Boeties sterf in ongeluk: Niemand nog aangekla

Coetzee en Stiaan van der Walt, 'n paar jaar gelede. Foto: Verskaf

Coetzee en Stiaan van der Walt, ‘n paar jaar gelede. Foto: Verskaf

Die polisie weet waar die bestuurder is van die oorlaaide voertuig wat moontlik die botsing buite Musina veroorsaak het waarin twee boeties dood is.

Só het kol. Ronel Otto, woordvoerder van die polisie, Maandag aan Maroela Media gesê.

Otto het gesê gerugte dat die polisie nie weet waar die bestuurder van die bakkie homself bevind nie, is onwaar. “Ons weet die bestuurder is in Gauteng. Die polisie wil met hom praat om sy verklaring af te neem. Dit kan ons help met ons ondersoek, maar dit is nie waar dat ons hom soek om hom in hegtenis te neem nie. Ons wil eers net sy verklaring afneem,” het sy gesê.

Maroela Media het vroeër berig Stiaan (16) en Coetzee van der Walt (6) was die aand van 20 Junie saam met hul pa op pad terug na hul huis in Musina. Die Nissan-dubbelkajuitbakkie waarin hulle gery het, het gebots teen ʼn oorlaaide bakkie wat langs die pad gestaan het. Stiaan is op die toneel dood, terwyl Coetzee op pad na ʼn hospitaal in Polokwane oorlede is.

Ina Booyse, ʼn vriendin van die familie, het gesê die oorlaaide bakkie het reeds ʼn paar dae langs die pad gestaan nadat dit gebreek het. Die polisie het intussen die bakkie laat skut.

Volgens Otto ondersoek die polisie ’n saak van strafbare manslag, maar niemand is nog vir die voorval aangekla nie. “Nadat die ondersoek afgehandel is, sal die dossier na die hof gaan, waar daar besluit sal word of iemand vir die ongeluk aanspreeklik gehou moet word of nie,” het sy gesê.

ʼn Roudiens vir Stiaan en Coetzee is Donderdag by die Hervormde Kerk in Musina gehou en hulle is Vrydag op die gesin se plaas buite Musina begrawe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Peet Schabort ·

‘Langs die pad ‘?
Foto’s wys halfpad in die pad, of hoe nou ?
Was dit ek sou ek lankal ‘n verklaring moes aflê of . . .
Dalk soek hy nog na ‘n regsgeleerde.
Wonder maar net . . .

Lucille Taute ·

Daardie bakkie het letterlik in die middle van die pad gestaan. Daar was oog getuies wat die bakkie vroeer daardie nag in die pad gekry het. Op die fotos staan die bakkie langs die pad, omrede die bakkie tydens die ongeluk geruk is tot halfpad uit die pad, en na die ongeluk verwyder is uit die pad. Daardie bakkie het ongeveer 3 dae langs die pad gestaan, ente gery en gebreek. Vroeer daardie oggend was die bakkie ook halfpad in die pad maar ‘n paar km terug op die venetia pad. Daar was net ‘n paar takke in die pad gesit om aankomende verkeer te waarsku. Ons moes ook half om die bakkie ry. Dit het so gery en breek…. Daar word gereeld sulke oorlaaide voertuie op daardie pad gevind. Het gister 29/6/15 weer 3 oorlaaide voertuie op daardie selfde pad gevind.

Se Maar Net ·

Dit is nie vreemd dat nieman die eienaar kan vind nie, want hul verdwyn so as moeilikheid op die voorstoep staan. En daar sal net mooi niks van die saak kom nie. 2 Kinders is wreed weg geruk van hul ouers, en dit is waar dit gaan eindig. Die seer die verlies en ook die verwyt le nog rou in die gesin, en niks of niemand gaan verantwoordlikheid aanvaar nie. Want ons land se wetgewing is nie van so aart om oortreders aan die pen te laat ry nie. Ek is nie negatief nie, net verdomp realisties.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.