‘Boere verloor nou vinnig hoop’

Foto: Gift of the Givers

Boere in die Noord- en Oos-Kaap is “totaal hulpeloos en vinnig besig om hoop te verloor” terwyl hulle moet toekyk hoe hul vee te midde van die vernietigende droogte vrek.

Imtiaz Sooliman, hoof van die hulpverleningsorganisasie Gift of the Givers, het Dinsdag gesê boere in die twee provinsies gaan maande lank al gebuk onder die aanslae van die knellende droogte. Volgens Sooliman is hy bewus van ʼn boer wat homself twee maande gelede te midde van die swaarkry geskiet het.

“ʼn Boer en sy vrou het onlangs 157 kalfies probeer red wie se ma’s te swak en ondervoed was om na hulle om te sien – slegs agt van die kalfies het oorleef. Die boer wou selfmoord pleeg,” het Sooliman gesê.

Die kans dat nog boere tot hierdie desperate besluit kan oorgaan, is ʼn werklikheid. “Die boere het breekpunt bereik en is nie in staat om vir hul diere en gevolglik vir hul gesinne te sorg nie. Hulle moet toekyk hoe hul gesogte diere elke dag voor hul oë kwyn. Hulle is heeltemal hulpeloos en is vinnig besig om hoop te verloor. Die diere het desperaat voer nodig. Die droogte het al die weiding verwoes.”

Sooliman het gesê Gift of the Givers het met behulp van Elizabeth Visagie, ʼn vrywilliger wat die welstand van die boere op die hart dra, ʼn tipe inbelsentrum op die been gebring in ʼn poging om voer vir die boere in te samel. “Vrygewige boere van oor die hele land skenk voer vir dié wat dit desperaat nodig het en dit word dan regverdig verdeel.”

Foto: Gift of the Givers

Gift of the Givers het die vervoer van verskeie vragmotors gefinansier wat honderde ton voer moet aflewer. “Ons oorweeg dit nou om ʼn vragmotor en sleepwa aan te koop wat spesifiek gebruik sal word om hierdie projek nog verder uit te brei.”

Sooliman het gesê die voer wat geskenk word, sluit sojabone, gras, mielieblare, lusern en ander tipe voer in. Boorgate, watertenks, JoJo-tenks en die aanplant van nuwe voer vorm alles deel van die hulpverlening. Baie van hierdie ingrypings word deur Gift of the Givers gefinansier.

Springbok, Eksteenfontein, Aberdeen en die omliggende gebiede is steeds in kritieke nood, het Sooliman gesê. Hy het vragmotor- en sleepwa-maatskappye wat kan help met die aankoop van die vragmotor en sleepwa of enige ander maatskappye wat op ʼn mede-handelsmerkbasis hiermee wil help, genooi om die organisasie te nader.

Hulp kan ook verleen word deur persoonlike betrokkenheid by die projek of deur middel van finansiële skenkings. Besoek Gift of the Givers se Facebook-blad vir meer inligting en bankbesonderhede vir geldelike bydraes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Vermeende ·

My gebede is vir die boere wat geknak gaan in hierdie droogte. Mag die Vader ons boere uitkoms stuur soos net Hy kan.

fred ·

Die droogte daar is geweldig erg en hartverskeurend. Ek as boer in die Vrystaat het laas jaar net so erg deurgeloop, genadiglik het ons darem op kersdag van 2016 reen begin kry. Wat laas jaar se situasie amper erger gemaak het was die feit dat vee pryse onder druk was agv die vermindering van vee. Ons kon eenvoudig nie ons vee “weggee” nie en moes maar skuld maak en voer aankoop. Nou is vee- en vleispryse die hoogte in, as die droogte geteisterde boere nou hul vee gaan verkoop sal hulle ten minste baie goeie pryse kry. Maar ek as boer weet verkoop is nie so maklik nie. Hoop daar kom gou uitkoms vir daardie streke – ons dink aan julle, ook in ons gebede.

Eish ·

Dit is so hartveskeurend. Te midde van n baie onvriendelike regering hierdie uitmergelende droogte. Mag die boere genade op genade ontvang.
Dis met dankbaarheid dat mens verneem van Gift of the givers se goeie werk.

Naaste ·

En die regering maak dit nie juis makliker nie, hulle gee nie om vir boere nie, voorheen het boere (omdat hulle kos aan die hele land verskaf) droogtehulp van die staat gekry. Die STAAT voel vere vir enige boer, hulle sê hulle sal hulle kos INVOER<hulle het nie die boere nodig nie, hoe meer boere nou hulle plase verkoop en ontslae raak van hulle plase hoe makliker gaan hulle grondonteieningsprogram uitgevoer word .. hierdie word alles met 'n plan gedoen. Hulle weet die boere sukkel maar hulle wil hulle van die plase afhe. Ek kan egter nie help om te wonder hoe die opkomende boere gaan sukkel as geharde boere so swaarkry nie.

Ouma ·

Die Regering hét nie meer geld nie. Alles is gesteel en in oorsese banke! Vir die boere wat moedeloos is wil ek sê: Dit is verstaanbaar. Wie sal nié wees as jy deur sulke donker dieptes moet gaan nie. Maar ek pleit: moénie jou eie lewe neem nie! Die reën sal nie vir áltyd wegbly nie. Een van die dae is alles weer groen en mooi op die plaas, en dan het jou geliefdes jóu verloor! Ek gló die Here sál uitkoms bring totdat dit weer nat en groen is: Ons sien dit nou met Gift of the Givers wat besig is om boere te help. Wat ek hoop is dat dje hele land almal “givers” sal word en help om ons kosvoorraad te verseker. Almal hét nie baie geld om te gee nie, maar selfs net R10 kan ‘n verskil maak as álmal help! Ons bid vir julle dat julle jul krag in die Here sal vind en sal moed skep om aan te gaan.

Lioe ·

Absoluut niks te doen met opkomende vs geharde boere nie, jy kan 1 dag boer en net so erg swaarkry soos n man wat 50jaar boer, ondervinding help jou niks in droogte nie.

MissDemeanor ·

Vir die van julle wat nie weet nie. Hierdie ongelooflike vrygewige mense wat Gift of the Givers begin het is Moslems. Daar is deesdae soveel anti-Islam gevoelens in die wereld…en dit is onregverdig. Die mense help so baie, en hul help die boere ook. Dit maak my hart warm.

Dean ·

Dankie Gift of the Givers..en Elizabeth..julle doen masiewe werk..Gods rykste seën oor julle. VREDE

Candice ·

Onsse Vader dankie vir die mense wat die boere help. Dink an julle, asb Here help die boere asb ons het hulle so so nodig!! Ons bid vir julle.

m ·

Ons vertrou die reen sal binnekort begin val en die droogte breek.

Yolandi ·

My trane lê vlak. Knop in die keel wonder mens hoekom ons boere al hierdie nare dinge oorkom. Ons gebede is by ons boere en ons mense.

tokkie ·

Hoop en bid dit gaan binnekort reen. Sterkte al die boere van SA. Julle verdien dit nie.

Liamari ·

Ek wonder of die massas wat huil oor grond en die idee het dat grond gelyk is aan rykdom ooit weet wat dit werklik verg om ‘n boer te wees? Ek dink nie so nie!

Dina ·

Sterkte aan elke boer. Ps 91:1, 2. Lees ook Jakobus 5:16-18. Kyk op en glo. Fokus op Hom wat oor ons almal laat reën, goed en sleg. Fokus op Hom alleen.

hannes marais ·

net vir NAASTE reghelp…die regering gee vir geen witmense om nie..dis nie net plaasboere wat swaarkry nie,gaan kyk hoe lyk dit in wit plakkerskampe,daars weinig of niks hulp vir dai mense ook nie…ons as witvolk is in nood,plaasboer,dorpenaar,stedeling…mag GOD uitkoms bring vir ons almal mits ons as volk terug keer na hom toe

Johannes Meintjes ·

My voorstel is dat daar in diepte gekyk word na die staatskoffers om beter belastinghulpbronnebestuur vir ons land se landbouboere te verseker. Die jarelange geteem oor die skep van alternatiewe selfbestuur en selfbeskikkingstrukture moet haas gerealiseer word sodat alternatiewe kanale en vennote vir sake soos droogtehulp en alternatiewe ekonomie tasbaar en oortuigend behartig kan word. Ons akademisie en universteite of technicons en Onderstepoort kan moontlik ook innoverende tegnieke help ontwikkel om bv. 157 kalfies effektief in ‘n droogte te voed!

madels ·

Is daar enige ander organisasie wat die boere sal help buiten Gift of the givers?

jean ·

Thank you GIFT OF THE GIVERS, thank you, hope God bless all of you so much!!!!!

Annelise ·

Dit is darm vir my wonderlik hoe ons boere duisende rande se voer skenk aan ander boere wat hul nie eens ken nie. En nou nog die brande in die Oos-Kaap ook.
Dis dan so hartverskeurend ook dat hierdie vooraanstaande mense dan vermoor word en niemand help hulle nie.

SARIE VAN HEERDEN ·

As ons kyk hoeveel “grants” elke maand uitbetaal word kan ek nie glo dat geld nie beskikbaar is vir boere wat moet sorg vir ons kos nie! Dit terwyl boere nie net teen die elemente moet kophou nie, maar word een na die ander gemartel en uitgemoor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.