Boetebessie vas vir ontvoering

Argieffoto

Argieffoto

Die Limpopo-polisie is op soek na ʼn 17-jarige meisie nadat sy en haar maand-oue babatjie glo deur ʼn 43-jarige vrou, wat ʼn verkeersbeampte is, ontvoer is.

Kol. Ronel Otto, polisiewoordvoerder, het Dinsdag gesê die beweerde ontvoering het Vrydag in Saselemani in die noorde van die provinsie, plaasgevind.

“Die verdagte het aangebied om die meisie, Hulani Chauke, op te laai en haar te help om vir ʼn ID-dokument aansoek te doen sodat sy haar babatjie kan registreer,” het Otto gesê.

Die meisie en haar baba is Saterdag as vermis aangemeld nadat hulle nie by die huis opgedaag het nie.

Die verkeersbeampte is Maandagaand in Thohoyandou in hegtenis geneem, nadat die polisie inligting opgevolg het. “Die babatjie is veilig in die verdagte se sorg gevind, maar daar was geen spoor van Hulani nie en die polisie is steeds op soek na haar.”

Die beampte is in hegtenis geneem op aanklag van ontvoering en moet binnekort in die Thohoyandou-landdroshof verskyn.

Die polisie het ʼn beroep op die publiek gedoen om hulle te laat weet as hulle weet waar Hulani is.

Vermis: Hulani Chauke (17).

Vermis: Hulani Chauke (17).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.