Bok-oorwinning sal lig in SA’ners se tonnel wees – Stick

Die Springbokke slyp hul tande vir ʼn rekord vierde Wêreldbeker-titel. (Argieffoto: Odd Andersen/AFP)

Die Springbokke kan vir hul landgenote tuis ʼn “ligpunt” wees deur Nieu-Seeland in ʼn historiese vierde Wêreldbeker-oorwinning te klop, het hulpafrigter Mzwandile Stick Vrydag gesê.

Die twee groot rugbyvyande ontmoet mekaar Saterdag op die Stade de France – 28 jaar ná hul vorige ontmoeting in ʼn eindstryd.

Daardie ontmoeting het destyds gelei tot ʼn onvergeetlike oorwinning vir Suid-Afrika: 15 – 12 in ekstra tyd met al die punte wat deur Joel Stransky aangeteken is. En die ikoniese beeld van oudpres. Nelson Mandela wat die trofee aan Bok-kaptein Francois Pienaar oorhandig.

Stick sê die oorwinnings, met ʼn enkele punt in die kwarteindstryd en die halfeindstryd het baie beteken.

“Die manier waarop ons in die laaste twee wedstryde geveg het, dit was oor meer as net die spel,” het Stick op die vooraand van die wedstryd gesê.

“Hopelik hou ons aan veg en maak ons seker ons bring ʼn bietjie lig vir die mense by die huis.”

Stick het ook verwys na die groot uitwerking wat die 1995-oorwinning op die beeld van rugby gehad het. “Wanneer ek aan daardie eindstryd dink, ek was destyds 11 jaar oud, het die 1995-wedstryd werklik die beeld van die sport in Suid-Afrika verander,” het hy gesê.

“Elke kind wou Joel Stransky wees; daar is na my as ‘Township Stransky’ verwys – of James Small en daardie manne.

“Ons het die strate ingevaar en fees gevier. Wanneer ek aan daardie oomblik dink, voel dit altyd soos gister.

“Die nalatenskap wat daardie ouens – Joel Stransky, Francois Pienaar – gelaat het, het dit moontlik gemaak vir ons om te wees waar ons nou is.”

Feeverhaal

Siya Kolisi ná die Springbokke se wen teen Engeland. (Foto: Twitter/ Springboks)

Stick sê hy hoop baie ander swart spelers volg in die voetspore van Siya Kolisi, die Bokke se eerste swart kaptein.

Die span se naelbyt-oorwinning oor die gasheer, Frankryk, gevolg deur ʼn oorwinning van 16 – 15 oor Engeland in die halfeindstryd, het weer groot opwinding geskep in ʼn land wat geteister word deur onder meer hoë werkloosheid, armoede en maatskaplike verdeling.

“Jy vra oor ons agtergrond … eerlikwaar, hierdie is waarvoor ons leef. Dit is oor die mense in gemeenskappe terug in Suid-Afrika wat droom om in ons posisie te wees,” sê hy.

“Ons wil net alles moontlik doen om te verseker ons verenig daardie mense.

“Vir iemand soos Siya, wat kom waar hy vandaan kom … wow. Ongetwyfeld gaan daar oor 20 jaar baie Siya Kolisi’s wees, seuns wat tot hier gekom het ongeag hul agtergrond.

“Dit is soos ʼn feeverhaal wanneer jy oor Siya praat, maar dit verander werklik mense se lewe; wat ook al hul agtergrond – as jou kop op die regte plek is en jy het ʼn doelwit en jy hou aan om dit na te jaag.”

Mzwandile Stick, hulpafrigter van die Springbokke. (Foto: SA Rugby)

Stick sê al is die span dalk aan die ouer kant, was hierdie die Wêreldbeker waarvoor hulle gemik het toe Rassie Erasmus en Jacques Nienaber ʼn chaotiese span in 2017 oorgeneem het – en die Wêreldbeker-oorwinning twee jaar later was ʼn bonus.

“Dit was nooit ʼn geheim nie, ons fokus was altyd op 2023,” het Stick gesê.

“ʼn Wonderwerk het in Japan gebeur, maar dit was altyd deel van die plan om te verseker ons lewer ons topprestasie by hierdie Wêreldbeker.”

Suid-Afrika en Nieu-Seeland het albei een wedstryd in die aanloop tot die eindstryd verloor; eersgenoemde teen Ierland en laasgenoemde teen Frankryk – maar die Bokke is bes moontlik meer veggereed.

Hulle het die Skotte en die Iere in die groepfase die stryd aangesê voor oorwinnings oor Frankryk en Engeland. In teenstelling is die All Blacks, benewens in die openingsnederlaag teen die Franse, net een keer deur die Iere in ʼn epiese kwarteindstryd getoets.

“Die All Blacks het die Wêreldbeker al drie keer gewen, ons het dit al drie keer gewen. Dit wedstryd is amper groter as net ʼn Wêreldbeker-eindstryd.

“Wie ook al wen, gaan vir die volgende vier jaar daarmee kan spog.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Samuel ·

As dit al is waarop SA’ners hulle hoop vir SA vestig, het dit baie laat in die nag geword.

Euodia ·

Ha ha hoe lag ek nou???????????? hier is klaar n lig in die tonnel……maar dis ‘n korrupte anc trein wat aankom. As ‘n land darem hoop dat ‘n beker die land van die anc sal red het ek slegte nuus vir julle. Dit gaan nie werk nie Sticks.

Hendrik ·

Stem saam. Met die vorige wereldbekeroowinning, Japan, het baie geglo uiteindelik is die reenboognasiedroom verwesenlik en kyk ons is steeds besig om in die afgrond af te tuimel.

Elmarie ·

Enigiets positief is vir my ‘n positief. Ja, ja, ja ek is 100% bewus van korrupsie, misdaad ens ens maar regtig ek probeer net hard om positief te wees en elke iets wat positief is neem ek in my hart. En daar ís baie, kyk net om jou? Go Bokke! Wen of verloor, ek bly aan jul kant. Vir my en jy gesin se ontwil sal ek altyd hard probeer om iets positiefs raak te sien

Andre ·

As die laaste wen ons op hierdie pad van ellende geplaas het, wil ek nie sien as ons more verloor nie!!

domheks ·

Bokke, julle moet lig loop vir die ALL BLACKS! Se maar net…

H.A. ·

Ramaphosa gaan Frankryk toe (vir wat ?) Soek seker ondersteuning vir die anc. Ramaphosa, Putin gaan nie daar wees nie!

Lettie ·

Sedert 2019 is ons net teleurgestel deur die ANC. My kleinkinders bly in NZ. Hul doen goed vir hulself. Kaders sorg vir hulself en wie voed hul arm kinders?

Karoo ·

Ai… dis amper verby, nog net 1 dag en dan kan alles na “normaal” terug keer.

Kokerboom ·

Stick..Hoe gaan dit gebeur?
Gaan Eskom meer ligte aanhou?
Gaan ANC minder plunder en wanbestuur?
Gaan man in straat meer besteebare inkomste hê?
Vertel ons ASB!!!

Vonkprop ·

As die ANC verdwyn, dan sal dit sommer die tonnel verwyder en ons sal 360° lig hê in SA.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.