Boere se stryd: ‘Ek het klaar alles verloor’

(Argieffoto: Steve Buissinne/Pixabay)

Nadat ʼn veiligheidsmaatskappy se wagte verlede week ʼn verkeerde plaas in die Noord-Kaap betree het om die bates ingevolge ʼn hofbevel in opdrag van die Landbank te beveilig, het verskeie boere die afgelope paar dae na vore gekom met bewerings oor ongenaakbare optrede om hulle van hul plase af te verwilder.

Daar is ook bewerings dat die agente van wie die Landbank gebruik maak – van afslaers tot prokureursfirmas – geen genade betoon aan boere wat die afgelope paar jaar, dikwels weens natuurrampe, op hul knieë beland het en die Landbank geld skuld nie.

Maroela Media het vroeër berig die bank word van boelietaktiek beskuldig.

Kosie van der Merwe, ʼn sakeman van Secunda, is een van dié mense wat sê hy het ʼn nagmerrietyd agter die rug. Hy het vantevore saam met sy oom in Mpumalanga geboer en ná die oom se dood het Van der Merwe ʼn veiling gehou om van die boerdery se uitstaande skuld te betaal. Hy sou nie in daardie stadium dadelik sy lening by die Landbank kon aflos nie, maar die lening was volgens hom ook nie agterstallig nie.

Van der Merwe sê hy het ʼn dekkingsverband by ʼn kommersiële handelsbank gekry om die R2,7 miljoen wat hy die Landbank geskuld het, oor te neem, maar is ook aangemaan oor ʼn bedrag van R800 000 – by ʼn ander bank – vir twee werktuie.

Nadat hy die R2,7 miljoen verseker het, is hy egter gewaarsku om ook die uitstaande R800 000 dadelik te betaal, of regstappe oor die Landbank-lening teen hom gaan voort, sê Van der Merwe.

Hy voer aan ʼn aansoek om likwidasie is teen hom gebring, maar dat hofstukke hieroor nie aan homself beteken is nie, maar aan sy ouditeur se kantoor. Dié het die dokumente ontvang, nie die dringendheid daarvan besef nie, en dit het nie betyds by Van der Merwe uitgekom nie.

Van der Merwe sê binne weke is hy onder voorlopige likwidasie geplaas nadat hy nie die aansoek teengestaan het nie – iets waarvan hy eers te wete gekom het nadat sy bank hom daaroor gevra het. Hy sê hy het in daardie stadium reeds sommige van sy ander eiendomme in die mark geplaas om die lening by die Landbank te betaal, maar voer aan daar is ook hiervoor ʼn stokkie gesteek.

Van der Merwe beweer die regskoste om sy likwidasie teen te staan en die verkoop van sekere van sy ander eiendomme moontlik te maak, het hom reeds naastenby R1 miljoen uit die sak gejaag. Hy het intussen met ʼn sakereddingsproses begin wat na verwagting binnekort afgehandel sal wees en beoog om ʼn teeneis in te stel sodra dié proses afgehandel is.

“As jy eers in hierdie stelsel beland, is dit soos ʼn lokval. Hulle vries al jou bates en dan kan jy niks doen nie. So wat maak jy nou?”

Hy voer aan al sy pogings om sy skuld te betaal en ongeskonde anderkant uit te kom, is deurlopend gedwarsboom.

Vergeefse stryd

Ben Champion sê sy ervaring was soortgelyk – en hy het hom telkemale in die hof bevind in ʼn poging om sy plaas te behou.

Champion het vantevore ʼn gemengde boerdery in die Vryburg-omgewing in Noordwes bedryf, maar vandag woon hy en sy vrou elders op ʼn dorp nadat die plaas in ʼn regsgeding weens skuld beland het.

“Ek het kaal anderkant uitgestap. Hulle het alles geïgnoreer, gemaak of ek nie bestaan nie en my plaas gevat. Ek was die vierde geslag op daardie plaas, my voorouers is daar begrawe,” sê Champion.

Champion het die Landbank R7,5 miljoen geskuld, terwyl sy plaas volgens hom tussen R13 miljoen en R15 miljoen werd is. Sy werktuie was ʼn bykomende nagenoeg R3 miljoen werd.

Sy stryd het in 2018 begin toe hy weens die droogte nie sy lening kon terugbetaal nie. “Daar was sweet, blou boggerôl op die lande,” sê Champion wat vantevore ʼn suksesvolle gemengde boerdery bedryf het.

Nadat hy aanvanklik vir die skuld gedagvaar is, het die saak oënskynlik ʼn stille dood gesterf, tot hy in 2020 ingelig is dat sy plaas en werktuie opgeveil moet word. Sy werktuie is eindelik vir R300 000 van die hand gesit, terwyl sy plaas opgeveil en verkoop is. Champion sê die veiling het voortgegaan ondanks ʼn hooggeregshofbevel wat dit verhoed.

Die titelakte vir die plaas is volgens hom vandag steeds op sy naam, hoewel hy en sy vrou intussen die plaas verlaat het.

“Ek sit nog steeds waar ek sit. Sonder ʼn sent geld. Ek is van die plaas af om myself te spaar. Die spanning het my begin opvreet.”

Champion sê indien die saak anders benader is, sou hy waarskynlik verlede jaar al – danksy die goeie reën wat intussen geval het – die helfte van sy skuld kon aflos. “Ek sou vanjaar dalk al die res kon betaal, maar hulle gee jou nie ʼn kans nie.

“As ʼn mens nou ander boere kan red, dan moet ons,” sê Champion.

“Ek het klaar alles verloor wat ek kon verloor.”

Betyds verkoop

Nog ʼn voormalige boer van Noordwes sê hy het ʼn produksielening gehad wat opgeroep is. Hy kon nie sy leningsverpligtinge nakom nie en is aangesê om sy lening binne 30 dae af te los – of sekwestrasie staar hom in die gesig.

Hy sê sy pleidooi – dat sy bates van sowat R26 miljoen veel meer is as sy R7 miljoen-lening – en dat ʼn alternatiewe plan gemaak word, het op dowe ore geval.

Dié voormalige boer, wat nou ʼn sakeonderneming bedryf, sê hy was ten minste in ʼn finansiële posisie om die saak teen hom te beveg. “Baie ander boere is nie in die posisie om te baklei nie,” sê hy.

Hy kon ʼn private koper vir sy grond kry en het dit vir ʼn markverwante prys van die hand gesit. Hiermee het hy sy lening betaal.

Hy het sy boerdery ʼn paar jaar gelede uitgebrei, maar daarna het drie dorre jare gevolg en hy het omtrent geen oes gehad nie. In 2018 is sy lening opgeroep en het sy stryd begin.

Hy is deur die optrede teen hom gedwing om op te hou boer, sê dié man. “Daar was nie ʼn ander uitweg nie. As ek dit nie gedoen het nie, het ek vandag met niks gesit nie.

“Ek kry die ouens jammer wat nie die finansies het om ʼn goeie prokureur aan te stel om te baklei nie.

“Dit is ʼn nare ervaring. Ek kan nie vir jou sê nie. Party oggende het ek gevoel ek wil nie eens opstaan nie. Hulle trap jou in die grond in.”

Volgens hom weet diegene wat die proses hanteer, presies in watter benarde posisie talle boere hulself bevind. “As hulle sien iemand het nie die geld – of selfs die moed – om hulle teen te gaan nie, stoomroller hulle bo-oor jou,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Kobus ·

Goed. Die banke verwyder boere van die plase af, so wat dan? Wie gaan dit nou van onder af weer winsgewend bestuur? Gaan die eindom teen ‘n appel en ei verkoop word, die res afskryf en / of die boer dagvaar vir die uitstaande skuld? Die boer kan klaar nie betaal nie, maw die bank sit met slegte skuld. Kan nie verstaan waarom dit nou so krisis vir banke is nie.

Chris dupreez ·

Dit is hartseer dat die mense ,wat vir die land se voedselproduksie sorg, so behandel word.

Tappel ·

Ons boerdery het self onder Landbank en die bettokke prokureursfirma deurgeloop!!
Daar is ‘n totaal van 7 boerdery eenhede in ons omgewing wat, indien nie totaal en al uitgewis is nie, groot en deels uitgewis is deur die betrokke partye!
Daar is ook ‘n betrokke Prokureur van Hoopstad, wat tans sy firma daar toegemaak het en na Parys verhuis het, wat ook deel was by al die boerdery eenhede in ons omgewing se uitwissing!
Hierdie 2 Prokureurs gaan aan asof niks en niemand hulle enige iets kan maak nie!
Kan iemand soos Gerrie Nel nie hierdie saak aanvat nie?!

Casper ·

So sal onteiening sonder vergoeding nie nodig wees nie,hulle vat net.Wie staan aan die hoof van Landbank.Word swart boere wat geld skuld se plase ook gevat, ek glo nie

Yolande ·

Belaglik, moet eers hongersnood wees voordat mense die waarde van boere besef

Harley Davidson ·

Mense bemagtig julself met kennis van die wet en wat gedoen kan word en wat nie, los die tiktok staaltjies vanuit die bakkie en vergewis jouself met wat jou regte is en wat jou lener ofskuld invorderaar se regte is.

Vossie ·

Wie presies is dit wat dit doen? Landbank? Staat? Noem name. Hierdie tiepe mense wil nie hulle name sien nie dan hardloop hulle. Dit is omdat niemand hulle naam noem dat hulle wegkom met dit. Se presies wie dit is dan kan mens die waarheid kry.

Piet Snot ·

Ek het as prokureur al vir en teen sulke instansies opgetree. As ek sê ek glo bostaande stories, is dit omdat ek die bedryf verstaan.
Daardie amptenare (ook die van handelsbanke) het geen genade nie.

annie ·

Wie is deesdae die base van die Landbank? Glo die bank dat die volgende groep boere die bank se hart gaan plesier… Dalk die ANC self wat plase aanskaf om uit te huur vir daggaplantasies of vir boerderye a la Kuba of is dit vir swart miljarders of uitlanders wat wag vir die ineenstorting van die ANC-droom. Daar is ook prospekteerders wat orals olie en gas soek.

Mariana ·

Kyk wie is in beheer van die Landbank en kry die antwoord. Dis nou die manier hoe hul plase gaan afvat.

M ·

Dit is VIESLIK-HARTSEER dat swoegend-hardwerkende boere van ONS sg. land , sulke walglike situasies/omstandighede/treitering, beleef. Mag die onsinniges tot hul volle verstand ontwikkel en besef wát hulle doen. Liewe genade ……

Hannelie ·

Ja nee tipies, soms dink die veiligheidsmaatskappye se personeel/werkers/wagte, hulle het die mag en reg in hul hande. Wens net hul kan vir die mense beter opleiding bewerk om hul werk met takt te hanteer. Dis nou ook te sê as hul weet wat dit beteken.

Vettiemaragartos ·

“Hy voer aan ʼn aansoek om likwidasie is teen hom gebring, maar dat hofstukke hieroor nie aan homself beteken is nie, maar aan sy ouditeur se kantoor. Dié het die dokumente ontvang, nie die dringendheid daarvan besef nie, en dit het nie betyds by Van der Merwe uitgekom nie.” Ek neem aan die eiendom was in ‘n BK of maatskappy se naam geregistreer gewees vandaar die aansoek om likwidasie. Duidelik was die geregistreerde adres by CIPC die kantore van sy ouditeur en daarom is die stukke daar beteken. As ek hy was sou ek maar my ouditeur ook nader gehark het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.