
Argieffoto (Foto: Steve Buissinne / Pixabay)
Sumeshan Krishnasamy (30) is in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Kimberley gevonnis ná hy skuld beken het op 10 aanklagte van bedrog en oortreding van die Wet op Belastingadministrasie.
“Die ondersoek het onthul dat die departement van onderwys in die Noord-Kaap in Maart 2020 ʼn tender vir persoonlike beskermingstoerusting (PPE) aan Risva Logistics toegeken het vir die verskaffing van gesigmaskers,” sê lt. Tebogo Thebe, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke). “Die beskuldigde het versuim om ʼn belastingopgawe vir 2021 in te dien. Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens het verliese van R38 146,00 gely.”
Die Valke se eenheid, wat ernstige korrupsie ondersoek, het die saak ondersoek en die beskuldigde is op 7 Augustus 2023 in hegtenis geneem. Krishnasamy het op 13 Oktober 2023 skuld beken.
Hy is ʼn boete van R20 000 of 18 maande tronkstraf opgelê.
In ʼn afsonderlike saak in dieselfde hof is Tokelo Mareka Lehloka (40) en sy maatskappy, Kids Sportswear, ook skuldig bevind op aanklag van belastingontduiking.
“Dié saak hou ook verband met ʼn PPE-tender van R33 580 wat die provinsiale departement van samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake toegeken het. Die beskuldigde, as direkteur van die maatskappy, het versuim om ʼn belastingopgawe in te dien vir 2020.”
Lehloka het skuld beken.
Die maatskappy, verteenwoordig deur Lehloka, is ʼn boete van R5 000 opgelê wat in sy geheel opgeskort is. Lehloka is ook R5 000 of 60 dae tronkstraf opgelê wat vir drie jaar opgeskort is op voorwaarde dat hy nie in dié periode aan enige ander belastingmisdrywe skuldig bevind word nie.
En dis nou ernstige korrupsie? R38k en die Valke is betrokke. Sekerlik het hulle bigger fish to fry, of is dit “off limits”?
Dis “off-limits” vir die Valke, daarom is die Skerpioene ontbind, want hulle mandaat het veel wyer gestrek as die Valke s’n, en dit het sekere politici effens ‘n kat-op-‘n-warm-stoofplaat-dans laat uitvoer.
Party is meer ” gelyk” as ander. Jy kan sowat 4 miljoen dollar versteek vir goedere wat jy ” verkoop” het maar nie gelewer het nie en dan vind SARS regtig dat geen wet oortree is nie.
Dit hang alles af van wie jy is. As jy Numbawan is … of Numbawan se adjunk is … dan geld die wette van SA nie vir jou nie.
Ek lees nêrens dat hulle enige gelde moet terug betaal nie.
Nou waarvoor die skuldigbevinding, as die vonnis in geheel opgeskort is en hy net basies oor die vingertjies getik word met ‘n “moet-dit-nou-nie-weer-in-3-jaar-se-tyd-doen-nie-gehoor?”. Dit was dan mos ‘n mors van die ondersoekbeampte en hof se tyd!