maande goeie reën ontvang. “Vrystaatse veeboere spog nou met mooi groen velde en gesonde vee. Die meeste boere in die provinsie het in die bestek van drie maande hul totale jaarlikse gemiddelde reënval reeds ontvang. Ons is ongelooflik dankbaar daarvoor,” sê Armour.

Dit was veral nodig vir die veld in die Wes-Vrystaat wat in Oktober deur veldbrande verwoes is. Ongeveer 339 plase oor ʼn area van ongeveer 100 000 ha is deur die veldbrande geraak.

Die brand is aanvanklik veroorsaak deur ’n veldbrand wat te midde van ’n betoging op die R708 tussen Hertzogville en Christiana uitgebreek en in die rigting van Bultfontein, Hoopstad en Dealesville versprei het. Talle vee en wild is dood en die veld het tot op die grond afgebrand.

Die gras in hierdie brandgeteisterde gebiede staan nou heuphoogte ná ongeveer 400 mm reën.

Volgens Armour is die meeste reën in die Noord-Vrystaat – in die omgewing van Reitz, Frankfort, Heilbron, Sasol en Parys – aangemeld.

Reën het wel ook groot skade in die provinsie aangerig.

Saaiboere in veral die sentrale gebiede van die Vrystaat het skade gely toe duisende hektaar gewasse weens te veel reën versuip het. Armour sê hy weet van boere wat soveel as 2 000 ha mielies só verloor het.

Slaggate in teerpaaie (Foto: Vrystaat Landbou)

Die swaar reën het ook oorstromings in sommige Vrystaatse dorpe veroorsaak, wat ernstige skade aan talle paaie in dié provinsie aangerig het. Verskeie paaie en brûe het verspoel of was onbegaanbaar vir motoriste.

Die gebiede wat die ergste deur oorstromingskade geraak is, sluit in Bultfontein, Hoopstad, Parys, Vredefort, Viljoenskroon, Heilbron, Bothaville, Wesselsbron, Kroonstad, Steynsrus, Reitz, Lindley, Bethlehem, Fouriesburg, Slabberts, Paul Roux, Clarens, Ficksburg, Marquard, Senekal, Harrismith en Kestell.

‘n Pad heelteaml verspoel in Heilbron (Foto: Verskaf)

Vrystaat Landbou (VL) het gewaarsku dat die Vrystaat se padinfrastruktuur in ʼn uiters swak toestand is. Dié landbouorganisasie het middel Januarie ʼn dringende brief aan die provinsiale departement van polisie, paaie en vervoer gerig en gevra dat stappe gedoen word om paaie vir noodsaaklike toegang te herstel.

Armour sê die swak toestand van paaie raak ook boere deurdat hulle dit toenemend moeilik vind om produkte na markte te vervoer. Boere het reeds groot bedrae opgedok om self sekere paaie te herstel, maar hulle het finansiële en materiële steun nodig om verdere rampspoed af te weer.

Oorspoelde grondpaaie in die Noord-Kaap (Foto: Verskaf)

Willem Symington, adjunkpresident van Agri Noord-Kaap, sê die noordelike en oostelike gebiede van die provinsie het die afgelope drie maande goeie reën ontvang. Die veld het mooi herstel na jare lange droogte.

“Die boere kan nou weer kuddes bou en hul skuld begin afbetaal,” sê Symington.

Hy sê die vooruitsigte vir reën vir Maart en April lyk ook belowend.

“Ons is vol moed dat die gebiede wat nog min of geen reën in hierdie tyd ontvang het nie, dan ook sal reën kry.”

Dié gebiede sluit in dele die Oos-Kaap en Noord-Kaap, waar daar nie ʼn enkele druppel reën geval het nie. Boere wat wel goeie reën ontvang het, ry nou voer vir hierdie boere aan om hul vee aan die lewe te probeer hou.

In die Noord-Kaap gaan 40% van die provinsie steeds onder droogte gebuk.

Gebiede in Boesmanland, Namakwaland en die suidoostelike gedeeltes van die Karoo het min of geen reën ontvang nie. Dit sluit onder meer gebiede in soos Williston, Springbok, Aggeneys, Kammieskroon, Kleinbegin, Kenhardt, Netherlea, Noenieput, Loeriesfontein, Calvinia, Fraserburg, Sutherland, Boesmanland, Loxton, Carnarvon, Van Wyksvlei, Marydale, Britstown, Vosburg en Richmond.

“Daar is gebiede wat nog net 30 mm vir die hele reënseisoen ontvang het. Dit maak geen verskil aan die droogte nie,” sê Janine Byleveld, bedryfsbeampte van Agri Noord-Kaap.

Deben in die Noord-Kaap in Januarie onder water (Foto: Verskaf)

Die onlangse reën het byna die Augrabiese Watervalle ‘getransformeer’ (Foto: SANParks, Twitter)

Die Oranjerivier (Foto: Verskaf)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Agge nee

As daardie plante mielies is, het ons ‘n heel nuwe kultivar. Definitief nie mielies nie.

Pieter

Amen

Sunette

Boer defenitief nie oorstelp as jou oes versuip nie. Wel bly vir reën.

Androclus

Daar’s nog baie hoop Noord-kaap hou moed God sal voorsien.

Stefan

Daar is ook al baie gebid vir die ophou van moord, siekte, korrupsie, onbekwame regerings, oorloë, armoede, regstellende aksies, honger.
Maar die bid vir reën is lyk my nou gehoor al versuip die boer se lande nou en spoel als weg.