Vier verdagtes het Donderdag vlugtig in die Ventersdorp-landdroshof in Noordwes verskyn nadat hulle vroeër vandeesweek op heterdaad betrap is toe hulle tien skape van ʼn plaaslike boer op sy plaas buite die dorp wou steel.
Simphiwe Sehumelo (20), Anthony Moosa Kock (31), Stone Daniël Matabela (30) en Itumeleng Modisane (19) bly in aanhouding en moet op 5 Augustus weer in die hof verskyn.
Kol. Adele Myburgh, woordvoerder van die polisie, het gesê die boer het Maandag omstreeks 06:30 op die diewe afgekom waar hulle besig was om van sy skape in hul Toyota Corolla te laai.
Die verdagtes het in hul motor gespring, weggejaag en nege vasgebinde skape, wat in die stadium in die lang gras weggesteek was, net so agtergelaat. Die boer het die verdagtes agternagesit terwyl nog plaaslike boere se hulp ontbied is.
Die boere het paaie in die omgewing versper en so die verdagtes se motor eindelik voorgekeer. Die verdagtes het egter die hoofpad verlaat en op ʼn dienspad begin ry wat al langs die spoorlyn naby die Ratsegai-treinstasie loop.
Die verdagtes se motor se onderstel het tydens die jaagtog vasgesteek en die motor kon nie verder beweeg nie. Die motor se bande het steeds gedraai en as gevolg van die wrywing wat dit veroorsaak het, het die motor aan die brand geslaan.
Volgens Myburgh het die verdagtes in die stadium geen ander keuse gehad as om die voertuig agter te laat en te voet te laat spaander nie. Een van die verdagtes is voorgekeer en aan die polisie oorhandig wat intussen na die toneel ontbied is.
Die skaap waarmee die verdagtes aanvanklik weggejaag het, kon ook betyds uit die brandende voertuig gered word, het Myburgh gesê. Die nege ander skape in die veld is ook sedertdien aan die boer terugbesorg.
Die drie ander verdagtes is Dinsdag in die Tshing- informele nedersetting in hegtenis geneem.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
25 Kommentare
Ja hulle is van hul koppe af
Dit is skrik-wekkend
Ek hoop daardie skaap se naam sal van nou af “Lucky” wees. En hy moet tog maar asb van ouderdom doodgaan!
Kwagga Kwagga
Die kwagga is ‘n uitgestorwe subspesie van die vlaktesebra in die sebrafamilie,[2] wat eenmaal in groot getalle in Suid-Afrika se gewese Kaapprovinsie en die suidelike dele van die Oranje-Vrystaat voorgekom het. Dit kon onderskei word van ander sebras deur die kenmerkende swart en wit strepe slegs aan die voorkant van die lyf. By die middellyf verdof die strepe met die donkerder, tussenstreepspasies wat wyer word, en dan volg die agterkant wat eenvoudig bruin vertoon. Die naam is afgelei uit die Khoikhoi-woord vir sebra, wat die klank van die kwagga se roep naboots. Die enigste lewende kwagga wat ooit gefotografeer is,… Lees meer »