Boete vir taxibestuurder wat twee PE-vroue doodry

Micayla Victor is op slag dood in die ongeluk in Sydenham, Port Elizabeth. Foto: Facebook

Die taxibestuurder van Port Elizabeth wat verlede jaar in ʼn ongeluk betrokke was waarin twee vroue dood en een beseer is, is met ʼn boete vrygelaat. Die taxibestuurder het homself aan die polisie oorgegee nadat hy deur ʼn rooi verkeerslig gery en die voertuig van die oorledenes getref het.

Anelisa Ngcakani, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Oos-Kaap, sê dié 29-jarige taxibestuurder, Yibanathi Ndike, is Woensdag in die Port Elizabeth-streekhof tot ses jaar tronkstraf of ʼn boete van R12 000 gevonnis op twee aanklagte van strafbare manslag. Die helfte van die vonnis is tot vyf jaar opgeskort.

Ndike het die boete betaal en is vrygelaat.

Ngcakani sê sy bestuurslisensie is ook vir 12 maande opgeskort.

Paramedici het hard probeer om Celine de Rider se lewe te red. Foto: Facebook

Maroela Media het vroeër berig die gru-ongeluk het omstreeks 17:20 in Kempstonweg in Sydenham, noord van Port Elizabeth se middestad, gebeur. Ndike het deur ʼn rooi verkeerslig gery en ʼn voertuig met drie vrouepassasiers, al drie werknemers van Atlas Security, getref.

Micayla Victor (19) is op slag dood en Celine de Ridder (21) het op pad na die hospitaal gesterf nadat paramedici haar lewe vergeefs probeer red het. ʼn Derde insittende van dié motor, Juanita de Villiers, is in die hospitaal vir haar beserings behandel.

Die vroue was almal 18:00 op pad om nagskof in die veiligheidsmaatskappy se beheerkamer in die stad te werk toe die ongeluk ʼn hanetree van hul werkplek af gebeur het.

Luidens mediaberigte het Ndike ná die ongeluk van die toneel af gevlug. Hy het homself sewe uur daarna by die Mount Road-polisiestasie gaan oorgee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

30 Kommentare

jongste oudste gewildste
Rudolf

Ek het eintlik nie kommentaar nie…….

Genis

Ek is nie snaaks nie maar ons regstelsel is regtig bedenklik.. Die straf is nie daad werd nie… Dis seker weer n kader of n Polisie man se taxi… Die Taxi industrie in SA is n mafia nes die SAPD..

Niklaas

Is dit al? Dis mos strafbare manslag. Effens belaglike vonnis

Alex

2 lewens is R6000 elk werd en die regeri g kry daai geld. Wat van die geliefdes wat hulle verloor het?

Kokerboom

Rerig!!!!!!!!! Hierdie is ‘n absolute skreiende skande van ‘n hofuitspraak. 2 Mense dood en ‘n boete van R12000 of 6 jaar 50% vir 5 jaar opgeskort!!Dit was moord!!!Ons regstelsel is ‘n klug!!!!