Boesemvriende sterf saam in ongeluk

Christian Smit. Foto: Facebook.

Twee vriende is die afgelope naweek in ʼn gru-ongeluk in Polokwane dood, vermoedelik op pad na ʼn braai.

Dawid Mostert (27) en Christian Smit (17) is albei op slag dood toe die Volkswagen Fox waarin hulle gery het betrokke was in ʼn ongeluk met ʼn voertuig van die ADT-sekuriteitsmaatskappy.

Kapt. Mamphaswa Seabi, woordvoerder van die polisie, het gesê die voorval het Saterdagaand omstreeks 23:00 op die hoek van Witklip- en Doornkraalstraat plaasgevind.

Johan Retters, woordvoerder van die Polokwane GPF, het gesê Smith en Mostert was lede van die GPF, maar was nie aan diens ten tyde van die voorval nie.

Retters het gesê volgens gerugte het die sekuriteitsvoertuig oor ʼn rooi verkeerslig gery.

Dawid Mostert. Foto: Facebook.

Mostert en Smit was saam met twee ander mansvriende en een meisie in die motor ten tyde van die voorval. Volgens Retters word die mans nog in die hospitaal behandel terwyl die meisie net geringe beserings opgedoen het.

Seabi het gesê die bestuurder van die sekuriteitsvoertuig is na die hospitaal gehaas vir behandeling.

Mostert en Smit was albei werksaam by CTS Mobile Hydraulics.

Theo Smit, Christian se broer en Dawid se neef, is ook by CTS Hydraulics werksaam en het aan Maroela Media gesê dit gaan “baie rof” met die familie. “My pa het vir my die sleutels van die werkswinkel gegee en gesê ‘gaan aan’, ons wag nou nog vir Dawid se pa om van Amerika af te kom. Hy land Woensdag dan sal ons begrafnisreëlings begin tref. Daai twee was soos ‘steel bond’ en ‘superglue’, jy kon hulle nie uitmekaar kry nie,” het Smit gesê.

Volgens hom wil die families die twee uit dieselfde kerk laat begrawe en langs mekaar ter ruste lê.

Eduard Mostert, Dawie se pa, het Sondag op Facebook laat weet hy is op pad terug van die VSA. “Ek as pa is stukkend. My seun se afsterwe is besig om my te breek.”

Die wrak. Foto: Verskaf.

Desiree Jacobs, suster van Angelique Jacobs wat saam in die motor was ten tyde van die ongeluk, het Sondagaand op haar Facebook-profiel gekryf: “Liefste Angelique, my kleinsus… Jou seer en jou pyn kan jy aan niemand beskryf nie. Ek sit en kyk vir jou waar jy net staar in die vlaktes in, wat jy dink en voel sal niemand weet nie, maar ek voel jou seer. Angie, ek is so dankbaar aan ons Hemelse Vader dat jy gisteraand uit daai ongeluk weg kon stap met net ʼn paar skrapies. My hart breek vir die families van Gentle Giant en Chopper.”

ʼn Saak van strafbare manslag word deur die polisie ondersoek. “Ons kan nie die gerugte dat daar oor ʼn rooi verkeerslig gery is bevestig nie, maar die saak word ondersoek,” het Seabi gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Lee ·

Ai dis so hartseer. Setrkte aan die families in die moeilike tyd. Dis ‘n verskriklike seer wat vir altyd by mens bly. Dink aan julle. Vir Angelique en die ander wat seergekry het. Sterkte xx

Koos1 ·

MM ek dink daar is fout met Smit se ouderdom in die berig.
Families, baie sterkte deur hierdie moeilike tyd!

#Gerda ·

#Is ek deurmekaar – dit is die ander 2 mans wat saam hulle in die voertuig was, wat in die hospitaal is, die meise het geringe beserings opgedoen. Dus was hulle 5 in die voertuig…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.