Bokspeler wil Tukkie help ná beroerte 

Morné Steyn en Marizaan du Toit. (Foto: Verskaf)

Die Blou Bulle- en Springbok-losskakel Morné Steyn het mense vandeesweek gevra om Marizaan du Toit (19) finansieel te help nadat sy op 4 Desember verlede jaar ’n ernstige beroerte gehad het.

Du Toit is ʼn onderwysstudent aan die Universiteit van Pretoria en het vir die Blou Bulle en Tuks se vrouerugbyspan, sowel as vir die junior Springbokspan gespeel. Sy is verlede jaar in die oefengroep vir die Blou Bulle se senior vrouerugbyspan opgeneem.

Sy is al die afgelope paar weke in die Mediclinic Muelmed in Pretoria waar sy rehabilitasie ontvang. Haar mediese fonds dek egter nie al die uitgawes vir die sorg wat Du Toit nodig het nie.

Steyn het vandeesweek saam met Du Toit se ma, Jacqueline, op Jacaranda 94.7 se Good Morning Angels-program verskyn waar R80 000 op die lug vir Du Toit se mediese uitgawes ingesamel is. Dít volg nadat Steyn persoonlik ʼn versoek aan die program gestuur het.

“Sy is baie talentvol en passievol en ek het haar met haar skopwerk gehelp.

“As die hardwerkende meisie wat sy is, het ons ʼn hele paar ure se oefening ingesit. Sy het goeie werksetiek gehad en het gaan werk aan dít wat ek voorgestel het. Ek dink sy sou baie ver met haar rugby gekom het,” het hy op dié program gesê.

Harte vol dankbaarheid

Die helfte van Marizaan du Toit se skedel moes verwyder word om erge drukking op haar brein te verlig. (Foto: Verskaf)

Steyn was een van vele mense wat ná haar beroerte ingespring het om Du Toit by te staan. Haar spanmaats, lede van die publiek en verskeie organisasies soos Saai en Caring Daisies het ook fondsinsamelingsinisiatiewe van stapel gestuur om Du Toit met haar uitgawes te help.

Die Starfish-swemskool in Pretoria, waar Du Toit as kind geswem het, het ook ʼn geldinsamelingsgeleentheid gereël. Steyn het verskeie Blou Bulle-items, waaronder ʼn getekende rugbybal, geskenk wat by die geleentheid opgeveil is.

“Marizaan was ook daar en het so ewe haar hand opgesteek toe die bal opgeveil is. Iemand het die bal gekoop, maar dit toe vir Marizaan gegee.”

Du Toit sal na verwagting volgende week uit die rehabilitasiekliniek ontslaan word waarna alle behandeling vir haar en haar gesin se eie rekening sal wees. Jacqueline sê haar dogter sal dan steeds drie keer ʼn week rehabilitasie ontvang. Sy gaan ook ʼn versorger nodig hê.

Intussen is terapeute hard aan die werk om Du Toit weer te leer loop. Daar moet nou botoks in haar voet gespuit word om die spiere te verslap aangesien haar spiere saamtrek.

“Die medies betaal nie vir die botoks nie, maar ons het gelukkig nou genoeg geld gekry om dit te kan betaal.

Marizaan du Toit het op 4 Desember verlede jaar ’n ernstige beroerte gehad. (Foto: Verskaf)

“Dis ongelooflik hoe mense hulle harte vir Marizaan oopmaak. Ons is baie dankbaar vir al die geld wat geskenk is en ook vir al die ondersteuning wat ons ontvang, dienste wat gratis aangebied word, goedere wat geskenk word, raadgewing en gebede. In baie gevalle is dit mense wat haar glad nie eens ken nie.”

Maroela Media het vroeër berig dat die helfte van Du Toit se skedel enkele dae ná die beroerte verwyder is om drukking op haar brein te verlig. Sy kan in dié stadium glad nie haar regterarm of ‑been gebruik nie, en sy kan ook nie praat nie. Sy moet talle funksies, soos om te eet, nou van voor af aanleer.

“Ons bly positief en is vol hoop,” het Jacqueline vandeesweek aan Maroela Media gesê.

Sy sê Du Toit begin nou van haar lawwe streke terugkry wat so uniek aan haar persoonlikheid is. Sy sien ook daarna uit om haar dogter weer tuis te hê.

Mense wat deur Caring Daisies wil skenk, sal ook sertifikate vir belastingverligting bo ʼn sekere bedrag ontvang. Mense wat deur middel van dié organisasie ʼn skenking wil maak, kan ʼn e-pos aan [email protected] stuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Louise ·

Ai dis so hartseer, sterkte ons hoop en bid vir volle geneesing!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.