Bokke weer in lewende lywe te sien

S’bu Nkosi duik oor vir een van sy drieë teen Argentinië op Loftus Versfeld. Foto: GB Jordaan.

Daar is ’n lig aan die einde van die donker tonnel.

SA Rugby (Saru) het vandag aangekondig dat kaartjies vir die komende Springbok-tuistoetse vanaf volgende week (9 Maart om 12:00) beskikbaar sal wees.

Die wêreldwye Covid-19-pandemie het ook amok in die sportwêreld gemaak en die laaste Springbok-tuiswedstryd waar toeskouers toegelaat is, was vóór Siya Kolisi die Webb Ellis-trofee in Japan omhoog gehou het.

Die Bokke het op 17 Augustus 2019 vir Argentinië met 24 – 18 op Loftus Versfeld geklop en rugbyliefhebbers was toe bevoorreg om S’bu Nkosi se akrobatiese vaardighede eerstehands te beleef toe die agterspeler in die hoekie vir ’n drie oorgeduik het.

In 2020 het die Springbokke glad nie internasionale rugby gespeel nie, terwyl verlede jaar se kragmetings teen die Britse en Ierse Leeus en die Argentyne agter geslote deure aangebied is.

Deesdae word daar egter weer 2 000 ingeënte toeskouers by plaaslike wedstryde toegelaat en Saru hoop dat die beperkings in die komende weke verder verslap sal word: Springbokrugby lyk immers net soveel beter as die spelers voor duisende toeskouers kan speel.

Die regering se heersende gesondheid- en veiligheidsvereistes ten tye van die wedstryde sal in plek wees en rugbyondersteuners word versoek om seker te maak dat hulle ingeënt is om toegang tot die stadions te verseker.

Maar indien alles volgens plan verloop, sal die Springbokke op 2 Julie vir die eerste keer in amper drie jaar voor toeskouers speel wanneer hulle teen Wallis op Loftus Versfeld kragte meet.

Kaartjies is by Ticketpro en Computicket beskikbaar, terwyl daar ook ’n spesiale vergunning vir FNB-klante gemaak word – hulle het reeds op 7 en 8 Maart toegang tot die kaartjieverkope.

  • Bepalings en kaartjiepryse:

Reeks teen Wallis:

2 Julie in Pretoria – kaartjiepryse wissel tussen R150 en R1 000.

9 Julie in Bloemfontein – kaartjiepryse wissel tussen R150 en R1 000.

16 Julie in Kaapstad – kaartjiepryse wissel tussen R150 en R1 250.

Rugbykampioenskap:

6 Augustus teen Nieu-Seeland in Nelspruit – kaartjiepryse wissel tussen R150 en R1 500.

13 Augustus teen Nieu-Seeland in Johannesburg – kaartjiepryse wissel tussen R200 en R1 500.

24 September teen Argentinië in Durban – kaartjiepryse wissel tussen R150 en R800.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Philip ·

Dankie maar nee/dankie stel lankal nie meer belang nie en dan word die eensydige kommentaar nog in jou keel afgedruk is daar nie meer blanke spelers wat uitblink nie of hoort hulle op die agtersitplek.

twaalfboor ·

Net 2000 toeskouers. Hoe bepaal SARU die kaartjie pryse van R150-R1000? 2000 toeskouers kan sekerlik almal op die hoof paviljoen pas.

Marius ·

Net ingeënte toeskouers ? Hou maar jul rugby. Ek koop eerder braaivleis en kuier saam met my gesin.

Pietertjie ·

In lewende lywe? Dis seker om op te maak vir die dooie vertonings.

Anel ·

Stel lankal nie meer berlang nie. Ek wil net weet hoe kan hulle net 2000 mense op ‘n paviljoen toelaat as die paviljoen tot 62 000 mrnse kan akkommodeer? Dis siek. Elke persoon kan omtrent ‘n blok vir homself hê! Wst is dan die doel? En die dpul moet tog net nie vergeet om gespuit te wees nie. Nou wonder ek as mense nou gaan besluit om dit te boikot agv al die mal reëls.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.