Boete gevra oor WhatsApp markoorheersing in SA ‘misbruik’

(Argieffoto: pixabay)

Die Mededingingskommissie het aanbeveel dat die sosialemediareus Meta Platforms – vantevore bekend as Facebook – en sy filiale WhatsApp en Facebook in Suid-Afrika – by die mededingingstribunaal vervolg word weens die beweerde misbruik van sy oorheersende posisie in die land.

Die kommissie het die tribunaal gevra om die maksimum boete aan Meta Platforms, WhatsApp en Facebook in Suid-Afrika op te lê. Dié boete beloop 10% van hul gesamentlike omset.

Die kommissie het ook die tribunaal gevra om Facebook te verbied om die digitale platform GovChat van die “WhatsApp Business API” af te hou, asook om die voorwaardes en bepalings van toegang daartoe nietig te verklaar.

“Toegang tot digitale markte het onontbeerlik geword. Aan die ander kant is toegang tot digitale markte afhanklik van toegang tot digitale platforms, insluitend – soos in hierdie geval – toegang tot die WhatsApp Business API,” sê Tembinkosi Bonakela, mededingingskommissaris.

“Bowenal is data alles in digitale platformmarkte. In die lig van die belangrike dienste wat GovChat lewer, om intydse skakeling tussen die regering en publiek te skep en die voordele vir mededinging wat in die sakemodel bestaan, is Facebook se besluit om GovChat van die WhatsApp Business API af te hou en sy uitsluitende bepalings vir datagebruik onhoudbaar.”

Die kommissie voer aan dat Facebook eerstens rondom Julie 2020 besluit het om die digitale platforms GovChat en #LetsTalk, wat die regering met burgers verbind, van die WhatsApp-platform te verwyder.

Die kommissie voer tweedens aan dat Facebook ook bepalings en voorwaardes oor toegang tot die “WhatsApp Business API” ingestel het, of dit selektief afgedwing het, veral wat betref beperkings op die gebruik van data.

Wetgewing verbied ʼn maatskappy om sy oorheersing te misbruik deur mededingers of voornemende mededingers te verhoed om marktoegang te verkry of uit te brei.

Die departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) het GovChat in 2018 van stapel gestuur. Dit laat mense toe om op nasionale, provinsiale en plaaslike vlak met die regering in gesprek te tree en ʼn wye verskeidenheid kwessies, soos waar ʼn slaggat geleë is, aan te meld.

GovChat stel die regering ook in staat om belangrike inligting aan groot getalle mense te stuur. Dit sluit in inligting oor Covid-19, of waar om vir ʼn toelaag aansoek te doen. Volgens die kommissie het GovChat die regering ongekende insig oor intydse diensleweringskwessies gegee en dit moontlik gemaak vir die staat om meer geteikende oplossings meer doeltreffend in werking te stel.

Die platform is egter afhanklik van voorgesette toegang tot WhatsApp en die beoogde afskop van daarvan van die app, sal verbruikerswelstand skade berokken, voer die kommissie aan.

Die kommissie het voorts bevind dat die skade aan die mededingingsproses ook duidelik is.

WhatsApp Messenger geniet ʼn beduidende ekonomie van skaal en die kommissie het bevind die bepalings wat toegang tot WhatsApp reguleer, is bedoel om Facebook teen moontlike mededinging te beskerm.

Duisende boodskappe word daagliks op die GovChat-platform gestuur. Die meeste daarvan hou verband met navrae van die publiek aan die departement van maatskaplike ontwikkeling oor toelae vir kinders, gestremdes en armes, terwyl ʼn beduidende gedeelte van die verkeer ook verband hou met die verspreiding van Covid-19.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Herman ·

Ek verstaan glad nie wat die probleem is nie. Nog minder verstaan ek wat die doel van die mededingingskommissie is. Net nog ‘n geldmaakfoefie van die regering.

Wat op dees Aarde ·

Wat is Govchat? Het nog nooit van daai een gehoor nie… Net nóg ‘n mislukte ANC kader tender wat ons as belastingbetalers se geld mors.

Aanhouer ·

Skep julle eie platform. Wil altyd op ander se rûe ry. Te vrot sleg om self met ň volhoubare inisiatief te begin. Alles waaraan julle raak, verander in modder.

Maritza ·

Dink hulle moan oor hulle weet niemand sal aan hulle platform wil deel he nie

RS ·

Die regering wil hul eie platform laat inbring. Daar deur wil hulle weereens mense beheer en geld maak van hul eie.

Misky ·

Ek verstaan nie….. Hulle wil Meta penaliseer omdat hulle goed doen en die platforms ‘n sukses is. Wat het dit met die regering uit te waai?

Andrew ·

Dalk lees wat in Amerikaanse senaat aan die gang is rakende facebook en twitter platforms en mededinging, en hoe die platforms as publieke domain behoort beskou te word, wat beteken die staat dan reguleering sal toepas en nie net een man nie. Soorgelyk soos die radio en tv frequensies waar uitsaaiers n lisensie benodig van die staat en die staat (oftewel sy beleid bepaal deur sy kiesers) wat bepaal wat mag en wat mag nie. Niks oor goed (geldelik of populêr) te doen nie gaan oor die “power of the tool” om dit so te stel. As jy n ingineur is en die beste atoombom kan bou in die wereld, beteken dit nie jy mag nou die ding bou en afvuur nie. Heinrich Hertz besit nie radio golwe omdat hy die teorie reg bewys het nie.

Souterig ·

Wonder waartoe hulle self in staat sou wees sou hierdie platforms nie tot hulle beskikking gewees het nie .

Casper ·

Ek voel net WA is vrek duur.sekerlik van die duurste in die wêreld.Vir baie duur data kry jy bietjie bundels omdat dit so vrek duur is.

Alfred E Neuman ·

Basies dieselfde redes hoekom Comair en British Airways verbied word om te vlieg. Haal die kompetisie uit sodat die patstiese kader besighede kan geld maak.

Pietertjie ·

So ‘n klompie maande gelede het die hele wêreld gedreun soos almal hulle WhatsApp gelos het weens Google se beleidsrigtings. Lyk my die meeste is druipstert weer terug na hulle “boeretroos”, die regering inkluis. Snaaks dat Telegram nie geblok word weens sy gewaande Russiese wortels nie.

annie ·

Die minister van handel en nywerheid het skynbaar niks anders te doen as om met die Mededingingskommissie saam tee te drink nie. Die klink byna soos ‘n sitting van die kommunistiese party wat net heeltyd vrees iemand anders maak meer geld as hulle. Dalk moet die geagte minister self in die pad gesteek word wat ons handel en nywerhede sukkel al vir jare om die mas op te kom en ons skuitjie wil hoeka sink.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.