Bokke se veggees gee deurslag

Die Springbokke vier hul oorwinning teen Wallis. (Foto: Twitter/Springboks)

Veggees.

Dít som die Springbokke se oorwinning van 23 – 18 oor Wallis op. Dit is die eerste keer in sewe jaar wat die Bokke vir Wallis op hulle tuisveld kon klop.

Kaptein Siya Kolisi het dit die beste opgesom in ʼn onderhoud na die wedstryd toe hy gesê het Suid-Afrikaners het baie uitdagings, maar elke keer staan ons op. En die Bokke het nie gaan lê nie, al het elke aanval in die eerste helfte op niks uitgeloop nie.

Die wedstryd het alles gehad wat toetsrugby opwindend maak. Daar was selfs ʼn toeskouer wat op die veld gestorm het en Wallis se spoed naby aan die doellyn gebreek het.

Die tuisspan het duidelik hulle huiswerk gedoen en die Bokke se angels, die lynstane en skrums, ontwrig, grotendeels ook danksy ʼn paar vreemde beslissings deur skeidsregter Paul Williams in die eerste helfte. Daar was in die eerste helfte net een skrum en Williams het toegelaat dat die tuisspan die Bokke se lynstane met onwettige taktiek ontwrig.

Makazole Mapimpi hardloop pale toe. (Foto: Twitter/Springboks)

Dit het die Bokke se saak ook nie gehelp dat die kombinasie van Herschel Jantjies en Handré Pollard nie behoorlik aan die gang kon kom nie. Jantjies se boksskoppe het telkemale die Bokke se momentum gebreek en boonop balbesit afgestaan. Jaco Reinach was ʼn beter opsie en hy het onmiddellik ʼn verskil gemaak toe hy Jantjies vervang het.

Veral wanneer die Bokke voorlangs oorheers, sou mens verwag dat die gevaarmanne Damien de Allende en Lukhanyo Am meer hardloopkans sou kry met kwaliteit balbesit. Die Bokke se kragmanne voor het die Walliesers wel oorheers, maar swak afronding en swak dissipline het die Bokke keer op keer in hul spore gestuit. Wallis het ook soos reuse verdedig en strafskop op strafskop gekry. Teen rustyd het Dan Biggar die tuisspan met 12 – 9 laat voorloop.

Reeds vroeg in die wedstryd het Frans Steyn vir Damian Willemse op heelagter vervang nadat Willemse ʼn stamp teen die kop gekry het. Steyn het die geleentheid met albei hande aangegryp en skielik het die Bokke weer ʼn heelagter gehad wat met die bal wou hardloop en gapings kon slaan. Hy het boonop ʼn strafskop van 54 meter deur die pale gejaag.

Die tweede helfte was ʼn heel ander affêre en die blinknuwe voorry wat in die 45ste minuut op die veld gekom het, het ook nuwe vuur voorlangs gegee. Malcolm Marx, Steven Kitshoff en Vincent Koch het geen ander plan gehad as om die Drake te boelie nie. Dit was die einste Marx wat vanaf ʼn lynstaan-rolmaalbeweging die enigste drie van die wedstryd gedruk het.

Volgende Saterdag speel die Bokke teen Skotland op Murrayfield in Edinburg. Aphelele Fassi verdien ʼn kans om sy vaardighede te wys en Sbu Nkosi sluit ook hierdie week by die span aan. Elton Jantjies het weer gewys watter impak hy kan maak en dalk kan Pollard doen met ʼn blaaskans.

Puntemakers:

Wallis 18 (12)

Strafskoppe: Dan Biggar (5)

Suid-Afrika 23 (9)

Drie: Malcolm Marx

Strafskoppe: Handré Pollard (4), Frans Steyn, Elton Jantjies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

46 Kommentare

jongste oudste gewildste
Dries

Geluk Bokke.Ek wens ons manne se ingesteldheid voor games kan soos die ABs wees.Kiwis het Wallis n merske pak gegee.Ons moes ook.Maar ons broeke bewe as ons die woord WALLIS hoor

Pieter

Vanoggend is almal hier weer beswaard. Lippe teen die klippe. Eina.

MakersMark

Goeie wen Bokke, moeilike omstandighede, skeidsregter gee net een skrum in eerste 40 min en probeer Wallis beskerm deur “voordeel” vir minute toe te pas. Wallis kom weg met moord in eerste helfte in die lynstane en bok dryfbewegings. In 2 de helfte word ‘n duidelike drie vir die bokke nie toegedien nie. Maar toe daai bok voorspeler bus eers ry in die 2 de helfte toe lyk Wallis soos skoolseuns in die skrums en dryfbewegings. Bomb squad voorry het hul pap geskrum. Frans Steyn, Kwagga en Kolisi het fantastiese wedstryde gehad. Kolisi was uitstekend moet ek sê as speler… Lees meer »

piet

Nie die wedstryd gesien nie. Het ons weer alles weggeskop, telling lyk naby?

Samuel

Welgedaan. Wen weer teen die Skotte.