Bokke se beste nie goed genoeg

Die All Blacks se flank Jerome Kaino op pad doellyn toe met Lood de Jager wat hom nie kon keer nie. (Foto: World Rugby)

Die All Blacks se flank Jerome Kaino op pad doellyn toe met Lood de Jager wat hom nie kon keer nie. (Foto: World Rugby)

Die All Blacks is deur na die eindstryd van die Wêreldbeker nadat hulle Suid-Afrika Saterdag naelskraap 20-18 op Twickenham geklop het.

Die Bokke kon geen drieë in die klipharde, goeie wedstryd druk nie en het in die lynstane gesukkel. Dáár het beslis iets gehaper. Dit is ook so dat die All Blacks weens Springbokdruk nie met die bal in die hand kon baljaar nie, maar hulle het na die eerste 20 minute of so besit heeltemal oorheers en die Bokke in hulle eie gebied vasgepen.

Maar dit was nietemin ’n wedstryd waarin die uitslag na een of die ander kant toe kon val en soos soveel kere tevore, kon die All Blacks die druk verwerk, twee keer  gaan druk en seëvier – ondanks moedige verdediging deur die Bokke.

Ons sal tot môre moet wag om te sien wie teen die All Blacks in die eindstryd gaan speel: Die Wallabies of Argentinië.

Albei die spanne het Saterdag vroeg gekapitaliseer sodra hulle in mekaar se helftes beland het. Handré Pollard het die Bokke se sterte op en hul neuse voor gekry met ‘n strafdoel in die derde minuut toe Kieran Read die Bok-rolmaal onwettig wou kelder.

Van die afskop af het die All Blacks soos hulle gebruik is die bal begin rondgooi en wyd laat loop. In die sesde minuut het ’n aangee van Ben Smith vir Jerome Kaino ná ʼn man-oor gevind en Lood de Jager het hom misgevat op pad doellyn toe. Dan Carter het verdoel.

Nieu-Seeland kon nie kla oor hul kanse nie. Hulle het die leeue-aandeel aan gebiedsvoordeel en balbesit in die eerste 40 minute gehad en het selfs twee lynstaanballe by die Suid-Afrikaners afgeneem. Dié patroon is na die breekslag voortgesit.

Maar die Bokke het die Nieu-Seelanders moedeloos geduik en hulle moes telkens rolskoppe gebruik om verby die groen verdedigingsmuur te probeer kom. Selfs dít was vergeefs. Anders as verlede week teen die Franse, het Julian Savea en Nehe Milner-Skudder maar ’n skrale invloed gehad.

Bryan Habana en Willie le Roux was sekuur onder die hoë balle, Francois Louw het die septer by die afbreekpunte geswaai en les bes was die Bokke baas in die eerste helfte se enkele skrums.

Pollard het met reëlmaat nog drie strafdoele voor die omdraaislag koeltjies deur die pale gejaag om die rustydtelling 12-7 vir die Bokke te maak. Asof dit nie genoeg was nie, het Kaino ’n geelkaart in die skadu’s van die eerste helfte ontvang nadat hy die bal vanuit ’n onkantposisie weggeskop het.

En toe begin die reën ook neer te sif soos die spelers in die tweede helfte uitgedraf het. Albei spanne se taktiese skoppery het voortgeduur en eerder as dat die Bokke Kaino se afwesigheid kon uitbuit, het Carter sy span se agterstand na slegs twee met ’n skepdoel laat krimp (12-10).

Die All Blacks het bly druk toepas met die bal in hand en in die regte areas van die veld te speel. Goeie kontinuïteit en opsies na omkeerbesit het tot ’n drie in die hoek gelei vir Beauden Barrett, wat Milner-Skudder vervang het. Carter het verdoel. (12-17).

Habana is in die proses ook nog vir 10 minute strafbank toe nadat hy die bal uit Aaron Smith se hande geklap het.

Pollard en Carter het daarna elkeen ’n strafdoel deur die mikke gejaag. Die Bokke het die konserwatiewe roete gevolg en hard geskrum terwyl Habana sy straf moes uitdien en het in sy afwesigheid nie nog drieë afgestaan nie.

Victor Matfield het ’n strafskop binne trefafstand omgekeer weens ’n nekrolbeweging op ’n All Black. Dit was ʼn twyfelagtige beslissing, veral gesien wat die Nieu-Seeelanders in dié opsig aangevang het, maar die drie (wen)punte was daarmee heen in ’n stryd waar elke punt en millimeter goud werd was.

Pat Lambie het vir Pollard vervang nadat dié se rug beseer is en hy het die punteverskil slegs twee met ʼn strafdoel gemaak. Die nat bal het moles gemaak vir beide spanne moles gemaak, maar die Bokke het hulself geen gunste bewys deur boonop ook lynstaanballe af te staan en nie takties slim te skop nie.

Die Bokke sal nou nog vier jaar moet wag om daardie gesogte trofee huis toe te bring, terwyl die All Blacks aanstaande Saterdag die eerste span kan word wat die Wêreldbeker drie keer wen en ook die eerste om dit in twee opeenvolgende toernooie te doen.

Punte –

Suid-Afrika 18: Strafdoele: Handré Pollard 5, Pat Lambie.

Nieu-Seeland 20: Drieë: Jerome Kaino, Beauden Barrett. Doelskoppe: Dan Carter 2. Strafdoel: Dan Carter. Skepdoel: Dan Carter.

Geelkaarte: Jerome Kaino, Bryan Habana.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

46 Kommentare

jongste oudste gewildste
Gerhardt

Ek wens dat eendag net eenkeer, die marginale besluite van rugbu skeidsregters in ons guns sal gaan. Ek weet NZ is beter as ons maar wen sal lekker wees.

Johann

Dit was voor die handligend dat die Springbokke gaan verloor. Die oomblik toe JP Pieterson wegbreek en n oop doelyn voor hom wapper toe blaas die skeisregter hom doel bewus af, “dood” net daar het ek geweet ons het Hierdie een verloor, want dit was n besliste 7 punte wat hy net daar geroof het. Jammer Springbokke maar ou maak nie teen veraaiers oorlog nie. Julle het uitstekend gespeel.

Franje van Spanje

Skiesies Bokke en Heyneke…. Julle was puik!

Ben

Nee mense, cowboys don,t cry! Ons het n vervelige patroon van neentien voertsek herhaal. Dit was vir seker n besluit van Meyer wat Du Preez met graagte uitgevoer het. Swak besluite en nie die skeidsregter nie, het ons hierdie een gekos. In hierdie tipe wedstryde skop jy die bal uit as jy naby joi doelyn is, maar nee, twee keer probeer ons met die bal weg MAALen druk die All Blacks en/of sit n strafskop oor. Wanneer sal ons begin besef dat ons bestes nie goed genoeg was nie? Die bestes, soos Jaco Kriel, moes by die huis bly.

Ben

Ja en hoeveel keer was die bal in die agterlyn af?