Boet Fick oorlede

Boet Fick, voormalige president van die Blou Bulle Rugbyunie (BBRU), is Maandag in die ouderdom van 86 oorlede.

Fick, ook ’n voormalige lid van SA Rugby (Saru) se uitvoerende komitee, het in die vroeë sewentigerjare by rugbyadministrasie betrokke geraak en is in 2005 tot president van die BBRU verkies voor hy in 2010 die eerste keer tot Saru se uitvoerende komitee verkies is. Hy is in 2014 herverkies en het tot 2018 gedien.

“Oom Boet was vir baie jare ’n stem van rede op die uitvoerende gesag en iemand wat ’n groot deel van sy lewe gewy het aan die spel wat ons almal liefhet,” het Mark Alexander, president van Saru, gesê.

Terwyl Fick by die Bulle aan die stuur was, het hulle die Superrugby-trofee drie keer omhoog gehou, asook ’n aantal Curriebeker-titels. Hy was ook een van drie lewenslange ere-visepresidente by die BBRU.

“Oom Boet het ’n rustige, vriendelike en warm persoonlikheid gehad, maar wanneer dit tyd vir besigheid was, het hy altyd gesorg dat ons op ’n baie beskeie manier na oplossings vir probleme gesoek het.

“Sy ervaring van sportadministrasie het tot gevolg gehad dat hy ook in ’n aantal ander SA Rugby-komitees gedien het, en almal het geweet dat hy altyd bereid was om op enige manier te help.”

Alexander het Fick as ’n ware dienaar van die spel beskryf. “Ons gedagtes en gebede is met sy vrou, Janet, en hul kinders Magda, Hein, Anel, klein Hein en alle ander familie, vriende en geliefdes in die hartseer tyd.”

Die BBRU het ook hulde aan Fick gebring. “Oom Boet was die absolute definisie van ’n ‘rugbykneg’ wat die spel liefgehad het, gerespekteer het en by elke geleentheid wat hy gekry het gedien het,” sê Willem Strauss, president van die BBRU.

“Oom Boet sal in die geskiedenis as ’n onbesonge held op Loftus opgeneem word, die harde werk wat hy agter die skerms gedoen het om seker te maak dat ons pragtige spel aanhou groei en floreer. Ek onthou hoe hy op die dag toe ek die rol as president aanvaar het, geskerts het dat hy al die belangrikste bekers tydens sy termyn gewen het, en dat ek nou moet voortgaan om dieselfde te doen. ”

Volgens Strauss het hy en Fick mekaar langer as 30 jaar geken. “In daardie tyd het hy baie waardevolle lesse gedeel; nie net in sportadministrasie nie, maar ook persoonlik. Hy sal baie deur almal by Loftus gemis word. Ons innige meegevoel met sy familie en geliefdes.

“Sy passie vir die span, die kenteken en Loftus was diep gewortel en ons twyfel nie dat sy nalatenskap sal voortleef uit wat ons doen nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.