Boeties verdrink toe een ander wil red

Die seuntjies het verdrink nadat die ouer kind sy jonger boetie uit die water probeer help het. (Argieffoto: SA Polisie)

Twee Vrystaatse boeties het saam verdrink toe die sewejarige Marshall Pienaar sy vyfjarige boetie, Nic-Nadio, probeer red het.

Die groepie seuns van Bronville in Welkom het Saterdagmiddag laat in ʼn dam by ʼn myn in die omgewing gaan swem.

“Volgens ooggetuies het een van hulle, ʼn vyfjarige seuntjie, na ʼn dieper gedeelte van die dam beweeg en gesukkel om uit te kom,” sê kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder van die Lejweleputswa-distrik.

“Sy ouer boetie het hom probeer red, maar albei het [onder die water] verdwyn en verdrink.”

Marshall en Nic-Nadio se liggame is Sondag, nadat die voorval vroegoggend by die polisie aangemeld is, deur polisieduikers onder leiding van lt.kol. Conrad Fouché opgespoor en uit die water gebring. Hulle is op die toneel dood verklaar.

ʼn Geregtelike doodsondersoek word na die voorval gedoen.

Die polisie het ʼn hernieude beroep gedoen dat kinders nie op onveilige plekke moet swem nie en dat ouers ten alle tye moet weet waar hul kinders is om tragedies te help verhoed.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Casper ·

Dit is baie hartseer.Baie sterkte aan die familie en ons bid dat julle vertroosting sal vind in God se arms wat julle sal omhels in hierdie droewige tyd.

Christine ·

Ai nee, om jou twee kindertjies gelyktydig aan die dood af te staan, is tragies. Ouers, stuur asb volwasse toesig saam met kindertjies. Sterkte aan die ouers.

Yvonne ·

Here die boetie het die grootste offer denkbaar gebring….troos ook so hulle geliefdes

Johanna ·

Dit is baie baie hartseer.
Daar is geen woorde om te troos nie.
Sterkte aan die familie. Mag die HERE vir julle troos bring.

KhoiKhoi ·

Godse genade en sterkte rus op die ouers.
Mag Hy vertroosting bring.
Ongelukkig neem die voorval my terug hoe jare gelede, ook op ‘n Sondagmiddag, ek moes help by ‘n soortgelyke voorval.
Was destyds ‘n ambulans paramedikus.
Hartseer en ouers weet dikwels nie watter “onskuldige” kattekwaad kinders aanvang nie.
Baie hier sal self onthou hou hulle ook weggesluip het om in ‘n dam te swem.

Pablo ·

As die kinders nie kan swem nie moet die ouers hulle vergesel as hulle na n dam of rivier toe gaan. Dis nou al die hoeveelste berig van jong mense wat verdrink.

Smurf ·

Verskriklik tragies ! baie hartseer. Sterkte aan die ouers……………..maar wat my pla……..wat soek sulke klein kindertjies sonder toesig by so n plek ? ?

Swerwer ·

Baie hartseer. Kan net nie verstaan hoe kinders sonder toesig gaan swem nie.

Elmarie ·

Mense, al raad wat ek enigeen met kleingoed kan gee is laat hull van BAIE jongs af vir swemlesse gaan. Ongelukke gebeur so gou. ‘n Voet gly, jy dink jy is okay en dan nie. Maak seker dat jou kind genoeg swemlesse kry en ook weet hoe om in noodsituasies op te tree, bv sou die see hul meesleur ens. Ons het nooit ‘n swembad gehad nie maar ons het ons kinders op 3 jarige ouderdom laat swemlesse neem en eintlik kan mens al vroeëer begin. Hulle gaan speel by maatjies en daar is baie keer swembaddens of hul speel onder jou oë langs ‘n dam of rivier…laat hul goed leer swem en voorkom hartseer soos hierdie.

Dahlia ·

Mense leer julle kinders swem so jonk as moontlik! My kind het met swemlesse begin van die ouderdom van 3 jaar af. Is nie een oomblik spyt nie. Ek het altyd gemoedsrus gehad wanneer hy nie onder my toesig was nie.

Deon ·

Tragies, alle sterkte aan die betrokke familie…… Waarom word die ouers gelooi oor hulle nie na hul kinders omsien nie?? HOE HET DIE KINDERS TOEGANG TOT DIE DAM GEKRY, DIE MYNE HET ALLERHANDE VEILIGHEIDS STELSELS WAT MOET VERHOED DAT SULKE DINGE GEBEUR…. ONSERSOEK ASB DIE MYN SE STELSELS!!!! Ek het ook al baie keer in dorpe gesien dat die mini substasies se deure nie gesluit is nie, waarom word sulke gevaarlike plekke nie gereeld ge inspekteer om te verseker dat veiligheids maatreels wat ingestel was nog reg is nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.