Boere teen droogteskema-slenter gewaarsku

Boer skraap die sand wat gewaai het van die teerpad. Foto: Bennie van Zyl (word met vergunning op Maroela Media gepubliseer)

Boer skraap die sand wat gewaai het van die teerpad. (Desember 2015) Foto: Bennie van Zyl (word met vergunning op Maroela Media gepubliseer)

Die departement van landbou het die publiek Dinsdag gewaarsku teen ʼn slenter waar boere glo groot droogteverligtingstoelaes aangebied word in ruil vir ʼn kleiner kontantbedrag.

“Die departement van landbou, bosbou en visserye wil boere, wat deur die droogte geraak is, in kennis stel van ʼn persoon wat boere ʼn toelaag van R270 000 van die departement aanbied. Die persoon sê glo aan boere om vir hom R20 000 te betaal in ruil vir die kontanttoelaag vir droogteverligting,” het die departement in ʼn verklaring gesê.

Die departement maan boere, wat deur die provinsiale departement van landbou bygestaan word, dat bystand slegs gedoen word deur ʼn diensverskaffer wat in die provinsie aangestel word om voer te versprei. “Dit is die verantwoordelikheid van boere om die verligtingsgoedere (soos voer) by die verskillende depots by plaaslike kantore van die departement op te laai. Boere is welkom om saam te groepeer en diesel of petrol aan te skaf en die voer van die verskillende depots te bekom. Gebaseer op dié stelsel word geen betaling aan enige individu gemaak nie,” het die departement verduidelik.

Die departement het gesê boere word gewaarsku om waaksaam te wees en “nooit geld aan enige individu oor te betaal wat bystand belowe nie”, aangesien die departement “nooit boere sal laat betaal vir droogteverligtingstoelaes nie”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Derek Bekker ·

Vir wie het die staat al droogte hulp gegee…ek weet net van liefdadigheids organisasies?

Andre ·

Wonder ek mos ook nou? Droogtehulp vir die soustrein ryers?

SNEL ·

Ek kan nie glo dat iemand so laag kan daal om n boer, wat juis teen die grond is oor die droogte en n swak oes, nog so n rat voor die oë te draai en geld van hulle te beroof nie. Dis laag en gemeen. Wens hulle wil of kan die skurke vang. Dis nou behoorlik om op iemand te trap wat reeds lê.

Paul ·

Ek het min simpatie vir enigiemand wat val vir so ‘n 419-skema. Jy weet mos dis nie hoe die wêreld werk nie. Niemand sê “Ek wil graag vir jou tien appels gee, maar voordat ek dit kan doen, moet jy eers vir my een appel gee!” nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.