Boksburg-sakeman vas oor beweerde goudsindikaat

Argieffoto ter illustrasie Foto: Agnico-Eagle Mines Limited via Wikimedia Commons

Argieffoto ter illustrasie Foto: Agnico-Eagle Mines Limited via Wikimedia Commons

Nog ʼn verdagte wat glo verbind kan word met die berugte “Bezuidenhout-groep” is Dinsdag deur die Valke en die SAID in hegtenis geneem tydens hul volgehoue ondersoek oor onwettige goudhandel.

“Die ‘Bezuidenhout-groep’ is ʼn beweerde onwettige goudhandelsindikaat wat vroeër vanjaar in die nuus was toe vyf van sy vermeende lede in hegtenis geneem is op aanklag van swendelary, geldwassery, ernstige belastingoortredings en misdrywe wat verband hou met die Wet op Edelmetale en die Wet op Tweedehandse Goedere,” het Luther Lebelo, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), in ʼn verklaring gesê.

Die saak is gevolglik tot 30 Oktober uitgestel vir verdere ondersoek.

“Die ‘Bezuidenhout-groep’ het na bewering meer as 16 000 vervalste fakture uitgereik om verkope van tweedehandse goue juweliersware ter waarde van R442 miljoen te reflekteer,” het Lebelo bygevoeg. “Hierdie bedrieglike aankope is gebruik om 14% BTW te eis in die periode 2010 tot 2012.”

Volgens Lebelo het die SAID skade van ongeveer R50 miljoen gely as gevolg van dié skema.

“Sedert die vyf persone se inhegtenisneming, het verdere ondersoek bykomende verdagtes aan die lig gebring wat in verskeie rolle aan die sindikaat deelgeneem het. Van persone wat die skema finansier het, tot onwettige goudsmeltery en die fabrisering van dokumente om onwettige goud as tweedehandse juwele te verbloem om die onwettige goud in die wettige goudhandelbedryf te kry.”

Lebelo het gesê die verdagte, ʼn bekende sakeman van Boksburg, sal na verwagting Woensdag vir die eerste keer in die Boksburg-landdroshof verskyn waar hy as medebeskuldigde bygevoeg sal word vir sy aandeel in die sindikaat. Hy sal na verwagting aansoek doen om borgtog.

Die inhegtenisneming volg ná twee persone Vrydag in hegtenis geneem is in verband met nog ʼn beweerde onwettige goudsindikaat wat glo soortgelyke metodes gebruik het om die SAID met meer as R5 miljoen BTW te bedrieg. Die twee persone is in die Nigel-landdroshof vrygelaat op borgtog van R50 000 elk. Die saak is uitgestel tot 3 November.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Jan maak n Plan ·

Dit is vir my absoluut ironies dat hierdie ouens so hard aan die tipe sake werk maar korupsie in die staatsdiens en plaas aanvalle gaan maar rustig aan.

Lynette ·

Kan iemand my inlig asb? Hoe kan hulle BTW “eis”? Ek sou dink as hulle die ‘verkope’ verklaar moet hulle die BTW oorbetaal. My kop is plat vanoggend.

Joa ·

Hierdie storie was volledig deur Carte Blanche gedek so rukkie gelede. Gaan kyk of jy die storie daar kan kry, dan sal jy verstaan hoe hulle daarby uitkom om BTW te eis.

Estelle ·

Stem heeltemal met jou saam Jan maak ñ plan, hulle spits hulle toe op die sogenaamde “witboordjie” misdaad, en vra buitensporige bedrae vir Borgtog. Maar moord, roof , verkragting word weinig aan gedoen en indien wel is die borgtog laag en daardie verkragters binne paar dae weer op straat om aan te gaan waarmee hulle opgehou het

Martin ·

Nou moet ons seker die Goudmyne blameer hiervoor soos die Wildboere blameer word vir wat in Zambie met daai ouens gebeur het wat gearessteer is vir die Swartwitpense?
Ek vra maar net..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.