Boervrou dood aanvaller

plaashek-pexels

(Argieffoto: Pexels)

’n Vermeende plaasaanvaller is dood nadat ’n Vrystaatse boer se vrou hom Donderdagaand uit noodweer op die egpaar se plaas in die omgewing van Vrede geskiet het.

Die boer se vrou het vermoedelik nog ’n aanvaller tydens die voorval gewond, maar dié het op die vlug geslaan en word nou gesoek.

AO Mmako Mophiring, woordvoerder van die polisie, sê die egpaar het omstreeks 23:45 gelê en slaap toe die boer van ’n geluid in die huis wakker geskrik het.

Die boer het gaan ondersoek instel en hom teen vyf gewapende aanvallers in die plaashuis vasgeloop.

’n Stoeiery tussen die boer en een van die aanvallers het gevolg terwyl die boer na sy vrou om hulp geroep het.

Dit is toe dat sy haar man met ’n vuurwapen vanuit die slaapkamer te hulp gesnel en skote afgevuur het. Een van die verdagtes is noodlottig gewond.

“Nog een is glo gewond, maar het ontsnap,” sê Mophiring.

Die oorblywende vier verdagtes het ná die skietery op die vlug geslaan terwyl die egpaar hospitaal toe geneem is vir mediese behandeling.

Luidens berigte is die boer se vrou self tydens die voorval gewond. Mophiring kon dit egter nie aan Maroela Media bevestig nie.

‘n Saak van moord en twee sake van poging tot moord word wel ondersoek.

Polisiebeamptes en boere van die omgewing het Donderdagaand na die aanvallers gesoek, maar die soektog het niks opgelewer nie.

Die polisie doen nou ’n beroep op mense om enigiemand wat moontlik met ’n skietwond in die hospitaal opgeneem is of tuis verpleeg word by die polisie of Stop Misdaad by 08600 10111 aan te meld.

Die berig is gewysig sedert dit aanvanklik gepubliseer is. – RED.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Swerwer ·

Pragtig! Nou kan daar gesien word dat ons nie langer hul nonsens gaan duls nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.