Boervrou tydens Standerton-plaasaanval aangerand

Argieffoto: Reint Dykema

Argieffoto: Reint Dykema

Beverley Archer, ʼn 70-jarige boervrou, is Donderdagmiddag op haar gesin se plaas naby Standerton in Mpumalanga deur vier gewapende mans oorval, aangerand en beroof.

@inkMedia, ʼn plaaslike mediahuis, berig Beverley is by die plaashek ingewag nadat sy hul huiswerkers gaan aflaai het. Haar man, Clive, was ten tye van die aanval in Secunda besig met aflewerings.

Vier onbekende mans het voorgegee dat hulle voertuigprobleme het kort voordat hulle haar oorval en na die huis geneem het.

Hulle het Beverley in die huis in gedwing en aangedring op vuurwapens en geld. Sy het aan hulle gesê daar is nie.

Die aanvallers het haar aangerand en in die studeerkamer vasgebind, waarna hulle die huis geplunder en huisware en Beverley se selfoon geroof het.

Die aanvallers het met hul eie voertuig, ʼn swart Golf met getinte vensters, en die Archer-egpaar se bakkie, ʼn enkelkajuit Ford Ranger (2004-model) met die registrasienommer DDL 574 MP, van die toneel gevlug.

Beverley het haar los gewikkel en dadelik na haar skoondogter, Anne-Marie Archer (39), se huis op dieselfde werf gehardloop.

Anne-Marie het ná die voorval aan @inkMedia gesê sy was heeltyd onrustig en het gedurig by die venster uitgeloer aangesien haar skoonma nie gewoonlik so lank wegbly wanneer sy die huiswerkers gaan aflaai nie.

“Die skurke moes met die bakkie weggekom het toe ek vir ʼn rukkie besig was met iets en nie deur die venster gekyk het nie,” het Anne-Marie gesê.

Sy het gesê sy het haar skoonma bebloed sien aangehardloop gekom. Haar kinders was ook in die huis en het dadelik die paniekknoppie gedruk.

Anne-Marie het gesê hulp het vinnig opgedaag. Omliggende boere, Kasselman Veiligheidsdienste, die polisie, RAM Dienste en AfriForum Buurtwag het gereageer.

Die verdagtes se Golf, met ʼn registrasienommer WYL 057 GP wat vervals is, is op die Secunda-pad opgemerk. Die polisie en veiligheidsbeamptes het die voertuig agtervolg, maar in die Sakhile- informele nedersetting verloor.

Daar was geen spoor van die Archer-egpaar se bakkie nie.

Die verdagtes se voertuig is glo vroeër die dag op verskeie plaaspaaie opgemerk.

Een van die boere wat betrokke was by die soektog, het plaasinwoners gemaan om te alle tye hul paniekknoppies byderhand te hou.

Niemand was al teen Vrydag in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Albei voertuie is steeds soek.

Beverley is nie in ʼn hospitaal opgeneem nie. Sy is wel na haar huisdokter geneem wat haar behandel het. Sy is erg deur die aanval getraumatiseerd.

Inwoners wat die twee voertuie opmerk of meer inligting het oor die aanval, word versoek om Kasselman Veiligheidsdienste by 017 712 1354 te bel.

Bron: Alida Lake – @inkMedia

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Dave ·

… en ek begin dink dat dit nie bloot rooftogte is maar dat daar ‘n gesamentlike doel is. Dat al die aanvalle deel is van dieselfde beplanning.

Winston ·

Lafaards!! Vier teen weerlose 70 jarige vrou. Ek weet ook nie meer nie

Gideon ·

Lees boere nie, of is hulle net aspris!!! Hoekom het die vrou nie weggejaag toe sy die klomp sien staan het by die plaashek? Of onmiddelik oppad huis toe gebel het om te sê daar is mense saam met haar oppad na die huis!! Nee ek verstom my oor sulke onnoselheid!!!

PIXIE ·

Sies Gideon, skaam jou. Dit was nie onnoselheid nie dit was skok en stres. Sal jy “reguit* kan dink as jy in dieselfde penarie gewees het? Ek twyfel. Jy is net grootbek. Jy is seker baie jonger as die tannie van 70.

Izzy ·

LAFAARDS!!! Hulle moet eerder die Elsenburg Landbou Kollege probeer (waar ons boerseuns is) en sien wat gebeur.

Liewe lulu ·

Ai ek hoop die vrou herstel gou. Dit is vir my asof die aanvalle skielik toeneem.

Seookmanet ·

UHURU??? Night of the long knifes???? Operation white clean up??????

Joyce ·

Dis hartseer!! Ons mensies op die plase wie voedsel vir almal voorsien word so mee gemaak. Hulle moet tog versugtig wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.