Boewe teiken koeriers: Wenke vir dienste en kopers

(Argieffoto)

Statista se mark- en verbruikersdata dui daarop dat die plaaslike e-handelbedryf na verwagting in 2020 ongeveer R62 miljoen aan inkomste sal verdien en elke jaar met sowat 10% kan groei.

Met ʼn geprojekteerde totaal van 31,6 miljoen Suid-Afrikaanse gebruikers teen 2024 is dit duidelik dat aanlyn inkopies tans net in gewildheid sal toeneem. Ongelukkig het misdaad hierdie tendens ook gevolg en is daar nou ʼn toename in diefstal van koeriervoertuie gesien.

Volgens Alex Terblanche, hoof van Budget Business Insurance, is dit duidelik dat misdadigers koerierdienste en -voertuie as maklike teikens geïdentifiseer het.

“Die meeste van hierdie diefstalle gaan met geweld gepaard en is deel van ʼn gewapende rooftog of kaping – dit is uiters kommerwekkend. In enkele gevalle is die voertuie teruggevind, maar die goedere is dan gebuit.”

Terblanche bied die volgende wenke vir koerierdienste en hul personeel, asook verbruikers wat hul aanlyn aankope by koeriervoertuie afhaal:

Misdaadvoorkoming vir koerierdienste

  • Bly waaksaam! Dit is maklik om konsentrasie te verloor as jy die heeldag reis, maar sorg dat jy altyd bewus is van wat om jou aangaan.
  • Los genoeg spasie tussen jou voertuig en die volgende voertuig sodat jy nie tydens ʼn kaping afgekeer kan word nie.
  • As jy dink jy word agtervolg, ry na die naaste polisiestasie of ʼn ander veilige, openbare plek.
  • Sorg dat jy die toepaslike versekering vir jou voertuie en goedere het.
  • Koerierdienste moet hul werknemers opleiding gee sodat hulle weet watter voorsorg hulle moet tref om diefstal te voorkom en hoe om tydens ʼn kaping of rooftog op te tree.
  • Die gevaarlikste tyd van die dag is gewoonlik die eerste paar uur van ʼn werksdag wanneer die koeriervoertuie van die depot af gevolg word. Bestuurders moet gedurende hierdie tyd ekstra waaksaam wees en roetines en roetes wat gevolg word, moet dikwels verander word.
  • Parkeer, indien moontlik, op ʼn sentrale, goed beligte plek – verkieslik waar wagte aan diens is.
  • As jy voel jy verkeer in gevaar, kan jy die noodknoppie van jou opsporingsdiens druk.
  • Pas jou spoed volgens die verkeersligte aan sodat jy nie heeltemal tot stilstand hoef te kom nie.

Belangrike veiligheidswenke vir aanlyn kopers:

  • Sorg dat jy weet watter koerierdienste jou aflewering doen en wanneer hulle gaan aflewer sodat jy voorbereid kan wees.
  • Sluit duidelike aanwysings vir die koerierdiens in sodat hulle weet hoe om jou in die hande te kry as hulle jou huis bereik. Dit verhoed dat hulle ʼn lang tyd buite die eiendom geparkeer staan en ʼn maklike teiken word.
  • As daar ʼn veiligheidswaarskuwing vir jou omgewing uitgereik is, vertel die koerierdiens daarvan.
  • Kies die veiligste plek moontlik vir die afhaal van ʼn pakkie en die ondertekening van die afleweringskwitansie – verkieslik moet dit nie ʼn plek wees met openbare toegang nie.
  • As jy ʼn pakkie afhaal, moet jy altyd op die uitkyk wees vir verdagte persone of voertuie. Laat weet die bestuurder en polisie of buurtwag as jy iets verdag sien en moet nooit jou hek oopmaak tensy jy seker is dit is 100% veilig nie. Hou ʼn paniekknoppie byderhand.
  • Handel die afleweringsproses so vinnig as moontlik af.

“Kapings en gewapende roof het ongelukkig ʼn onwelkome deel van ons werklikheid geword. Koerierdienste kan egter stappe doen om hul goedere en personeel te beskerm,” sluit Terblanche af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kokerboom ·

Ek stel voor die SAPD implementeer ‘n Boewe Identifikasie en Eliminasie Eenheid…’n koverte operasie…as MRK sal toelaat!!!

saggiespraat ·

Ek dink hulle moet ook nie op die voertuig naam sit al is dit vir advertensie en monitor
die staff gewoonlik “inside information” maar wie is ek om so te se

christo ·

Die koerierbestuurders werk onder groot druk om alles betyds af te lewer. Dit is glad nie moeilik om ‘n koerier voertuig uit te ken nie, die bakwerk is sinoniem met die voertuie. Daar is altyd vrot appels in enige organisasie en so word inligting uitgelek deur werkers.

lodewyk ·

Cele ,kan nou mos weer op misdaad konsentreer,sigarette en drank is mos nou weer wettig-is kommerwekend om te sien dat die skelms nou alle maniere vind om geld te maak -hulle se as jy dink jy word vervolg ry na die naaste SAP of plek van veiligheid -waar in SA kry jy nog sulkke plekke en nie eers van die Sap te praat nie,hulle sal nog help om die voertuig leeg te maak??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.