Boere vra oor begroting: Waar is ons ondersteuning?

(Foto: shameersrk, Pixabay

“ʼn Land kan homself nie uit skuld uit leen nie, hy moet homself daaruit presteer – en die 2024‑begrotingsrede skep vir Suid-Afrika ʼn dooie ekonomie. Ons staatskuld het met ons weggehardloop en dit kan nie meer onderhou word nie”. Só sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van die landbouorganisasie TLU SA.

Hy meen inwoners van Suid-Afrika is vuisvoos oor die regering se wanaanwending van fondse en korrupsie.

“Jaar na jaar word daar van Jan Alleman verwag om al hoe meer te betaal sonder dat hul enigsins daarby baat.

“Die begroting moet as niks minder as net ʼn instrument van die regerende party gesien word nie. Die begrotingsrede is veronderstel om ʼn uiteensetting te wees van hoe ons belastinggeld tot ons voordeel aangewend word. Dit is egter hoegenaamd nie die geval vir die landbousektor nie.”

Luidens die begrotingsrede is R6 miljard oor mediumtermyn toegeken om boere deur grondherverdeling en verblyfreghervormingprogramme te ondersteun. ʼn Verdere R27,7 miljard is toegeken aan landbou en landelike ontwikkeling.

“Ons vraag aan die regerende party is dus: Wat word gedoen met ons geld, en waar is die ondersteuning aan ons kommersiële boere?” vra Van Zyl.

“Ons land se begroting is veronderstel om ʼn omgewing te skep wat groei stimuleer deur geleenthede vir inwoners te skep om sakeondernemings te bedryf. Hiervoor het ons ʼn werkende infrastruktuur nodig. Ons word met elke begroting en in elke verkiesingsjaar beloof dat ons paaie en spoorweë aandag gaan geniet, maar tog sien ons nie ʼn verbetering nie.”

Hy meen as die fokus op ekonomiese groei is en om ʼn teelaarde vir nuwe besighede te skep, sal kwessies soos werkloosheid gepak word. “Dit sal ook beteken dat minder geld aan maatskaplike toelaes toegeken moet word.”

Minister Godongwana het sy toespraak afgesluit deur Suid-Afrikaners daaraan te herinner dat die hoofboodskap van die 2024‑begrotingsrede is dat die regering die beste maak met baie beperkte hulpbronne.

“TLU SA wil egter antwoord en sê as kundiges, en nie diegene wat ons in die situasie laat beland het nie, deurlopend fokus op groei en instandhouding, sou ons hierdie omstandighede kon vermy het.”

Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, sê ook die begrotingsrede het die publiek vanjaar net weereens aan die uitdagende makro-ekonomiese omstandighede waarin Suid-Afrikaners moet sake doen, herinner.

“Die agteruitgang van kern ekonomiese aanwysers is vir Agri Wes-Kaap ʼn blywende bekommernis gegewe die tekort aan daadwerklike planne en innoverende aansporings om die skip om te draai.

“Agri Wes-Kaap is oor die algemeen teleurgesteld in die begrotingsrede en is van mening dat die nodige fiskale konsolidasie nie gaan plaasvind nie.”

Strydom sê veral die verhoging in aksynsbelasting op alkohol met meer as inflasie, is teleurstellend.

“Die wynbedryf is nog in ʼn herstelproses na die impak van die Covid-19‑inperkings. Agri Wes-Kaap is daarom teleurgesteld dat die minister nie die volhoubaarheid van die wynbedryf in ag geneem het met die aankondiging nie.”

Agri Wes-Kaap verwelkom wel die aankondiging dat geen verhoging in die brandstof- of Padongelukkefondsheffing weer vanjaar sal geld nie. Dit is omdat brandstof een van die grootste insetkoste in primêre landbouproduksie is, asook ʼn enorme koste-komponent in die breër landbou-waardeketting.

Agri Wes-Kaap verwelkom ook die waarborgfasiliteit van R47 miljard wat die regering aan Transnet gaan verskaf om die entiteit se herstelplan te ondersteun en sy onmiddellike skuldverpligtinge na te kom.

“Ons glo dat hierdie waarborg tot die implementering van die vraglogistieke padkaart sal bydra wat die kabinet in Desember verlede jaar goedgekeur het.

“Dit is vir Agri Wes-Kaap ook positief dat dié waarborg met die voorwaarde kom dat Transnet op sy kernaktiwiteite moet fokus, en dat die entiteit privaatsektorvennootskappe moet instel. Agri Wes-Kaap glo dat privaatsektorvennootskappe ʼn stap in die regte rigting is om Suid-Afrika se toenemende onbetroubare logistieke stelsel te pak,” sê Strydom.

Die staat se voorneme om openbare infrastruktuurbelegging te ondersteun deur regulatoriese beleidsaanpassings en finansieringsinstrumente word ook verwelkom.

Wat elektrisiteitsvoorsiening betref, is Agri Wes-Kaap egter teleurgesteld dat daar nie daadwerklike planne op die tafel geplaas is nie. “Agri Wes-Kaap het verwag om veel meer te hoor oor finansiële aansporings vir die oprigting van selfvoorsienende kragverskaffing.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Marous ·

Hulle prop alles in hul eie sakke. Hoe anders gaan hulle die miljoener en selfs biljoener lewens style handhaaf . Dis nag.

skurweberg ·

Wil hulle nie he dat julle eers julle ander eiendomme by die see moet gaan verkoop nie? Hoe sal ons weet.

Gaitsigubib ·

Die miljoeners en biljoeners wat julle van praat koop wel plase, maar is nie boere nie. Boere verkoop op strepe hul plase as hul sulke kopers kry en julle gaan betaal vir kos dat jou oe traan. Dis nie baie “clever” om jouself so in die voet te skiet nie.

Christian J M ·

Boere — Ondersteuning ???
Nie van hierdie spul af nie !!!!!!!

Protea ·

Wonder ek ook. Dink nie daar word besef hoeveel impak boere in die land het nie. Ek dink hulle ken net van koop in die winkels, maar besef nie waar dit vandaan kom nie

piet ·

Voer meer voedsel in, dis goedkoper selfs met die hoe invoerbelasting. Ons boere maak ‘n killing met hul pryse.

Republikein in die Wes Kaap ·

Boere moet ruggraat kry. Staan op en veg terug.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.