Verskeie boere het Maandagmiddag gehelp om drie verdagtes aan te keer wat kort vantevore na bewering ʼn 75-jarige vrou in haar huis op ʼn plaas aangeval het.
Lt.kol. Amanda Funani, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die voorval het Maandag omstreeks 12:00 naby Swartruggens in Noordwes plaasgevind.
Die vrou was volgens Funani alleen in die kombuis toe drie mans, met messe gewapen, haar oorval het.
“Hulle het geld geëis. Die verdagtes het van die toneel gevlug met kontant, selfone en ander huishoudelike items. Die vrou kon daarin slaag om een selfoon by haar te hou,” het Funani gesê.
Die vrou het toe volgens Funani haar man gebel en hy en ander boere in die omgewing het vinnig gereageer en kon daarin slaag om drie verdagtes aan te keer.
Die verdagtes, tussen 28 en 40 jaar oud, is aan die polisie oorhandig. Volgens Funani is niemand tydens die aanval beseer nie.
Die verdagtes sal Woensdag in die Swartruggens-landdroshof verskyn op aanklagte van huisroof.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
16 Kommentare
Wel gedaan en medaljes vir hierdie boere!!!
Baie dankie aan die boere wat so vinnig opgetree het !!!!
Pragtig, man pragtig dis wat ons wil sien.
So ironies dat daar pertinent genoem word dat niemand in die ‘voorval’ beseer is nie.
Goedso