Boere van Vlakfontein-plaas raadop met krag

Die Vlakfontein-kraglyn is vervalle weens die munisipaliteit se versuim van instandhouding (Foto: Verskaf)

Inwoners en boere wat op kleinhoewes op die Vlakfontein-plaas digby Vryburg woon, sit vir die afgelope week saans sonder krag. Dit is weens die Naledi- plaaslike munisipaliteit se versuim om die kragverbinding, wat elektrisiteit aan dié gebied voorsien, in stand te hou. Hierdie kraglyn is vervalle en inwoners vra al byna drie jaar lank dat die munisipaliteit die herstelwerk daarvan prioritiseer.

Inwoners word nou genoop om selfonderhoudend te wees omdat die munisipaliteit se kragtoevoer so wisselvallig is. Hulle het aan Maroela Media gesê die gebrekkige elektrisiteitstoevoer plaas die lewens en eiendom van die inwoners in gevaar. Sonder ʼn betroubare elektrisiteitstoevoer word landbouproduksie ook negatief beïnvloed, wat ʼn direkte uitwerking op voedselsekuriteit het.

Die Demokratiese Alliansie (DA) het aan Nelson Mongale, die direkteur van tegniese dienste van die munisipaliteit en ook tans die waarnemende munisipale bestuurder, ʼn dringende versoek gerig om die saak te ondersoek. Mongale het op versoek van plaaslike boere onlangs ʼn inspeksie van die kraglyn gedoen.

Hendriëtte van Huyssteen, DA-raadslid van die Naledi-munisipaliteit, sê dié munisipaliteit het bloot verskeie pale wat weens jare lange verwaarlosing en ʼn gebrek aan onderhoud beskadig is, verwyder. Dit het egter nie die probleem opgelos nie, aangesien die kabels in die middae tydens sterk winde rondgewaai word en kortsluitings veroorsaak wat dan inwoners sonder elektrisiteit laat. Dit is omdat daar nie meer genoeg pale is om die kabel stewig en vas te hou nie.

Een van die kragpale op die Vlakfontein-plaas (Foto: Verskaf)

“Die behoorlike herstel van die kraglyn moet ʼn prioriteit wees. Die DA in Naledi sal hierdie projek fyn dophou om te verseker dat ʼn veilige elektrisiteitstoevoer so gou moontlik ingestel word,” sê Van Huyssteen.

Betsie Smith, ʼn boer se vrou wat op ʼn gedeelte van die Vlakfontein-plaas boer, sê hulle het al derduisende rande bestee aan sonkrag om hul huis en boerderyaktiwiteite aan die gang te hou. Dit volg nadat twee transformators in 2019 op twee van hul kleinhoewes gebreek het. Die munisipaliteit sê bloot hy het nie geld om dit te vervang nie. Die Smiths het ook groot skade opgedoen met toestelle wat weens die gebrekkige kragtoevoer gebreek het.

“Toe die transformators gebreek het, het dit baie druk op ons kragstelsel geplaas omdat twee fases van die driefase-kragstelsel ook in die proses die gees gegee het. Die enkelfase-kragstroom was te swak om al ons toestelle te trek. In die proses het ons koelkamer, vrieskaste, yskaste en waterpompe uitgebrand,” vertel Smith.

Die Smiths moet nou staatmaak op sonkrag, wat ook net ʼn eenfase-kragstelsel is. “Ons moet in die aande ons vrieskaste en geisers afskakel omdat die sonkrag se battery nie voldoende is om als te dra nie.”

Die munisipaliteit het Smith wel twee weke gelede in kennis gestel dat nuwe transformators eindelik aangeskaf is, maar hulle het nie die nodige toerusting om die transformator weer te koppel en aan die werk te kry nie.

Smith sê afgesien van die groot finansiële verlies is hul veiligheid ook in gevaar.

“Weens die kragonderbrekings is dit nou saans buitekant pikdonker. Ons kan ook nie ons ligte buitekant meer aanskakel nie omdat dit te veel van die sonkrag se battery trek. So, ons hoor die honde saans blaf, maar kan nie sien wat aangaan nie.”

Smith sê hulle het gelukkig ʼn baie aktiewe buurtwag wat in hul omgewing patrolleer.

JD van der Vyfer, ook ʼn grondeienaar op die Vlakfontein-plaas, sê van die kragkabels hang los op sy plaas en hou ʼn groot gevaar in vir mens en dier. Hy het al een van sy beeste verloor wat só doodgeskok het.

Sy boerderyaktiwiteite word ook weens die gebrekkige elektrisiteit beïnvloed.

Van der Vyfer sê egter sy grootste vrees is dat die wind die pale kan omwaai wat dan ʼn veldbrand kan veroorsaak.

“Dit is ʼn katastrofe wat wag om te gebeur. Daar is ʼn moontlikheid dat die wind in die wintermaande die pale kan omwaai en wanneer daardie kabels op die droë gras val, kan dit ʼn geweldige veldbrand veroorsaak,” vertel Van der Vyfer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pieter ·

Dalk moet die boere maak soos wat die boere in Koster en Swartruggens gemaak het en ‘n ultimatum stel vir die herstelwerk, en indien dit nie nagekom word nie, die herstelwerk daarvan in hulle eie hande neem

Frank ·

Boere se werkers/TLB’s moet gate grawe, pale moet vervang word, so ook die isolators op die pale. En dit oor ‘n geskatte afstand van 100km bv? Ja, dis mooi woorde maar nie prakties nie. En so moet die boere ook nog kos op die tafel sit vir die res van die land. Boere rondom Potgietersrus (sien berig elders op MM) sit met presies dieselfde ding, eintlik nog baie erger.

Kokerboom ·

Goeie raad Pieter..ons sal self. ‘n Klasaksie teen betrokke minister vir plaaslike owerhede is LANKAL “overdue”!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.