Bokslegende Bra Mzi Mnguni oorlede

(Foto: Rumble Africa Boxing Promotions/Facebook)

Mzimasi Mnguni, ook bekend as “Bra Mzi”, ʼn boksafrigter en -bestuurder, is Saterdagoggend in die ouderdom van 72 oorlede ná ʼn lang siekbed.

Pule Mabe, woordvoerder van die ANC, het gesê die party betreur sy afsterwe. “Sy toewyding tot die sport bly ongeëwenaard. Hy het van Suid-Afrika se beste bokskampioene afgerig,” het Mabe bygevoeg.

Dié kampioene sluit onder andere die Oos-Kaapse bokser Welcome Ncita in wat ʼn wêreldtitel ingepalm het, Vuyani Bungu, wat die rekord hou vir die meeste titel-verdedigings in die land en Mbulelo Botile, wat die kapokgewig- en veergewigtitels by die Internasionale Boksfederasie gewen het.

Mnguni het twee toekennings vir lewenslange bydrae ontvang – een deur oudsportminister Fikile Mbalula in Durban in 2017 en een deur Mbalula se opvolger, minister Thulas Nxesi, in Port Elizabeth in 2018.

Rumble Africa Boxing Promotions het ook sy skok en hartseer uitgespreek oor die afsterwe van Mnguni. “Hy het soveel deure vir jong boksers oopgemaak wat niks buiten hul talent en ʼn honger vir sukses gehad het nie. Hy het oor die land heen gereis en ʼn brug en ʼn platform geskep vir talle boksers om hul talent op die grootste verhoog ten toon te stel.”

Mnguni het in 2012 ʼn beroerte gehad en was daarna ʼn parapleeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jaco ·

Gaan hy ook ‘n staatsbegrafnis kry? Dis mos die in-ding deesdae selfs vir “our people” wat net verlangs aan die “struggle” verbind was of wat toevallig een of ander grootkop in die ANC geken het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.