Boervrou verongeluk op pad terug van plaas

Mia van Reenen. (Foto: Verskaf)

’n Noord-Kaapse boervrou van Kimberley en ma van vier het die naweek in ’n motorongeluk gesterf toe ’n koedoe buite Groblershoop voor haar bakkie ingespring en deur haar bakkie se voorruit gebars het.

Mia van Reenen (43) het Vrydag vroegoggend in die pad geval vanaf haar plaas in Groblershoop na Kimberley waar sy saam met haar man en kinders woon.

Louw van Reenen, Mia se man en uitvoerende hoof van Beefmaster in Kimberley, het aan Maroela Media gesê Mia lê elke week dié afstand af om by die plaas ʼn draai te maak. Die koedoe moes sowat 45 km buite Groblershoop iewers tussen 06:45 en 07:15 vermoedelik van agter ’n boom uitgespring en voor Mia se enkelkajuit Toyota Hilux-bakkie ingespring het.

“Daardie deel van die pad is berug vir koedoes. Die koedoe het die kajuit getref en basies die voorruit uitgeslaan. Die bakkie se dak was totaal van die res van die voertuig verwyder.”

Volgens Louw was daar geen teken dat Mia remme aangeslaan het nie. “Sy is opslag dood.”

Die egpaar se kinders, Lourie (12), Liam (10), Louis-Anthony (8) en Amarí (6), was saam met hulle pa by die huis in Kimberley toe die ongeluk plaasgevind het. Hul oudste het net gister verjaar en dié kroos sal vandeesweek moet terug skool toe gaan wanneer die skole heropen.

Mia en Louw van Reenen. (Foto: Verskaf)

“Toe ek die nuus ontvang, was die ding waaroor ek die meeste bekommerd was, my kinders. Ek moet hulle beskerm,” verduidelik Louw.

Nié net was Mia ʼn betrokke ma nie, maar sy was ook ʼn rekenmeester van beroep.

“Sy was ʼn baie sagte mens en vriendelik. Sy het nét gelag,” onthou Louw sy lewensmaat van die afgelope 14 jaar.

“Sy het maar altyd ’n ideaal gehad [waarvolgens sy wou lewe]. Haar pa is verlede jaar op die plaas dood en sy het daarna baie swaargekry. Haar woord van die jaar was ‘hoop’ en haar ideaal was om vanjaar lig te lewe. Sy het haar ideaal uitgeleef,” vertel hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

16 Kommentare

Hartseer ·

Dis hartverskeurend! My innige simpatie met die naasbestaandes en geliefdes, veral die pappa en kindertjies.

Marieta Botha ·

So jammer oor haar ontydige heengaan.. sterkte aan die familie en die kinders.. dit gaan n tawwe tyd wees wat voorlê..

Attie ·

Daar is nie regtig woorde om te sê hoe hartseer ek namens die familie is nie, ek was daardeur en daarom vra ek dat as iemand hier lees en vir die pappa ‘n boodskap kan gee moet hy eers oorweeg om met ‘n berader te praat voordat die kinders dadelik terug skool toe gaan. As ‘n pa of ma het ons nie ‘n handleisding wat ons kan naslaan vir raad om te weet hoe 4 kinders as individue en met hul eie unieke persoonlikhede die nuus hanteer en hoe hule gaan treur oor hulle mamma nie. 11 jaar later en my kinders sukkel nog elke dag. Dit het ‘n groot impak op hulle lewens gemaak, het ook groot letsels op hulle lewens gelaat. LEER UIT MY FOUTE, ASB. Die kindertjies is so klein. STERKTE

Hannelie ·

Dis vreeslik. Jul sal krag ontvang van bo. HY sal jul bystaan!!!

Leon Pit ·

Ps.23 Hou moet jul is nie alleen nie God is in jul teenwoordigheid.

Anoniem ·

Innige simpatie aan hierdie huisgesin, net God kan Julle vertroos ! Sterkte op Julle lewenspad, vorentoe

Minette ·

Dit is soooo verskriklik hartseer…my innige meegevoel aan die Pappa en kinders…Mag Jesus julle styf vashou…

Anoniem ·

Minette – Jy het dit so mooi gestel dankie ! Ai wat ‘n hartseer gebeurtenis

Biebie ·

My hart breek vir hierdie pa en kinders. So verander jou lewe in ‘n oogwink. Bid vir julle vir vertroosting, herstel, vrede en hoop. Dit is baie hartseer, skoon in trane vir hierdie gesin

Jugene ·

Sterk wees familie god is met jule.Ek het my broer op die selfde manier verloor verlede jaar ook n koedoe wat voor sy kar in gespring het en n lelike ongelik veroorsaak het dit is nie maklik vir ons nie maar met god se genade kom ons stadig maar verseker oor die pyn.

Retha ·

As ‘n mens iemand so skielik verloor, is dit of jou brein net daar vasslaan. Of daar skielik ‘n luleegte in jou kop is. Jy gaan aan om te eet, slaap, huil, versorg, boedelsake…… Alles is onwerklik en jy strompel elke dag voort – want jy moét. Jy kan nie eens bid nie. Jou gebede kom sonder woorde met ‘n sug want die seer is te groot vir woorde. Maar die Heilige Gees verstaan en vertroos net soos Hy alleen dit kan doen. Hierdie is ‘n tyd wanneer ander se gebede jou en jou kinders sal dra. Na ‘n tyd begin jy weer “bykom” om te beplan ens, maar die seer vat tyd. Ai ek voel so jammer vir julle almal!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.