Boetie moes sussie se verkragting aanskou

Argieffoto

Argieffoto

Twee mans wat verlede jaar ʼn vrou verkrag het, is Donderdag in die Durban-streekshof elk tot 20 jaar tronkstraf gevonnis.

“Die twee beskuldigdes het die vrou genader terwyl sy en haar jonger boetie huis toe gestap het,” het Natasha Kara, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, gesê. “Hulle het geld en juwele geëis, en toe sy niks vir hulle kon gee nie, het hulle haar om die beurt verkrag.”

Kara sê die vrou se boetie moes dit alles aanskou, omdat hulle sy skoenveters vasgebind het en hy nie kon weghardloop nie. Hulle het die broer en suster vrygelaat ná die verkragting.

Die vrou het die polisie twee dae later na die toneel geneem en hulle het die beskuldigdes in die omgewing opgemerk. Sy het die twee positief uitgeken en hulle is in hegtenis geneem. Hulle word ook deur middel van DNS aan die verkragting verbind.

Die vrou het in die hof vertel hoe die verkragting haar lewe verander het. “Die trauma wat ek beleef het, is onbeskryflik. Ek voel dat hulle ʼn stuk van my vrede en geluk gesteel het, en ek kan dit nooit weer terugkry nie,” het die slagoffer in ʼn verklaring , wat deur staatsaanklaer Shayna Naidoo aan die hof voorgehou is, gesê. “Geen vrou moet beleef wat ek ervaar het nie, want dit was indringend, degraderend, minagtend en vernederend.”

Die NVG het die vonnis verwelkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.