Boervrou bly koelkop tydens plaasaanval

Marieta Groenewald (Foto: Verskaf)

“Ek het van oomblik tot oomblik geleef en geweet ek moet nou die regte ding doen. Ek het probeer koelkop bly.”

Só vertel die boervrou Marieta Groenewald (67) wat Sondag helder oordag deur ’n jong man op haar plaas tussen Ficksburg en Clocolan in die Vrystaat met ’n vuurwapen gekonfronteer en vir amper ’n uur lank aangehou is. Sy het die man geken.

Groenewald was Sondagoggend alleen tuis op hul plaas Arendskop.

Sy het die oggend omstreeks 10:15 in die eetkamer in die plaashuis gesit en met haar dogter, Magriet (40), wat in die Kaap woon, oor die telefoon gesels. Dit is toe dat die man die vertrek binnegestap het. Hy het ’n 9 mm-pistool by hom gehad.

“Toe hy by die kamer instap, kon ek dadelik die wreedheid in sy gelaat sien. Toe hy nader kom, kon ek in sy oë sien dat hy hier is om my dood te maak,” vertel Groenewald.

“Hoewel hy ’n masker en ’n keps opgehad het, het ek hom herken. Sy pa het jare by ons gewerk en hy het omtrent tien jaar self op die plaas gewoon en by ons grootgeword.”

Die man het die vuurwapen op Groenewald gerig en haar beveel om die telefoon neer te sit. Haar dogter was nog aan die ander kant van die foonverbinding.

Sonder om af te lui, het Groenewald die man se naam genoem en in Sotho vir hom gesê: “Wil jy my nou doodmaak?”

Die man het die telefoon uit Groenewald se hand geruk en doodgedruk. Hy het nie besef dat sy besig was om met iemand oor die telefoon te praat nie.

Magriet, wat Sotho verstaan, moes die woorde gehoor en begryp het dat haar ma in die moeilikheid is. Sy het haar broer, Johan (38), wat in daardie stadium op die buurplaas was, gebel en in kennis gestel dat alles nie pluis is nie.

Die man het R10 000 by Groenewald geëis en beveel dat sy die kluis vir hom moet oopsluit.

“Johan moes die buurtwag en omliggende boere intussen geroep het, want net toe ek en die man op pad was na die kluis toe, het mense op die tweerigtingradio in die huis verwoed begin praat. Hulle het oor my situasie berig gelewer.”

Die man het Groenewald aangesê om op die radio te sê dat alles in orde is en dat daar geen moeilikheid op die plaas is nie. Sy moes ook sê dat sy in Ficksburg is vir die dag.

Johan het nie geglo dat sy ma in Ficksburg is nie en het gesê dat hy plaas toe gaan ry.

“Ek dink die man het toe begin senuweeagtig word en dis toe dat hy my by die bakkie indwing en beveel om te ry. Ons het in Marquard se rigting gery.”

Johan en van die ander boere het hulle iewers op die pad begin agternasit. Hulle het heeltyd oor die radio met mekaar gekommunikeer en Groenewald kon die gesprekke deur die radio in die bakkie volg.

“Die man het my gevra om hulle te vra om te stop en om te draai. Ek het gesien hy is ernstig en dat hy nie sal skroom om my te skiet nie.”

Die boere het teruggeval, maar hulle in ’n latere stadium weer agternagesit.

Die man het Groenewald ook gedreig indien die polisie hom gaan vang, is daar ’n hele klomp mans wat na die plaas sal terugkeer.

Groenewald sê sy het heeltyd met die man in Sotho gepraat om so tyd te wen en hom kalm te hou.

“Ek het hom ’n paar keer gevra waarom hy my wil doodmaak. Hy het vir my gesê hulle sukkel en het nie geld nie en dat ek nie die enigste boer is wat hulle gaan teiken nie.

“Ek het vir hom planne begin voorstel hoe hy op ’n eerlike wyse geld kan verdien.”

Die man het Groenewald tot by die teerpad laat ry en toe gevra om te stop. Hy het gevra dat sy R5 000 in sy bankrekening moet oorplaas, maar daar was nie internetopvangs nie. Hy het toe beveel dat hulle Marquard toe moet ry.

Op pad na Marquard het ’n vragmotor van voor af aangekom en die man het Groenewald aangesê om die vragmotor te laat stop. Sy het haar ligte vir die vragmotorbestuurder geflits.

“Genadiglik het die vragmotor gestop en die bestuurder het uitgeklim. Hy wou weet of alles in orde is. Die jong man het die bestuurder gevra of hy ’n saamrygeleentheid kan kry en hy het in die vragmotor gespring.”

Die man het iewers langs die pad uit die vragmotor gespring en gevlug. Hy is later by ’n vulstasie in Marquard voorgekeer en in hegtenis geneem.

Die man sal na verwagting later die week in die landdroshof in Clocolan verskyn.

“’n Hoër Hand het vir seker in die situasie ingegryp. Dit was ’n wonderwerk dat my dogter my kon hoor en my seun in kennis kon stel. Dit was ook ’n wonderwerk dat die vragmotorbestuurder stilgehou het.”

Groenewald sê as die boere nie oor die tweerigtingradio begin praat het nie, sou die man haar al in die huis doodgeskiet het. “Ek vermoed sodra ek die kluis vir hom sou oopsluit, sou hy my net daar en dan geskiet het. Sy doel was om my dood te maak.”

Dit was die langste uur van haar lewe en die situasie het soos ’n rolprent voor haar afgespeel.

“Ek het besef dit is egter nie ’n rolprent nie, maar die realiteit. Ek het nog nooit in my lewe in die loop van ’n geweer vasgekyk nie. Dit is ’n verskriklike gevoel om te weet ek is alleen, en daar is niemand wat my kan help nie.”

Sy is dankbaar vir die boere, buurtwag, plaaswerkers en polisie wat saamgewerk en heeldag gespook het om seker te maak dat sy veilig is.

“Almal het saamgewerk en gebid vir my veiligheid. Daar was welwillendheid van die polisie en ook goeie kommunikasie onder almal.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Dries ·

Hierdie gebeure het nie te ver van Senekal plaasgevind nie, Ek wonder of hierdie aanvaller ook by die hof in Senekal was om saam met die EFF staatseiendom te beskerm. Klink of hy heelwat het om te vertel, as daar reeds ‘n groep mans gereed staan om die plaas aan te val indien hy gearresteer word.

Rudolf ·

Dink ook die verdagte moet bietjie indringend ondervra word.

Magda ·

Ek dink daar moet dieper in die EFF Party gekrap en ondersoek word, EK GLO dat hulle al die plaas aanvalle reel met hulp van binne in die regering. Begin by die EFF.

Niklaas ·

Ons is almal bly dis nie nog ‘n plaasaanval wat in ‘n sterfte eindig nie. Dis ‘n verligting dat sy gered is.

Natasha ·

So dankbaar Magriet is veilig!!! Waar is Cele nou met al sy bewerings dat die polisie gaan ingryp? Die aanvalle raak al hoe meer prominent en die wreedheid word al erger en erger. Hulle gaan nie meer met die doel om te roof nie, maar met die doel om te moor.

FM ·

Cele poog om die Zondo kommissie van sy rug af te kry. Hy het nie tyd om aan ons probleme te spandeer nie

Genis ·

Malema sing dan kill the Boer kill the Farmer, dis n feit dat hulle dit augestreer… Iemand sal hier net n standpunt moet in neem… Kom Gerrie Nel vat n tyd bietjie vas!

gpsa ·

So bly sy is OK.
Baie trots op ons boere vir hoe hulle mekaar help en komminikasie stelsels het wat goed funksioneer. Hulle kom al ‘n ver moeilike pad en het baie verbeter.

Ook bly sy het gevra wat sy motief is, geld. Wie weet of dit sy enigste motief is? Als kom neer op te veel mense vir ons ekonomie. Swak grens beheer, te veel uitlanders, swak reg stelsel en n regering wat niks doen vir werkskepping nie.

Dink ook nie dat geld altyd die motief is nie.

Mieke ·

Beslis nie. Hy het dan juis gedreig met ander wat regstaan vir ‘n verdere aanval op die plaas, sou hy gevang word!!

Misky ·

Dankie Vader dat Jy Jou Hand oor die tannie gehad het, amen. Ons boere moet wakker wees – die duiwel se trawante is los om ons

Juls ·

Bose mense, met ‘n absolute haat binne hulle wat nou aanhoor dat hulle leiers sing “kill the boer”. Die wat DALK nog sou skroom of erens binne hulleself ‘n greintjie moraliteit oorgehad het word nou finaal aangehits om te moor.

Alta Alleman ·

So bly dit het n gelukkige einde…dit kon so anders en tragies geeindig het. Dankie dat jy kop gehou het tannie.

Althes ·

Dankie Here dat U ook ñ beskermende hand oor haar gehou het. Dis ñ verligting dat dit nie ñ tragedie is nie.

Mariana ·

Ons land brand, letterlik en figuurlik. Dit sal nooit stop nie. Nie voor als nie uitgewis is nie. Mense met verstand doen nie sulke goed nie.

Casper ·

Natasha,net ‘n regstelling,Magriet is Marieta se dogter en sy was in die Kaap en geensins in gevaar nie.So bly haar geloof het haar geared.

Blikkies ·

Jy bly op ‘n plaas, wat min van ons beskore is, Jy geniet die uitsigte vanaf binne en buite jou huis, nou moet jy nog waaragtig dag en nag agter Slot en Grendel bly vir jou eie veiligheids. Dit is nie regverdig nie…

LiveAndLetLive ·

Hy het 10 jaar op die plaas gebly, sy Pa daar gewerk, en dan kom hy terug om te moor, killing the hand that feeds you, in die land is dit n instelling

Diva ·

Cele en sy clowns seker vakansie na hy Senekal besoek het…. Need a break.

Jaco ·

“Hy het vir my gesê hulle sukkel en het nie geld nie”
Dis 26 jaar ná apartheid. 26 jaar van regstellende aksie én BEE. Waarom sukkel die rasgenote van SA se regering dan nog steeds? 26 jaar was tog sekerlik meer as genoeg om al die “ongelykhede” van die verlede ongedaan te maak.

Johannes Andreas ·

Kom ons stel 26 jaar in historiese perspektief. Hoe het SA daar uitgesien in 1948 ná die Groot Depressie van die Dertiger jare en die naloop van WW2 in die Veertigs? Vergelyk dit met hoe die land en ekonomie 26 jaar daarna gelyk in 1974. En weer 26 jaar later met die draai van die Eeu in 2000. Praat met jou ouers en grootouers. Vergelyk dan waar ons vandag staan en wat het oorgebly. Vertel nou weer die storie van hoe ons dan kwansuis nou beter af is as toe. Kyk of jy jouself kan oortuig. Regtig. Probeer hard……

TO ·

Dankie Jesus vir u teenwoordigheid en dat u elke sekonde saam met hierdie vroutjie was, aan U al die eer

Cornelius ·

Ek is bly sy is ok. Definitief genade van Bo wat haar gered het.

Magda ·

Vader baie dankie dat U haar beskerm het net U kon haar red en U het. Ek loof en prys U Naam!!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.