Boete, verskoning ná SAUK onbillik oor ‘afsetting’ berig

(Argieffoto: Karen Sandison/ANA)

Die openbare uitsaaier moet R10 000 opdok én ʼn regstelling uitsaai nadat die Uitsaaiklagtekommissie van Suid-Afrika (UKKSA) bevind het ʼn nuusberig wat vroeër vanjaar op sy 24-uur-nuuskanaal (DStv kanaal 404) uitgesaai is, was onakkuraat.

Die SAUK-berig oor plaasbewoners wat kwansuis van die plaas Rietvlei, in die Umvoti-distrik, afgesit is, is op 17 Augustus uitgesaai. Die PR Meyer Plaas-Trust het die klagte aanhangig gemaak.

In die berig word die plaasbewoners uitgebeeld as “weerlose mense wat op die plaas gebore is en al sowat 60 jaar daar woon en dat hul grootouers daar begrawe is”.

Volgens die berig is die plaasbewoners gedwing om die eiendom te verlaat, terwyl daar inderwaarheid ʼn skikkingsooreenkoms tussen die inwoners, die plaaseienaar, die departement van landelike onwikkeling en grondhervorming, asook die Umvoti-munisipaliteit was, waarin die betrokkenes vrywillig ingestem het om elders blyplek te ontvang.

Die klaers het onder meer aangevoer die sogenaamde grafte wat in die insetsel gewys word, was byekorwe en dat daar geen grafte op die plaas is nie.

Tydens die verhoor is die skikkingsooreenkoms boonop aan die tribunaal beskikbaar gestel, waarmee bewys is dat die kwessie geskik is en dat die plaasbewoners die plaas vrywillig verlaat het. “Daar was geen afsetting soos aangevoer in die uitsending nie. Ander inligting in die uitsending was ook vals.”

Die kommissie het bevind die uitsending het ook die waardigheid en reputasie van die plaaseienaar skade berokken. Die openbare uitsaaier moet ook hiervoor verskoning vra.

In sy uitspraak sê UKKSA grondrestitusie is sedert 1994 hoog op die regering se agenda en dat weinig onderwerpe soveel emosie ontlok soos dié een.

“Met die verwagting van grondlose mense dat hul reg op grond herstel gaan word aan die een kant, en die onsekerheid van boere, oor wie se koppe die swaard van [beoogde] onteiening sonder vergoeding hang, het ons in dié land ʼn tikkende tydbom op hande.

“ʼn Nuusitem soos dié een onder oorweging, kan die vlamme van ʼn revolusie aanvuur.

“Hoewel ons die plig van die media verstaan om die publiek oor enige ongeregtighede teenoor grondlose mense in te lig, het hulle ʼn plig om die nuus geloofwaardig, akkuraat en billik weer te gee. In hierdie berig was dít alles afwesig,” het die UKKSA bevind.

Die SAUK moet die UKKSA inlig oor die datum en tyd waarop die verskoning uitgesaai gaan word en ʼn kopie van die uitsending aan die registrateur van die kommissie voorlê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Sarel ·

Daai boetetjiekie is ‘n grap man. Dit moes 100 miljoen gewees het. Daai man het geen naam na daardie berig.
En daardie joernalis kan gerus aangekla word. Sweep mos nou die nasie hier lekker op. Veel erger oortreding as die doodskus 2….. dalk dieselfde verslaggewer ook. Wie weet.
Naam asb Maroela?

Wouter ·

Hoekom publiseer julle nie die verslaggewer se naam wat die wan-informasie doelbewus verspry nie. Hy/Sy moet die boete betaal.

Stof ·

Ek neem aan dat die berig iewers op die SAUK se potgooi beskikbaar moet wees, en dan sal ons mos kan sien wie se gesiggie wys?

Santie ·

Dis nou hoe rassehaat aangeblaas word. Maak seker van jul feite. Ons kan nie sulke foute bekostig nie!

Nettie ·

@Zaks, ja – “what a joke” inderdaad! Was dit ‘n Afrikaanssprekende volksverteenwoordigende instansie soos Afriforum wat só iets kwytgeraak of versprei het in beeldmateriaal, was die boete seker R100 000.00.

Hein ·

Hierdie versterk maar net die onpartydigheid en uitlokking van nuussensasie van die SABC. Dis jammer want dit vernietig hul integriteit as nuuskantoor geheel en al.

Koos ·

Die verslaggewer het mos blatant die fout gemaak. Hy moet uitgelig
en afgedank word, want dit moet mos n tendens het en dit sal weer gebeur.

Schalk ·

Dagvaar die gemors in SAUK hulle is reeds bankrot liegende korrupte gemors.ANC gefundeerd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.