Bokke dis vlugvose spel in Adelaide op

Makazole Mapimpi kon nie sy driedrukpoging afrond nie. Foto: Brenton Edwards/AFP.

Nee man, wanneer gaan die Springbokke ooit weer ’n rugbywedstryd in Australië wen?

Ná 80 minute se spel het die Wallabies weer eens die uitklophou op hul tuisveld geplant toe hulle die Wêreldkampioenspan met 25-17 op die Adelaide Oval geklop het.

En selfs die grootste Springbok-ondersteuner sal saamstem: Siya Kolisi se span het eintlik vandag glad nie na die houer van die Webb Ellis-trofee gelyk nie.

Verdediging is een van die boustene van die Suid-Afrikaners se spel, maar die Aussies het sommer met hul openingsalvo al gate daarin geslaan toe Fraser McReight ’n drie binne 65 sekondes ná die afskop gedruk het.

Net soos teen die All Blacks op Ellispark moes die Springbokke weer inhaalrugby speel. Voeg daarby Handré Pollard wat met radarprobleme gesukkel het – die losskakel het met twee agtereenvolgende stelskoppogings skeef gekorrel – en ’n agterstand van tien punte het die besoekers in die gesig gestaar.

Tog het dit gelyk of die Suid-Afrikaners hulle daarna begin regruk en hulle het vir ’n goeie 20 minute op die Aussies se doelgebied geboer.

Sonder om enige punte aan te teken.

Ja, ’n mens kan beslis oor ’n paar dinge kla. Hoe het Paul Williams (skeidsregter) vir James Slippers en Kie met hul verdagte skrumwerk laat wegkom? Het Marika Koroibete ooit sy arms gebruik toe hy ’n vlieënde Makazole Mapimpi op die Aussie-doellyn platgetrek het?

Dan verdien Nic White ook ’n Oscar vir sy vertoning agter die skrum in die aanloop tot Faf de Klerk se geel kaart.

Faf de Klerk en Siya Kolisi praat met skeidsregter Paul Williams. Foto: Brenton Edwards.

Die Springbok-skrumskakel het probeer om die bal uit Aussie no. 9 se hand te klap. Sy tydsberekening was effens uit en hy het vir White skrams teen die wang getref.

Die 32-jarige skrumskakel het egter soos ’n sokkerspeler op sy knieë geval en beter toneelspel as die meeste sepie-akteurs gelewer.

Williams het ’n rukkie later ’n oorblufte De Klerk van die veld gejaag. In die SuperSport-ateljee het Butch James-hulle White se optrede as ’n verleentheid vir rugby bestempel.

Tussendeur al die drama moet ’n mens nie van die Springbokke se onvermoë om punte aan te teken vergeet nie.

Hul rolmaalbewegings het hoegenaamd nie vir momentum gesorg nie, terwyl hul hanteerwerk ook baie swak was. Kwagga Smith se twee drieë was hopeloos te laat om enige verskil in die uitslag te maak.

Die Bokke het vlugvose spel opgedis en al die praatjies vóór die wedstryd dat hulle oorgehaal is om met ’n “spesiale vertoning” vorendag te kom, het lelik geboemerang.

Diegene wat Jacques Nienaber se spankeuses bevraagteken, het ook lekker skietgoed gekry toe Joseph Dweba met sy eerste lynstaangooi gesukkel het.

In ’n neutedop het dit glad nie gelyk of die Bokke hierdie wedstryd wil wen nie.

  • Puntemakers:

Wallabies: Drieë: Fraser McReight (2) en Marika Koroibete. Doelskoppe: Noah Lolesio (2). Strafskoppe: Lolesio (2).

Springbokke: Drieë: Kwagga Smith (2). Doelskoppe: Elton Jantjies en Jaden Hendrikse. Strafskop: Handré Pollard.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Leon ·

Die skeidsregter deel nie klappe uit. Die skeidsregter slaan nie die bal aan nie. Die skeidsregter speel nie onkant nie. Ook seker sy skuld dat Pollard nie n bal kan oorskop nie ? 1 of 2 oordeels foute aan sy kant sou nie die bokke laat wen het nie

twaalfboor ·

Leon ek dink nie jy het die wedstryd gekyk nie. Die skeidsregter en assistente was pateties. Moenie die bokke weggooi nie, hulle was ook maar platvoet. Maar sekere “calls” of “non-calls” van skeidsregters kan ñ wedstryd maak of breek. Koroibete aanslag op Mapimpi was skokkend en ñ geel kaart of self ñ rooi werd. Maar Faf kry ñ geel vir drama queen se snor wat omgekrap word. PATETIES verby.

vuurvliegie ·

Praat van swak Sportmangees. Die hele media is vol verskonings oor die Bokke se pakslae. Waar is die grootmond ondersteuners wat glo die Bokke is groot en sterk, waardige wereldkampioene? Plaas dat hulle eerder ‘n nuwe rugby reelboek oplees voordat hulle swak ongepasde kommitaar lewer oor die skeidsregters foute. Feite is– Die Bokke het pateties gespeel tesame met swak spankeuses. Tyd vir nuwe bloed in die Bok kamp wat die afrigtersspan insluit.

Boer ·

Hier is my siening, Duane Vemeulen, Dweba, Ox Nche en Frans Steyn is glad nie in vorm nie. Daardie manne moet soos die All Blacks maak en hulle stuur om net ‘n bietjie klubrugby te speel net om te herstel, nie vir hul provinsie net vir die klubs waar hulle begin speel het nie. Daar is in elk geval spelers wat ‘n kans moes gehad het soos ‘n Roos, Elrigh Louw, Deon Fourie selfs Thomas Du Toit, Esterhuisen, dis net ‘n paar name. Ja die ref was nie altyd reg nie maar ons moet aanpas by die ref. Rassie gaan beslis die video van Saterdag vir die span wys, hulle terugbring aarde toe en dan gaan die bokke daai Aussies seermaak die naweek. Ek glo ons sal hulle verneder en Nick White is nou ook die speler met ’n groot teiken op sy rug. Gaan bokke.

SjN ·

Boer, Jantjies kan ook by jou lys gevoeg word, dit lyk amper soos n klugspel.

Kuver ·

Jy het van kolisie vergeet, hy is onfiks en n patetiese kaptein, maak liewer vir Am kaptein

Treurwilger ·

Sou Faf de Klerk die ander wang vir White draai in ‘n omgekeerde situasie?
Sterk te betwyfel.

vuurvliegie ·

Vir my was dit ook baie aansit maar die Wereld Rugby reels het in Maart 2021 verander waarby “Head Contact Process” baie swaar gestraf gaan word.
Jy ken duidelik nie jou rugby reels nie. Under 9.11, the referee is always entitled to issue a red or yellow card for anything deemed to be reckless or dangerous. Google dit

007 ·

Rassie se gabba is baie meer in Rassie se skadu as wat ons dink. Hy is nie n goeie afrigter nie net ‘n boesem vriend van Rassie.

twaalfboor ·

Hy piggy back op Rassie se sukses. Selfde gewees met Allister Coetsee en Jake White.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.