‘Bom’ in Baaise sentrum is fopnuus

Argieffoto: Kent Williamson

Die polisie in Port Elizabeth sê hulle het ʼn probleem met mense wat vals gerugte in die sosiale media versprei en onnodige paniek saai.

Dit kom nadat ʼn inskrywing Woensdagoggend wyd versprei is dat die Greenacres-winkelsentrum afgesper is nadat ʼn bom ontplof en ʼn brand ontstaan het. In die fopnuusinskrywing word beweer die polisie het ʼn anonieme wenk gekry dat daar ʼn bom in die winkelsentrum is, waarna die bom ontplof het.

ʼn Woordvoerder van die sentrum het aan Maroela Media bevestig niks van die aard het gebeur nie.

Kapt. Johann Rheeder, Baaise polisiewoordvoerder, het gesê die laaste brand in die sentrum was twee jaar gelede. “Dis iemand wat sulke nonsens in die sosiale media versprei. Hulle het seker nou gehoor van Dinsdag se brand op St. Francisbaai,” sê hy.

Hy sê die polisie sukkel met mense wat gerugte versprei en dan sosialemediagebruikers op hol jaag. In dié geval is die gerug geheel en al ongegrond.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

JK ·

Ja nee 90% van SA FB verbruikers “share” net heeltyd sonder om enigens te lees, soos toe “die taxis die dorp toegemaak het, sodat niemand kan in of uit nie, ons dae is getel” maar dat dit n gereelde optog was rofl.

Zettie ·

Ek stem volkome saam met jou JK. Dit gebeur veral met ou nuus oor vermiste kinders wat intussen al lankal teruggevind is. En as mens die plaser uitwys oor die datum wat oud is of die nuus wat onwaar is dan word jy sommer uitgekryt ook nog…….ek wens mense wil seker maak van hul feite voordat hul net links en regs inligting deel op sosiale media. Dis regtig nie so moeilik om bietjie navorsing te doen nie.

Lientjie ·

Spoor hulle dan op en kla hulle aan, want as jy sien wat se groot klomp strooi mense op FB kan versprei.

ES ·

Mense wat sulke fopnuus skep en deel moet dieselfde straf kry as ‘n persoon wat regtig ‘n bomdreigement maak. Ons lewe alreeds in ‘n tyd en samelewing waar almal op eiers trap en ons het nie mense nodig wat paniek saai nie. Kry vir jou stokperdjie soos normale mense.

Vee ·

Dalk is die gerugte begin deur iemand wat in vrede wou inkopies doen…die tyd van die jaar is daai plek oorvol en die mense loop mekaar uit die aarde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.