Boetes of selfs tronkstraf vir verkiesingsoortredings

Argieffoto

Argieffoto

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het gewaarsku dat mense wat vir verkiesingsverwante oortredings in hegtenis geneem word tronkstraf of stewige boetes opgelê kan word.

Lt.genl. Solomon Makgale, nasionale woordvoerder van die SAPD, sê ʼn boete van tot R100 000 of vyf jaar tronkstraf kan vir verkiesingsverwante oortredings opgelê word. Hy sê die oortredings sluit onder meer intimidasie, ontwrigting van verkiesingsvergaderings en die verwydering van verkiesingsplakkate in.

Makgale sê 50 mense is reeds vir verkiesingsverwante oortredings in hegtenis geneem. Die meeste oortreders is in Noordwes in hegtenis geneem. Phumla Williams, uitvoerende hoof van die staat se inligtingsdiens (GCIS), sê intussen die aantal areas waar daar moontlike politieke spanning kan voorkom, het aansienlik verminder.

Williams sê verskeie ministers en beamptes het oor die afgelope twee weke areas soos Kwa-Mashu en Wembezi in KwaZulu-Natal, Mannenberg in die Wes-Kaap, Vryheidspark en Itsoseng in Noordwes en Bekkersdal in Gauteng besoek met slegs ʼn “paar voorvalle van onstabiliteit.”

Sy sê daar sal “geen verdraagsaamheid” wees vir enigiemand wat die verkiesing probeer ontwrig nie. “Niemand sal toegelaat word om enigiemand te keer om hul grondwetlike reg om te stem, uit te oefen nie. ” President Jacob Zuma het vroeër 2 000 soldate ontplooi om die polisie by te staan tydens die verkiesing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.