Bokke wen veldslag, maar nie oorlog

Jasper Wiese het met sy kraglopies beïndruk. Foto: Phill Magakoe/AFP.

Die Springbokke het weliswaar vandag vir Argentinië met 38 – 21 in Durban geklop, maar hulle het nie genoeg gedoen om die Rugbykampioenskap-titel te verower nie.

Die trofee sal weer eens in ʼn Nieu-Seelandse vertoonkas staanplek kry nadat die Suid-Afrikaners nie daarin kon slaag om die wedstryd met ʼn bonuspunt te wen én die besoekers met ten minste 39 punte te verrinneweer nie.

Toegegee, die Springbokke het hul bes probeer om die punte in te ryg, maar verbroude geleenthede, vreemde skeidsregterbeslissings en hopeloos te veel vertroue in hul rolmaalbeweging het hierdie droom uiteindelik gekelder.

As klipharde voorspelerspel ʼn kuns was, sou die Suid-Afrikaners ongetwyfeld onder die groot meesters getel het. ʼn Span moet egter ook sy agterspelers gebruik om die prentjie mooi in te kleur en Makazole Mapimpi en kie het bitter min van die bal gesien.

Die Bok-bloudruk om punte aan te teken kan waarskynlik stap vir stap verduidelik word:

  1. Dwing strafskop in skrumsituasie af (dankie Frans Malherbe).
  2. Skop bal oor kantlyn.
  3. Probeer om vir Eben Etzebeth in die lynstaan te vind.
  4. Begin met rolmaalbeweging.

Dit kan natuurlik baie doeltreffend wees, maar wanneer die Springbokke vir die soveelste keer dieselfde resep volg, gaan die teenstanders met ʼn teenvoeter van hul eie gereed wees.

Suid-Afrika se voorspelers het twee drieë gedruk, terwyl die Argentyne se swak dissipline vir twee strafdrieë gesorg het.

Die agterlyn kon eers in die 80ste minuut saam gesels toe Kurt-Lee Arendse ʼn goeie poging afgerond het.

Ja, Suid-Afrika wen wedstryde en daaroor kan ons trots wees. Maar wanneer daar punte gejaag word kan dieselfde plan nie die heeltyd gevolg word nie.

Jy kan soms iets anders ook probeer.

  • Puntemakers:

Springbokke: Strafdrie (2), Jasper Wiese, Siya Kolisi en Kurt-Lee Arendse. Doelskoppe: Frans Steyn (3). Strafskop: Steyn.

Argentinië: Drieë: Gonzalo Bertranou, Juan Martin Gonzales en Matias Moroni. Doelskoppe: Emiliano Boffelli (3).

  • Finale puntestand:
  1. Nieu-Seeland: 19 punte (punteverskil +19)
  2. Suid-Afrika: 18 punte (punteverskil +45)
  3. Australië: 10 punte (punteverskil -52)
  4. Argentinië: 9 punte (punteverskil -60).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

SjN ·

Geluk met die oorwinning, voorspelers bring hul kant maar agterlyn nie, die bal word nog te veel weggeskop, vleuels kry nie die balle nie, oom Willie en Frans en nog een of twee kanidate se selling by date is verby en nuwe bloed moet ingebring word.

Frank ·

Ja nee, daardie skoppie-tjies van agter die skrum in ons eie kwartgebied het my teen die mure gehad… EEN keer het die bal vleuel toe gegaan, en toe is daar ‘n drie.

Kuver ·

Ek neem aan almal was tevrede met die ref, sa het mos gewen en 2 straf driee gekry.

Elma ·

Tevrede met die ref? Nee o aarde, hy was pateties! Eben ook maar altyd n gemerkte man. 1 Puma tip tackle n ander Puma, VOOR Eben se stampie. Geelkaart vir Eben.

MakersMark ·

Ref was pateties, maar aan albei kante van die spel. Hy het in my opinie nie een span probeer bevoordeel nie hy was net swak.

Niklaas ·

Die skeidsregter se skril fluitjie het veroorsaak dat die gehele wedstryd ‘n besonder vervelige , eentonige getjommel was. Frans se eerste aantal minute was maar huiwerig en vol foute. Dalks het die senuwees erg gepla. Wat duidelik was vir die kykers is die baie talent wat ons deesdae in die vleuel posisie het met Kolbe , Mapimpi , Arendse en ook Moodie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.