Boete vir korrupte verkeersman ‘lagwekkend’

(Argieffoto ter illustrasie: ectransport.gov.za)

Deur Tania Broughton, GroundUp

Die hooggeregshof in die Noord-Kaap het gewaarsku dat direkte tronkstraf die norm moet wees wanneer oortreders aan korrupsie skuldig bevind word.

Regter Mpho Mamosebo, met waarnemende regter AD Olivier wat saamgestem het, het die vonnis wat ʼn laer hof aan ʼn Upingtonse verkeersbeampte opgelê het, as “lagwekkend” bestempel.

Die beampte het omkoopgeld van R1 000 van ʼn motoris geëis en is ná sy skuldigbevinding ʼn boete van R10 000 opgelê wat in maandelikse paaiemente van R1 000 afbetaal moes word, of twee jaar tronkstraf.

Die direkteur van openbare vervolging (DOV) het teen die vonnis geappelleer, met die hoër hof wat bevind het die vonnis was “hopeloos defektief en onoordeelkundig”.

Die hof het die vonnis tot ʼn boete van R60 000 verhoog en bepaal dat dit teen die einde van volgende maand betaal moet word, of die beampte moet drie jaar tronk toe. Mamosebo het ook opgemerk dat verkeersbeampte Oscar Bongela reeds ʼn gedeelte van die boete wat voorheen opgelê is, betaal het.

Sy het egter gesê tronkstraf moet die standaard vonnis wees.

“Ek wil hierdie ernstige waarskuwing rig: Die benadering tot vonnisoplegging moet op geen manier as ʼn presedent gebruik word nie. Direkte tronkstraf moet die norm wees.”

Lokval vir beamptes

(Illustrasie: Lisa Nelson/GroundUp)

Bongela, wat in daardie stadium al 17 jaar lank ʼn verkeersbeampte was, is in September 2020 in ʼn plaaslike streekhof saam met kollega Lebogang Tosa aan korrupsie skuldig bevind. Albei is ʼn boete van R10 000 opgelê en, sou hulle versuim om dit te betaal, twee jaar tronkstraf.

Die vonnis is vir drie jaar opgeskort.

Die DOV, in die appèlaansoek, het aangevoer die vonnis is skokkend toegeeflik en het regspresedent verontagsaam.

Tosa is dood voor die DOV se aansoek aangehoor is, en Bongela het nie aan die saak deelgeneem nie.

Luidens die hofrekord het Bongela en Tosa, sy junior, diens gedoen naby die Upington-hoofpad toe hulle ʼn motoris, Robert Doncaster, voorgekeer het. Doncaster was inderhaas op pad hospitaal toe met sy vrou wat besig was om te kraam.

Hulle het hom vir omkoopgeld van R1 000 gevra.

Doncaster het dorp toe gery onder die voorwendsel dat hy die geld sou gaan kry. Pleks daarvan is hy na die polisie, wat vinnig ʼn lokval gestel het. Hulle het gemerkte geld aan Doncaster gegee en hom met ʼn opnemer toegerus.

Doncaster het die gemerkte note aan Tosa gegee. Dié het R700 gehou en R300 vir Bongela gegee.

Die geld is teruggekry nadat die polisie toegeslaan het.

Mamosebo, in die jongste uitspraak, sê vreemd genoeg werk Bongela boonop steeds as ʼn verkeersbeampte. Tydens die verhoor was sy salaris sowat R23 000 per maand.

Die staat het aangevoer dat Bongela en Tosa boonop die dag wat hulle Doncaster vir omkoopgeld gevra het, hul salaris ontvang het.

Mamosebo het ook gesê die betrokke landdros het nie tersaaklike wetgewing oorweeg nie.

“Korrupsie, soos deur soveel ander howe uitgewys, is ʼn kanker waarmee streng gehandel moet word,” het sy bevind.

Landdros té ‘vrygewig’

Die landdros het die verkeersbeamptes se persoonlike omstandighede oorbeklemtoon en die erns van die oortreding – en die uitwerking daarvan op die samelewing – onderspeel.

“Dit was onbedagsaam en selfs wreed van hulle om omkoopgeld te eis van iemand wat ooglopend uit nood opgetree het wat veroorsaak is deur sy kind se naderende geboorte,” het die regter gesê.

Die boete van R10 000 was dus belaglik.

“Ek is van mening dat die monetêre gedeelte van die straf skerp verhoog moet word om die erns van die oortreding te benadruk. Ek bring ook in berekening dat Bongela steeds sy werk behou het.

“Hy moet ʼn plan maak oor hoe hy die boete gaan betaal,” het die regter bevind.

“Die landdros was veels te vrygewig.”

Die regter het Bongela beveel om die volle balans van die boete van R60 000 teen die einde van Januarie te betaal, of sy drie jaar tronkstraf te gaan uitdien.

  • Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp geplaas en word met vergunning gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Waarnemer ·

Well done vir daarxie landdros wat die voroge hofbevel as belaglik bestempel het.Elke korrupte polisiebeampte(vetkeersbeampte en/ of polisiebeampte behoo4t direkte gevangenisstraf te kry.

Ore ·

Perfek, maw vir elke R1000 is die boete R60,000. Indien die staatskapers se miljoene wat hulle as omkoopgeld gevra en gekry het beteken dit dus dat vir elke miljoen wat hulle ontvang het hulle R60m moet betaal of dan lewenslank tronk toe indien daar vir elke R1000 wat ontvang is 3jr tronkstraf is.

vuurvliegie ·

Neem alle polisie of verkeersbeamptes af. Belê in ‘n goeie dashcam.

KB ·

Ek stem saam met Jannie…beboet daai landdros. Hy/sy versaak hul verantwoordelikheid teenoor die publiek.
Geen simpatie met die oortreder/s nie.

SjN ·

Daai landros het seker ook tjo tjo geld van die aangeklaagde gekry, korrup, fire die beampte en stuur direk tronk toe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.