‘Boewe’ loop hulle vas teen kusdorpgemeenskap

Argieffoto: Nico Strydom

Die optrede van ʼn oplettende pensioenaris van Scottburgh aan die KwaZulu-Natalse Suidkus het tot die inhegtenisneming van ʼn verdagte gelei.

Lt.kol. Thulani Zwane, provinsiale polisiewoordvoerder, het Dinsdag gesê die 70-jarige inwoner van dié kusdorp het omstreeks 12:45 by ʼn gewilde kettingwinkel in die sakegebied stilgehou om inkopies te doen.

“Die pensioenaris het uit die winkel sy voertuig dopgehou en in ʼn stadium gesien daar is ʼn vreemdeling in sy motor. Hy het dadelik veiligheidsbeamptes van die winkel in kennis gestel, wat op hul beurt na die motor gehardloop het.”

Die verdagte het op die vlug geslaan. ʼn Motoris, Jeethandran Murugan van Pietermaritzburg, en ander omstanders het egter besef wat aangaan en dadelik gereageer en die verdagte agternagesit.

“Van die omstanders het die verdagte te voet agternagesit en ander in hul voertuie. Die verdagte het oor die munisipale rolbalveld gehardloop en is daarna deur Murugan in sy bakkie ingehaal.”

Die verdagte het Murugan se bakkie omseil en is kort daarna deur ʼn medepligtige in ʼn VW Golf in Arbuthnotstraat opgelaai. Murugan het die Golf agternagesit en in Erskinestraat ingehaal en van die pad afgedruk.

Albei verdagtes het uit die motor gespring en in verskillende rigtings op die vlug geslaan. Die bestuurder van die Golf is kort daarna deur gemeenskapslede aangekeer. “Die ander verdagte kon wegkom deur in digte bosse in te vlug.”

Die polisie het ʼn handsak in die verdagtes se motor gevind wat glo uit die pensioenaris se motor gesteel is.

Die motorbestuurder is in hegtenis geneem en word aangehou. Hy moet binnekort in die dorp se landdroshof verskyn op aanklag van diefstal uit ʼn voertuig. Die soektog na sy medepligtige duur voort.

ʼn Profiel is van die verdagte saamgestel om vas te stel of hy met ander misdrywe in die omgewing verbind kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

al ·

Die scenarios wat in my kop rondhardloop oor wat die moontlike lot van die pensioenaris kon wees, is nie goed nie.
Danksy sy observasie het hy heel moontlik sy eie lewe gespaar indien die diewe hom sou kaap.

Mariana ·

Wonderlike nuus. Sit sommer met ‘n glimlag op my gesig terwyl ek die storie lees. Ek kan net dink hoe verbaas daai skobbejakke moes wees toe hulle so gejaag word. Mooi so.

Cowboy ·

as hulle die bestuurder aankla soos die berig lees van diefstal uit voertuig gaan hy loop, hy moet aangekla word van besit van vermoedelike gesteelde goedere

Nico K ·

En dan dink ek aan die man wat al die moeite gedoen het om hom met sy kar agterna te jaag en van die pad af te druk. Min van ons sal soveel moed hê.

al ·

Daar is gelukkig baie goeie verhale in die SAPD ook. Soos die grensposgeval. Vrot appels is in enige maatskappy, dis net hoe dit benader word om hul uit te roei.

Estelle ·

Ditsim dit is soos dit moet wees. Nou begin die mense lewe kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.