Bokke, Neuschäfer en Steyn kan pryse losslaan

Vyf eerste plekke op ’n streep vir Gerda Steyn. (Foto: X/Two Oceans)

Rugbyspelers soos Eben Etzebeth en Siya Kolisi, sokkerster Percy Tau, langafstandatleet Gerda Steyn en die seevaarder Kirsten Neuschäfer is van die gunstelinge om pryse by die SA Sporttoekenningsgeleentheid los te slaan.

Die wenners word tydens die toekenningseremonie by die Sun City Superbowl op Sondag 5 Mei aangewys.

Sportvrou en sportster van 2023

Tatjana Smith kan in twee kategorieë met die groot prys wegswem. Die Olimpiese gouemedaljewenner kan die sportvrou sowel as die sportster van die jaar wees.

Neuschäfer en die krieketspeler Laura Wolvaardt se name is ook in die laasgenoemde hoed gegooi.

Wolvaardt se 184 lopies in die vrouekrieketspan teen Sri Lanka in Potchefstroom is die hoogste eendagkriekettelling nóg deur ʼn Suid-Afrikaanse vrouespeler.

Neuschäfer het die Golden Globe-seiljagwedvaart om die wêreld gewen en sy het terstond ook die eerste vrou geword om met die louere weg te vaar.

Sportster van die jaar

Bokkaptein Kolisi het die TIME100-lys van die invloedrykste mense in 2024 gehaal. Dié dubbele Wêreldbekerkampioen se naam is op die lys as sportster van die jaar, saam met Smith en paraplegiese atleet Simoné Kruger.

Kruger het as diskus- en gewigstootster haar land al verskeie kere met groot welslae verteenwoordig.

Sportman van die jaar

Kanoe-marathonatleet Andrew Birkett, Etzebeth en die bokskampioen Sivenathi Nontshinga is as sportman van die jaar benoem.

Birkett het vir vanjaar se Olimpiese Spele in Parys gekwalifiseer. Nontshinga is ’n tweemalige IBF-ligvlieggewig-wêreldkampioen, nadat hy die gordel van 2022 tot November 2023 omhoog gehou het en hy het vanjaar weer sy titel suksesvol verdedig.

Afrigter van die jaar

Rocco Meiring (swem), Jason Sewanyana (atletiek) en Jacques Nienaber (rugby), wat tans in Ierland is, is op die lys vir afrigter van die jaar.

Jacques Nienaber. (Foto: Romain Perrocheau/AFP)

Sportspan van die jaar

Die Springbokke, die nasionale vrouekrieketspan (T20) en die skaapskeerspan is die drie benoemdes in dié kategorie.

Paraplegiese atleet (mans)

Mpumelelo Mhlongo (atletiek), Donald Tebogo Ramphadi (rolstoeltennis) en David Watts (gholf) sal om die prys meeding.

Mhlongo het die 100 m vir mans in die T44-klas by 2023 se Wêreld-Para-atletiekkampioenskap gewen – met Suid-Afrika se eerste goue medalje. Hy het ook met die toekenning as Atletiek Suid-Afrika se topatleet weggestap.

Ramphadi sal ook aan die einde van Julie in Parys by die Paralimpiese Spele in aksie wees.

Swanepoel het tydens verlede jaar se Paralimpiese Wêreldswemkampioenskap die goue medalje in die 150 m- individuele wisselslag losgeswem.

Paraplegiese atleet (vroue)

Kruger, Kat Swanepoel (swem) en Kgothatso Montjane (rolstoeltennis) is die drie benoemdes.

Suid-Afrika se rolstoeltennisster Montjane en haar spanmaat Yui Kamiji van Japan het hul dubbelspeltitel by die Japan-ope verdedig. Die dinamiese duo het in die eindstryd met 6-0 en 6-1 met Saki Takamuro en Aniek van Koot afgereken.

Kirsten Neuschäfer is Wêreldseevaarder se vroulike seevaarder van die jaar. (Foto: X/World Sailing)

Ondersteuners se gunsteling

Eben Etzebeth en Gerda Steyn word saam met Tau, Kolisi en Neuschäfer benoem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.