Boksburg-pa brand huis af; sterf saam met kleuter

Die plakkershuis waar die pa en sy kleuter gesterf het (Foto: Verskaf/ANA)

ʼn Pa en sy driejarige dogter het Donderdagoggend in die Ramaphosa- informele nedersetting in Boksburg verkool nadat hy glo die gesin se plakkershuis aan die brand gesteek het.

Die plakkershuis was omstreeks 05:00 “in vlamme gehul”, het die Ekurhuleni-munisipaliteit gesê. Die man se twee ander kinders, ʼn vyfjarige dogter en sewejarige seun, het slegs geringe beserings opgedoen.

Bure was reeds besig om die vlamme met emmers water te probeer blus toe die brandweer by die toneel opgedaag het. Toe die brand geblus is, is die verkoolde oorskot van die man, in sy 40’s, en die driejarige dogtertjie onder die puin gevind.

“Die pa het vermoedelik doelbewus die plakkershuis aan die brand gesteek met al drie kinders binne. Die twee ander kinders kon voor die brand ontsnap.”

Die kinders het om hulp geskree en toe die bure opgedaag het, het die pa homself en die driejarige in die huis toegesluit en die brand gestig.

Die bure het gepoog om die deur van die plakkershuis oop te maak, maar dit was te laat om die pa en sy dogter te red. Die ma was nie tydens die voorval tuis nie.

Die munisipaliteit het gesê die seun en dogter is na Bertha Gxowa-hospitaal in Germiston geneem vir mediese- en sielkundige behandeling.

Die polisie stel ondersoek in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.