Bokskampioen doodgeskiet: Polisiebeampte in hospitaal dood

Leighandre (Bay Lee) Jegels. Foto: Nick & Sam Photography/Boxing SA/Facebook

Die polisiebeampte wat glo sy vriendin, ʼn Suid-Afrikaanse bokskampioen, doodgeskiet en toe in ʼn botsing betrokke was wat die lewens van twee mense geëis het, is in ʼn hospitaal dood.

Sontaga Seisa, woordvoerder van die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod), het bevestig die polisiebeampte verbonde aan die Oos-Londense taktiese reaksiespan het vanoggend in ʼn hospitaal in die stad aan sy beserings beswyk.

Die polisiebeampte, wat nie aan diens was ten tyde van die voorvalle nie, het glo Vrydagmiddag sy vriendin, Leighandre (Baby Lee) Jegels (25), in Mdantsane buite Oos-Londen doodgeskiet. Jegels se ma is ook tydens die voorval raakgeskiet en gewond.

“Die motief was glo ʼn huishoudelike geskil tussen die paartjie,” het Seisa gesê. Die polisiebeampte het na die skietery van die toneel gevlug toe hy in die Peddie-omgewing in ʼn trompop botsing betrokke was. Volgens berigte is twee mense in die ander motor in die botsing dood.

Die polisiebeampte is ook in die botsing beseer en is onder polisiebewaking na ʼn hospitaal geneem.

Dr. Malefetsane Peter Ngatane, voorsitter van Boks Suid-Afrika, het gesê Jegels en haar ma, Rita, was onderweg van hul huis in Dawn na ʼn gimnasium in Mdantsane toe die voorval plaasgevind het. Jegels is op die toneel dood verklaar, terwyl haar ma glo verskeie kere geskiet is en volgens Ngatane in ʼn kritieke toestand in ʼn hospitaal in Oos-Londen is.

Volgens Ngatane het Jegels vroeër ʼn beskermingsbevel teen die polisiebeampte bekom. Hy het Jegels beskryf as een van die land se suksesvolste vroueboksers. Jegels is in 2016 as Suid-Afrika se junior kampioen in die kapokgewigafdeling gekroon en was later ook die WBA Pan-African junior kapokgewigkampioen.

Die polisie se bestuur in die Oos-Kaap het gesê hulle het met skok van die voorval te hore gekom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Willem Grobler ·

Op Bokradio is gerapporteer dat Gunfree South Africa ná hierdie insident weereens ‘n oproep gedoen het vir die verskerping van wapenwetgewing. Dit is belaglik. Hierdie aanvaller was ‘n polisielid en het waarskynlik sy dienspistool gebruik. Suid-Afrika se vuurwapenwet maak dit baie moeilik vir ‘n persoon om ‘n wapen te bekom op ‘n wettige wyse. Kriminele aan die ander kant, het skynbaar geen probleem om wapens en ammunisie te bekom nie. Die SAPS dra grootliks hiertoe by agv die wapens en ammunisie wat hulle verloor. GUN FREE SOUTH AFRICA KYK AL DIE BOGENOEMDE MIS EN DOEN ‘n BEROEP VIR STRENGER WAPENWETTE. Is hulle net onnosel of het hulle ‘n verskuilde agenda?

Valerie ·

Willem, Gun-Free SA is ‘n spul libtards soos Greenpeace, Amnesty International, en elke kamtige “Human Rights” organisasie. Pay them no mind.

Anoniem ·

Wel. Nou is dit nie nodig om deur ‘n verhoor te mergel, te hoor hoe pleit hy onskuldig, en hom tot in lengte van dae in die tronk te versorg nie.

Mag die Here se hand oor haar ma wees.

Nadia ·

My innige simpatie aan haar familie en hoop haar Ma sterk gou aan…maar ek is bitter spyt dat die man ook dood is. So ou moet ‘n lang lewe leef in die tronk met sy skuldige gewete en elke aan sy kop op sy kussing neerlê en probeer rus vind.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.