Boeremag het glo toegang tot SAPD-infrastruktuur

Andre du Toit (middel), lid van die Boeremag ná sy skuldigbevinding in 2013 (Foto: ANA)

LP’s het Woensdag gehoor twee werknemers van die staat se amptelike inligtingstegnologie-agentskap (Sita) het kontak gehad met Andre du Toit, ʼn lid van die Boeremag, wat in 2013 skuldig bevind is op aanklag van hoogverraad.

Setumo Mohapi, uitvoerende hoof van Sita, wat rekenaardienste aan die staat lewer, het gesê die inligting het aan die lig gekom toe Sita ondersoek ingestel het oor bewerings van onreëlmatighede wat betref kontrakte van miljarde rand wat namens die Suid-Afrikaanse Polisiediens bekom is.

“Tydens ʼn ondersoek wat niks met [die Boeremag] te doen gehad het nie, het ons beslag gelê op rekenaars en toestelle van werknemers om ʼn forensiese ondersoek te doen. Ons het tydens dié ondersoek op die betrokke verhouding afgekom,” het Mohapi verduidelik.

Volgens hom was daar direkte e-posse tussen twee werknemers en Du Toit en lede van sy familie.

Een van die werknemers het bedank voor ʼn dissiplinêre proses afgehandel kon word en ʼn ander vrou is geskors.

Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, het gesê die polisie doen sy eie ondersoek oor die Boeremag-hoek, maar hy kan nie enige verdere besonderhede bekend maak nie. “Ek kan bevestig dat die inligting oor die Boeremag onder ons aandag gebring is, maar ek kan nie nou enige inligting deel nie, veral nie in die publiek nie.”

Maroela Media het vroeër berig Forensic Data Analysts (FDA), het op 4 April 2018 alle dienste vir die Suid-Afrikaanse Polisiediens opgeskort omdat hulle rekening nog nie sedert Desember 2017 vereffen is nie. Die parlementêre waghond oor openbare rekeninge (Scopa) het verlede jaar aan die bestuur van die polisie gesê FDA se rekeninge moet nie meer betaal word nie, as gevolg van ʼn kwessie oor die wettigheid van die kontrakte tussen die maatskappy en Sita, wat rekenaartoerusting namens die regering aanskaf.

Nadat FDA die noodsaaklike rekenaarstelsels afgeskakel het, het Sitole aan Sita opdrag gegee om dit weer aan te skakel en FDA-baas Keith Keating in die hof gedaag. Die geldigheid van die kontrak word nou deur Sita, die SAPD en die Nasionale Tesourie ondersoek.

ʼn Ondersoek duur ook voort om te bepaal of senior Sita-lede en polisiebeamptes betrokke was om moontlik onreëlmatig kontrakte toe te ken aan FDA en of dieselfde werknemers met die Boeremag verbind kan word.

Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het intussen gesê die blote feit dat die polisie en die staat se amptelike inligtingstegnologie-agentskap (Sita) binnegedring is, is skokkend en dien as bewys van die totale onbevoegdheid van die personeel wat die stelsel moet bedryf en beveilig. “Dit is ook verregaande van polisiekommissaris Khehla Sitole om sonder enige bewyse te sê die sogenaamde Boeremag het die stelsel binnegedring. Dit lyk na niks anders nie as ʼn rookskerm om die onbevoegdheid en onbekwaamheid by Sita te probeer verdoesel.”

Groenewald het bygevoeg die Ouditeur-Generaal (OG) het in sy ouditverslag vir die 2016/17-boekjaar reeds bedenkinge gehad oor die bevoegdheid van die staat se rekenaarstelsel wat luidens die verslag nie verbeter het sedert die vorige boekjaar nie.

“Die stelsel is in 2013 ook binnegedring toe ʼn kuberkraker toegang tot die polisie se databasis verkry het en sodoende die identiteit van 17 000 polisie-informante of ‘fluitjieblasers’ bekom het. Die minister van staatsdiens en administrasie het toe in antwoord op ʼn parlementêre vraag van die VF Plus gesê daar is ‘verskeie veiligheidsmaatreëls’ getref om toekomstige kraking te vermy. Dit blyk nou dat dit nie voldoende was nie.”

Volgens Groenewald moet Sithole aan die publiek verduidelik hoe dit moontlik is dat die staat inligting het oor wie sy mees geheime inligtingstelsel binnegedring het, maar tot nou toe niemand in verband daarmee in hegtenis geneem het nie. “Dit is ook insiggewend dat dr. Mohapi sê hy het die ‘Boeremag-kwessie’ by die Valke aangemeld vir ondersoek. Dit spreek vanself dat ʼn staat se eie veiligheidsagentskap ʼn aangeleentheid van hierdie uiters sensitiewe omvang sal ondersoek. Dit wil nou voorkom asof ook dié agentskap nie meer in staat is om ʼn ondersoek van hierdie omvang te doen nie.”

“Ons is besorg dat sensitiewe en sleutelpersone in die Sita en FDA op só vriendskaplike wyse met Andre du Toit kontak gehad het terwyl hy in die tronk is,” het DA-LP Tim Brauteseth gesê. “Ons is besorg dat daar moontlik ʼn verband bestaan tussen die tipe finansiering wat van Sita se kant en van die SAPD se kant gedoen is.” Hy het bevraagteken of die geld uit “hierdie onreëlmatige kontrakte” aangewend word om die Boeremag of Boeremag-gevangenes te finansier.

ANC-LP Vincent Smith het gesê die e-posse is kommerwekkend en kan nie geïgnoreer word nie. “Daar is mense wat met die SAPD werk, binne Sita en binne FDA, so duidelik moet daar inligting gedeel word. Dit laat die vraag ontstaan hoeveel presies weet hulle en hoe kan hulle stelsels aan- en afskakel wat noodsaaklik is vir die veiligheid van die staat? Dit kan nie geïgnoreer word nie. Dis nóg ʼn geval van staatskaping. Die Sita is die sentrale stelsel in die regering en as jy dít kaap, dan kan jy enige ander stelsel in die regering kaap.”

Lede van die Boeremag is skuldig bevind op aanklag dat hulle in 2002 saamgesweer het om verskeie bomme te plant om die land omver te werp en ʼn rasseoorlog te begin. Die lede, insluitend Du Toit en sy broer, is skuldig bevind en is tronkstraf opgelê.

African News Agency het die departement van korrektiewe dienste gekontak en wag nog vir reaksie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Johann ·

WHAHHHAAAAAHAHAHHAAAAAAA… BOEREMAG???????? Hoe kinnerlik belaglik esperaat KAN die ANC wees om aandag te wil aflei van hulle eie onbevowgdheid en verdeeltheid? En ergste is, die dom astrantheid dink ons wat beskik oor funksionele intelegensie GLO hulle?

zoom zoom ·

Die Guptas het hulle inligting sommer direk uit die perd se bek gekry en ook die staat beheer. En daar is niks aan hulle gedoen nie. Hoekom is almal nou verras en plaas die blaam op mense wat in die tronk is. Net n bewys van hoe onbevoeg ons sapd en inligting afdeling bestuur word.

Riette Pretorius ·

Die Boeremag nie bestaan nie tensy daar een of ander individu is wat hom- of haarself as die Boeremag bekendstel.
Ek vermoed dat daar verskuilde agendas is van mense wat valse aantuigings maak teenoor die voormalige sogenaamde ‘Boeremag’ individue. Indien enige van hierdie aantuigings werklik met enige van die voormalige ‘Boeremaglede’ verbind kan word, wat ek baie sterk twyfel, is dit ‘n individu wat iets in die mou voer in sy/haar eie kapasiteit en het niks met die sogenaamde ‘Boeremag’ te doen nie. Dit is baie meer waarskynlik om ʼn sameswering te wees van die mense wie hierdie aantuigings maak om die sogenaamde ‘Boeremag’ en sodoende ook die ware Boerevolk in Suid-Afrika te diskrediteer.

Al ·

Uiters lagwekkend! Die ANC hopeloos te paranoïd na verkeerde rigtings.
Hoe gaan hul die terrorisme (staatsgeboue en toerusting wat aan brand gesteek word) oproeriges en plunderaars en besetters vasvat? Hul moet leer om hul been by die regte boom te lig na hul n snuifreukie gekry het.
Shame.

Hennie Velsdsman ·

Hoe belaglik. 10 teen 1 ‘n heksejag teen die betrokke SITA personeel. Seker die enigste bekwames wat nog oor is.

Rosetta ·

lees die kommentaar hieroor op Boervin webwerf http:// boervin.org/2018/05/02/2-mei-2018- boervine-kommentaar-op-beeld-artike
l/

Koos ·

Ja-nee, hulle is darem vrekbang vir die “Boeremag”-strooipop. Vertel ons eerder van polisielede wat geldwaens roof en met R4’s mense vermoor. Of van JZ en sy ministers se bande met die Guptas…

Oom Kalahari ·

Watter Boeremag praat hul nou van, daar bestaan al vir jare nie meer so iets nie, maar wel ‘n Boere Volk. Die laaste wat daar ooit was is tot niet toe Mnr Eugene Tereblanche vermoor is.

Heksejag ·

Ons word almeer geteiken, vals beskuldig, sleggemaak deur ons eie regering. Hulle wil volksmoord hierdeur aan oedig, daarom moet oms die buiteland vra om ons te help om te vlug voor ons oorrompel gaan word.

Boervin ·

Teken asb die petisie dat julle AMNESTIE vir die Boerevolk se politieke gevangenes ondersteun. Hulle is reeds 16 JAAR lank onregmatig in die gevangenisse en die onreg soos beskryf in die bostaande artikel duur nogsteeds voort. Sien die petisie op www . boervin . org

Buffel ·

Wat ‘n grap die polisie en boeremag is altwee ewe useless. Geen skade hier nie….

PLP ·

Watse Boeremag, die sogenaamde Boeremag lede is jare terug al gevang en gevonnis. Het Sitole nie geweet wat met die Boeremag lede gebeur het nie. Sitole is blykbaar die nuwe Rip van Winkel, en het die afgelope 20 jaar geslaap. Nou beskuldig hy die “Boeremag” vir sy onvermoe om sy eie werk te doen. Nou moet die tenderproses ondersoek word. Belaglik dit is net om van FDA ontslae te raak. Sitole hou op om jou skouers op te trek en te se ek weet nie, doen n slag die werk waarvoor jy aangestel is, as jy nie kan nie laat iemand met die nodige kennis dit doen

hendrik ·

Een van daai ouens het n spy movie gekyk en in sy kop is hy nou James Bond.

BOLLIE ·

Ag dis snert, noudat die Boeremag die ONREGVERDIGHEID van hulle verhoor en hulle ongepaste straf aan ander lande versprei en almal sien hoe onregverdig hulle behandel is, nou skielik het hulle toegang tot Sita se stelsels .. BELAGLIK man .. die BOEREMAG ouens moes reeds vrygelaat geword het hulle HET hulle straf uitgedien .. hou op STORIES opmaak om die Boeremag sleg te maak . dit is JULLE Sisteme wat pateties is .. LAAT HULLE VRY en klaar, nie een van hulle het ‘n skoot geskiet OF TROKKE aan die brand gesteek of bestuurders uit die trokke geruk en doodgebrand nie .. KOMAAN . wees regverdig.

Anoniem ·

Die Chinese beskik oor die tegnologiese infrastruktuur en raamwerk om toegang tot AL ons land se informasie te kry en hulle het dit reeds en die Boeremag het kwansuis “toegang tot die SAPD se infrastruktuur”? Wie probeer nou vir wie vermaak?

Marinda ·

Hahahaha, iemand moet seker die skuld kry. Hahahaha.

Maar regtig? Watse wolhaar storie is die?

Casper Labuschagne ·

Ek sou eerder raai dat dit maar ‘n rookskerm is sodat Sita nie vir FDA hoef te betaal nie.

Riette Pretorius ·

Casper, ek sou eerder se hulle wil n klomp vliee met een slag slaan. Hulle kan eenvoudig net nie die Boeremag wat al 16 jaar gelede al totaal en al ontbind het uitlos nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.