Bolandse vakansieoord sê koebaai vir beurtkrag

ATKV Goudini Spa naby Rawsonville. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Die ATKV Goudini Spa, ’n gewilde Bolandse vakansieoord bekend vir sy natuurlike warmwaterbronne, spog binnekort met ’n indrukwekkende sonkragnetwerk om die ligte tydens beurtkrag aan te hou.

Nie minder nie as 2 415 sonpanele sal voor die einde van Junie tussen die berge van die Slanghoekvallei by dié oord geïnstalleer word.

Die sonpanele sal 1,4 megawatt se elektrisiteit opwek, waarvan die oord 900 KW benodig. Die bykomende 500 KW sal gebruik word om drie rugsteunbatterye bedags te laai vir die dae wat dit reën of bewolk in die Boland is, sê LJ Jacobs, tegniese bestuurder van ATKV Goudini Spa.

Dié drie 800 kilowatt per uur batterye is genoeg om die hele oord se elektrisiteit vir vier uur tydens beurtkrag te verskaf, vertel Jacobs aan Maroela Media waar ons op ’n sonnige dag op die stuk grond staan waar die sonpanele geïnstalleer gaan word.

Die sonpanele sal sowat 2,5 hektaar van die oord beslaan.

Daar is reeds met die nodige voorbereiding begin vir die installering van die sonpanele. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Die kosteberekening staan tans op R43 miljoen – en die bedrag klink waarskynlik vir sommige astronomies.

Goudini het egter die somme gaan maak en glo dat hy die bedrag binne sewe jaar sal kan terugbetaal danksy besparings aan onder meer diesel en instandhouding van kragopwekkers.

“Enigiets van beurtkrag fase 4 én hoër kos ons in dié stadium tussen R24 000 en R26 000 per dag,” sê Jacobs. Hy verduidelik dat die oord tussen 800 en 1 100 liter diesel per dag aankoop wanneer Eskom hoë fases beurtkrag instel.

Die sonpanele sal sowat 2,5 hektaar van die oord beslaan. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

ATKV Goudini Spa naby Rawsonville. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Thaba Solar, ʼn sonkragmaatskappy op Thabazimbi in Limpopo, is verantwoordelik vir die installering van Goudini se sonpanele. Dié maatskappy het ook ATKV se Eiland Spa in Limpopo se sonkragstelsel geïnstalleer.

Die aanleg vorm deel van die oord se talle groen inisiatiewe, sê Jacobs terwyl hy ook die oord se eiesoortige rioolstelsel verduidelik.

Dié stelsel skakel gryswater na bruikbare water om wat weer gebruik word om die oord se linne te was.

(Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Schalk Cilliers, besturende direkteur van die ATKV, glo in “groen gaan”, wat water en elektrisiteit betref.

Nege bome moes helaas die afgelope maand afgekap word om plek te maak vir die sonpanele by die oord.

“Ons is hartseer oor ons bome, maar ʼn sonpaneel wil nie skaduwee hê nie,” sê Jacobs. Die hout van die bome sal nou deur ’n versnipperaar gesit word en die saagsels sal in die oord se tuin gebruik word. “Só bespaar ons weer water.”

Goudini het intussen nuwe bome by die oord aangeplant om die fauna en flora daar te bevorder.

  • Die berig is gewysig sedert dit aanvanklik gepubliseer is. – RED

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Pierre ·

Lankal Eskom gegroet en dit was die beste besluit gewees sienende die beurtkrag en buitensporige krag pryse.

Sandra ·

Baie meer maatskappye / individue begin nou vir Eskom groet, ek wens ek kon ook, maar ongelukkig is die finansiële impak net te veel vir my beursie.

domheks ·

Mooi so ATKV! In die land gaan ons nie gou weer sonder BEURTKRAG wees nie, Nie met huidige bestuur nie.

Seef ·

Mooi so, wens net meer plekke en instansies kan eskom en die anc in hulle…..stuur.

Delia ·

Goudini spa is net buite Worcester naby Rawsonville in die WK en die Eiland Spa is buite Tzaneen in die Limpopo Provinsie. Beide baie lekker vakansie oorde

Daisy ·

Die kragsituasie in ons land gaan beslis nie verbeter nie.
My logika se vir my al hoe meer mense en instansies wat dit kan bekostig om sonkrag en -panele te installeer gaan dit doen. Sodoende gaan die mense wat dit nie kan bekostig nie, net meer vir krag betaal aangesien Eskom BAIE geld gaan verloor.
Dink aan skole, besighede, en nou vakansie oorde wat al hoe meer vir hulle eie kragvoorsiening sorg.

annie ·

Oooh, die natuurskoon is uitgelewer aan die oordadige kragvoorsiening vir wát? Dit is ‘n vakansieoord. Wat wil die vakansiegangers aanvang met al die krag? Krag op die verkeerde plek. Elders is dit meer van nut. Braai Goudiaanse Spabesoekers vleis onder sterk soekligte?

Cassie Carstens ·

Annie, nee ek stem nie saam met jou negatiewe siening nie. Daar is reeds bome aangeplant vir dit wat uitgehaal is. Ek wonder of jy al ooit daar gekamp het. Hierdie is uitstekende bestuu ren toekomstige beplanning van die ATKV waarmee ek hulle wil gelukwens. So moet dit mos gedoen word!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.