Bokke maak pasta van Italianers

Suid-Afrika se Pieter-Steph du Toit word geduik tydens die wedstryd teen Italië in Japan. (Foto: Shuji Kajiyama/AP)

Wanneer jy die dag ʼn kragmeting in die Wêreldbeker-rugbytoernooi met 49 – 3 wen, behoort daar mos geen klagtes oor jou vertoning te wees nie, al was daar ʼn paar klein dingetjies wat hier en daar gekrap het.

Die Springbokke het Vrydag in Sjisoeoka al die boksies afgetiek toe hulle Italië met 49 – 3 oorrompel het nadat die Bokke rustyd reeds met 17 – 3 voor was.

Die Bokke, wat nog net teen Kanada moet speel, is nou seker van ʼn plek in die kwarteindronde nadat hul sewe drieë gedruk het vir ʼn maklike bonuspuntsege.

Ja, sal van die ondersteuners kla, alles is nog nie klopdisselboom nie, die spel het te maklik losgetorring het en só sal die Bokke nie die All Blacks ontspoor nie. Hulle skop nog te veel en takties nie in die kol nie, hulle kan die bal meer wyd speel.

Maar gee ook krediet waar dit toekom, dat die Bokke ʼn yslike pak voorspelers het wat vir niemand hoef terug te staan nie en dat hulle snellers soos Cheslin Kolbe het wat enige span se verdediging aan flarde kan ruk.

Pieter-Steph du Toit hardloop in Italia se Luca Morisi in tydens die wedstryd in Japan. (Foto: Kyodo News/AP)

Dink maar terug aan 1995 toe die Bokke teen Roemenië en Kanada gesukkel het, aan 2007 toe die Bokke deurgeskraap het teen Tonga en Fidji, maar elke keer die Webb Ellis-trofee omhoog gehou het.

Die Italiaanse afrigter, Conor O’Shea, het ʼn paar weke gelede gesê dat hulle die Bokke wil klop. Die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, was glo lugtig en het gesê dat hy nie lekker slaap nie en rondrol.

Geoordeel aan Vrydag se oorwinning, was dit blote kopspeletjies.

Die Azzurri kan gelukkig wees dat daar vir langer as 70 minute onbetwiste skrums was nadat albei hul vaskopstutte, Simone Ferrari (dyspierbesering) en sy plaasvervanger, Marco Riccioni, (harsingskudding), nie kon voortspeel nie.

Die Bokke het in die eerste paar skrums die Italianers reeds verflenter en het toe op hul rondmale staatgemaak om die Italianers poegaai te dryf, te maal en voos te speel.

En toe die Italianers se Andrea Lovotti (rooi kaart) en Nicola Quaglio (hy was gelukkig om nie ook afgestuur te word nie) die Springbok-agtsteman, Duane Vermeulen, met sy kop eerste skuins ná rustyd in die grond boor in ʼn oomblik van waansin, was die slag finaal geslaan.

Was dit net pure frustrasie of het die Italianers werklik verwag dat hulle fisiek met die Bokke kan meeding? Het hulle enigsins voorsien dat hul plaasvervangersbank (almal speel vir Benetton in die Pro14-reeks) teen die Bok-hardebaarde sou kon meeding?

Cheslin Kolbe druk ‘n drie teen Italië tydens die Rugby Wêreldbeker in Japan. (Foto: Kyodo News/AP)

Het hulle enige planne gehad om die vlugvoetige Kolbe aan bande te lê?

Daar is nog ʼn lang paadjie te loop, die Bokke sal in die halfeind (as hulle in die kwarteindronde met Japan, Ierland of Skotland klaarspeel) met Engeland of Wallis te doen kry en dan wag Nieu-Seeland in die eindstryd as albei spanne so ver vorder.

Haal maar die hoed (tot dusver) af vir die Bokke, want hulle verdien elke punt en elke oorwinning waarvoor hulle so hard werk, al speel hulle nog nie die wêreld aan die brand nie.

* Punte: Suid-Afrika 49 (17): Drieë: Cheslin Kolbe (2), Bongi Mbonambi, Lukhanyo Am, Makazole Mapimpi, RG Snyman, Malcolm Marx. Doelskoppe: Handré Pollard (4). Strafdoele: Pollard (2).

Italië 3 (3): Tommaso Allan.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

46 Kommentare

Siener ·

Waar is die manne wat altyd kla oor die skeidsregter en hoe hulle die Bokke verneuk? Niemand gaan seker oor die skeidsregter kla nie want die Bokke het gewen.
Geluk aan die Bokke

Poot ·

@Siener
Wel hier is ek. Al wat ek kan sê is al wat Kolisi bewys het is dat hy sub-standaard is. Drie strafskoppe afgestaan. As Rugby SA nou ñ kwota kaptein MOET kies sal dit Bongi MOET wees. Hys ñ yster saam Kolbè.

Genieve ·

Ek moet se Faf het n goeie game gehad vandag so speel n mens rugby…mooi gespeel manne en geluk aan julle…Go Bokke jou doring Cheslin

Uilspiëel ·

Kom ek lê n eier oor d skeidsregter…. hy het die Springbokke se 3 deur Steph fu Toit omgeswaai oor obstruksie deur Kolisi. Maar hoeveel keer het d Italianers dit gedoen en net 1 maal het hy laggende met hulle daaroor gepraat.

Karl ·

Ag asseblief, dan kan ek gaan en se die handelingsfoute en penalties is baie hoog vir ons en teen italy, so die ref het vir ons geblaas – soos julle gekerm het met die AB.

Laetitia ·

Voorspelers was uitstekend. Lood de Jager was uitmuntend.

Nico ·

Ek hierdie wedstryd verg ‘n ondersoek van die knoei polisie. Soos wat die 2 afrigters kinderagtig aangegaan het na die aanloop van die wedstryd was dit ‘n klug. Ek het maar net na kommentaar op die radio geluister en om te hoor op watter manier Italië so negatief gespeel laat vrae ontstaan oor die ware wedstryd. Tel man op en boor hom in die grond NA fluitjie blaas. Slaan bal doelbewus in kamtige onderskepping aan. So was die wedstryd vol doelbewuste foute. Dan is daar hoog aangeskre bokke wat doelvewus onkant staan en opstruksie pleeg wanneer sy trop ‘n drie gaan druk. Neewat soos baie sport deesdae was hierdie ‘n klug van ‘n wedstryd.

Poot ·

@Grootpraat
Size is nie als nie. Kolbè bewys jou stelling verkeerd.

Vita ·

Grootpraat dit baie duidelik dat jy geen rugby kennis het nie,Kolbe die beste in die span,

PW kROKODIL ·

Kolbe jou doring jy is beslis staal die res in WB sal dit nie sien kom nie praat van vaart en afronding maak ons trots!

F ·

Die Springbokke laat my koud. Weet nie wie en wat hulle verteenwoordig nie. Ek steun NZ.

Lalie ·

Haal no 9 asb uit die span uit. Hy is nie Joos nie en sal ook nooit wees nie. Skop skop skop skop. Ai

Vintcent ·

Kolisi, Faf en Willie moet gaan. Eersgenoemde is nêrens nie en laasgenoemde twee se flaters oorheers hul spel. Dit is nou ‘n chroniese verwikkeling by hierdié drie.

Jakes ·

As Rassie meen dat sy span gereed is vir die kwarteindrondte dan droom hy lekker. Italia is die swakste span in die 6 nasies en 13 de gekeur op die wereldranglys. Met net14 man teen ons het die bokke gesukkel om punte te kry. Kolby lyk en soeel soos n bok moet speel. Weereens het Willie en Faf soos ou tannies geploeter. Kom ons kyk wat maak NZ met Italia dan praat ons weerm

Buffel ·

Bokke se agterlyn was pateties. Hantering was absoluut power.

Kerneels ·

Watter game het jy gekyk….? Slegs Willie paar swak aangees gemaak.

Buffel ·

@kerneels – gaan kyk die wedstryd weer (dalk vir die eerste keer) en tel hoeveel aangee in die bok agterlyn was agter die speler gegooi, hoeveel aangee vorentoe, te hoog, te laag of mis die speler algeheel.

Frans C ·

Die Bokke was voorlangs hopeloos te sterk vir Italië.Onbetwiste skrums het die bokke se wedstrydplan in die wiele gery ,as dit ‘ n boksgeveg was sou die skeidsregter vir die een bokser verbied het om sy regterhand te gebruik want dit het sy opponent te seer gemaak.

Hy kon dus met sy linkerhand ‘n paar reguit linkers en hier en daar ‘n haakhou gebruik om punte aan te teken.Dit was aan die een kant ‘n goeie vertoning en aan die ander kant
kon ‘n mens nie veel wys word nie.Een ding is seker sonder Vermuelen is dit ‘n veel swakker span en is ek bly dat hy nie ernstig seer gekry het,want ek dink Kolisi is ‘n goeie provinsiale speler maar nie ‘n Springbokkaptein nie.Hy was hopeloos te veel ‘n passasier
wat staan ek kyk het hoe ander dit voor uitspook.

Sou hom met Mostert vervang het wat vinnig genoeg is en nie bang is om sy lyf op die spel te plaas nie.Dit sal onmiddellik meer opsies in die lynstaan gee en behoort hy en Du Toit goed saam te speel,want altwee is atletiese spelers wat die bal goed kan dra.

Poot ·

@aj
Nêrens is ñ baie sterk stelling. Die bokke is in die kwarteind….. dis “iewers”. Almal wat so anti-bok is gaan humble pie vreet wanneer die bokke die WB wen. O neeee….. dan sal dit seker net ñ gelukskoot wees.

Frank ·

Man, as ons net ‘n blaser kan kry wat redelik neutraal blaas, sal dit sommer baie help. Dan het niemand niks te sê nie want dan wen die beste span (behoort). 15 teen 16 werk nie op hierdie vlak nie.

sweis ·

Ek stem hulle is nie eers helfde so goed soos die all blacks nie.

Meisie v d Vyver ·

Baie bly die rugby span het gewen en Rassie moet nou nie weer fie span verander nie maar dis nie fegvetdig om hul bokke te noem nie Hulle is uit en uit proteas die arme springbok sal beledig voel hy word lankal nie meer verder nie so noem hulle liewer protea

Poot ·

@Meisie vd Vyver
Hulle sal BOKKE bly. Jy kan hulle maar proteas noem. Vir my en miljoene ander is hulle Bokke….. punt.

M vd vyver ·

Sodra die bok embleem weer op sy regte plek is op die rugby trui sal ons weer glo dat hul springbokke is Vat die protea weg asb dit hoort by vroue spanne en nie by manne nie

Poot ·

@Grootpraat
Size is nie als nie. Kolbè bewys jou stelling verkeerd.

SjN ·

Sekere spelers raak n verleentheid vir die Bokke. Met huidige speelvlak gaan hul dit nie maak nie.

Donald ·

Ook moeg vir kwotas. Maar 5 van 7 drieë is gedruk deur kwota spelers. Twee blanke spelers moet waai. Faf en Wille. Dit is soos dit is. Kolisi het vaardighede gelyk aan Bobby Skinstad. Kyk mooi.

Louis leeu ·

Hierdie was n wen ja maar n gemiddelde vertoning teen n span met 14 spelers en skrums wat nie plaasvind nie,wat gaan voorentoe gebeur teen die groot kanonne.Hou maar duim vas.

Niklaas ·

Goed gespeel. Kolbe en Bongi was puik. Maar Italië is nie die beste en sterkste teënstanders nie. Die groot toets is Wallis , Engeland en dan natuurlik die All blacks

JohanL ·

Die Bokke (nie die Proteas nie – hulle speel tans in Indie) moes die wedstryd wen anders was WB verby. En dit het hulle gedoen met ‘n bonuspunt. So welgedaan. Min spanne lewer elke wedstryd die perfekte vertoning en ek kan maar net hoop dat die Bokke hul perfekte en beste vertonings in die uitspeelrondtes gaan lewer. Dan is al die gemiddelde vertonings in poelwedstryde vergete.

‘n Ander hoek. Ja, die voorspeler puriste het nie gehou van die onbetwiste skrums nie. Maar ek moet erken dit was nogal ‘n plesier om te sien hoe min tyd gemors word by die skrums wat gewoonlik 2-3 keer oor gevorm moet word. Die spelers het minstens 5-10 minute ekstra speeltyd ingekry en was seker lekker moeg :)

Johan ·

Raak net onslae van die wedstrydplan dat Faf alles regop in die lug moet skop, en dinge kan beter gaan. Willie moet uit. Ek weet nie wat maak ons dan met ‘n heelagter nie, want Frans Steyn lyk vir my die logiese keuse, maar is hy fiks genoeg?

Kolisi is in die span omdat ons almal weet waaroor, maar gaan liewers nie sê nie, anders word hierdie skrywe nie geplaas nie.

Huidig vaar ons goed hier teen die kleiner spannetjies, met Faf se swak skoppe en al. Maar soos Buffel sê, is ons agterlyn se samespel pateties!! Ons moes gister tenminste 70 punte opgestapel het.

Ten laaste wil ek die bont-skoen-tuinkabouters geluk wens met die oorwinning. My bekommernis is egter dat die All Blacks te veel disseplinne gaan hê in die toernooi. Kyk net na hul skoene……..almal swart en netjies. Ons ouens kyk hoe baie verskillende kleure skoene hulle kan aanskaf, dis belaglik. SA-Rugby moes ‘n ultimatum gestel het en bepaal het, almal dra dieselfde kleur skoene! Dit bring eenheid en spangees, wat ons nou so nodig het……

Poot ·

@Johan
Stem saam met jou oor die kleur van die skoene. Genade dit lyk soos ñ klomp sirkus narre.

Nico ·

Watter amok sou Kolbe nie gemaak het as hy in Danie Gerber, Carel Du Plessis, Naas Botha, Gyse en ander van daardie tyd kon gespeel het nie. Kolbe probeer soos Danie verlede week op Toks en Tjops gesê het: jy speel, jy laat speel en jy speel weer, maar vandag se spelers en afrigters weet nie wat dit beteken nie anders sou afrigters nie net met vervelige skop rugby volhard het nie.

Transvaalse nooi ·

Ek hoop hulle verloor, dis n skande hoe daar vir kolbe met die hand gewys word hy kan maar loop, toe hy ook maar net probeer saamstaan, was dit nie vir hom nie het hulle verloor, dis nie die bokke wat gewen het nie, dis kolbe, ook hoe mooi hy dit hanteer toe daar nie plek vir hom gemaak is nie, skaam julle, julle is NIE N SPAN NIE, julle is rassiste, sies man, sies, julle land sal nooit regkom nie, want julle weet duidelik nie hoe om saam te staan nie, ek haal my hoed af vir Kolbe maar die ander klomp kan vir my part gaan bars

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.