Bolanders geniet lekker verkiesingsdebat

Dr. Pieter Groenewald. Foto: VF Plus

Bolanders geniet min dinge meer as ʼn lekker politieke geveg, en gisteroggend by die US Woordfees op Stellenbosch is hulle vermaak met ʼn verkiesingsdebat uit die boonste rakke.

Die ANC is verteenwoordig deur oudpremier Ebrahim Rasool, die DA deur die Wes-Kaapse minister van finansies, dr. Ivan Meyer, die EFF deur Derrick Hendrickse en die VF Plus deur die partyleier, dr. Pieter Groenewald.

Rasool moes bontstaan om vrae te beantwoord oor pres. Cyril Ramaphosa se rol tydens die bewind van oudpres. Jacob Zuma. Oor die eerste vyf jaar was hy spraaksaam: Ramaphosa was aan die Nasionale Ontwikkelingsplan aan’t skryf. Maar oor die tweede vyf jaar, toe Ramaphosa adjunkpresident was, het Rasool soos die graf geswyg.

Groenewald het gesê mense kan gerus vir die VF Plus stem, want die party glo aan koalisiepolitiek. So regeer die VF Plus byvoorbeeld saam met die DA in die Hessequa-munisipaliteit, wat setel in Riversdal.

Groenewald het gesê as die VF Plus verkies word tot ʼn Wes-Kaapse koalisieregering sal hulle regstellende aksie in die provinsie teenstaan.

Meyer het gesê mense kan voortgaan om die DA te vertrou, want dis die party wat volgens alle syfers die beste regeer, en die enigste party wat ware nierassigheid nastreef.

“Dit gaan beter waar die DA regeer as enige ander plek. Ons regeer nie perfek nie en ons werk heeltyd om onsself te verbeter, maar as jy vir die ANC stem, stem jy vir kragonderbrekings, korrupsie en staatskaping. Dan het jy net jouself te blameer,” het Meyer gesê.

Hendrickse het aangevoer die EFF is nie sulke afbrekers as wat mense aanvoer nie. Hy het kiesers daaraan herinner dat dit die EFF is wat die DA gehelp het om korrupte ANC-regerings te voorkom. Hy het gevra dat mense die EFF se manifes moet lees voor hulle die party oordeel, en dat hulle die EFF ʼn kans moet gee tydens die verkiesing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Alida ·

Mooi Dr Pieter staan saam met die DA regoor SA dan sal ons n ding sien gebeur. Alleen kan die VF of Cope nie die mas opkom nie. Die massas vir die ANC is net te veel. Hulle staak en betoog gedurig maar stem ANC vir n belaglike kospakkie.

Dries du Toit ·

Nou vertel ons Alida vir wie gaan jy dan stem. Sodat ons jou kan volg

Miggie ·

Alida om saam die DA te staan soos jou halwe begrip dit stel beteken om verswelg te word en verstrengel te word binne in n party wat baie duidelik dieselfde beleid as die ANC en die EFF het en net tegnies daarmee verskil soos die DA beleidsdirekteur verneem het met haar bedanking, in koalosie politiek kan die VF Plus egter sy eie beleid hê en opstaan vir die Afrikaner. Een standpunt met gelyke regte, en so baklei vir almal beteken meer as die DA wat vir almal wil wees en tussen die krake sy minderhede weggooi

aj ·

As die meeste kiesers WÉÉR vir die ANC stem is hulle ‘kranksinnig-!

Om na 25 jaar van wanadministrasie, korrupsie, bedrog, diefstal, verkragtings, moorde ensovoorts WEER vir die ANC te stem in 2019 … is KRANKSINNIG!

Naas ·

VF+. Ons in die Kaap is siek vir die DA se wanbestuur van die watersituasie.

Buite Stander ·

Ja Naas, die ANC sal ‘n beter job vir ons doen, of hoe?

alida ·

Julle vra vir wie ek stem. ‘n Goeie begryper het ‘n halwe woord nodig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.