Die gewilde Clearwater Mall in Roodepoort, Johannesburg, is Maandagoggend ontruim nadat ʼn bomdreigement ontvang is.
“Ons kan bevestig dat daar ʼn bomdreigement by Clearwater Mall is,” het Russel Meiring woordvoerder van ER24, gesê. “Die winkelsentrum is ontruim weens die bedreiging.”
Kol. Noxolo Kweza, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie se bomeenheid en honde-eenheid is op die toneel.
“Ons kan nog nie bevestig of die dreigement waar is nie. Die polisie het ʼn anonieme wenk ontvang dat daar ʼn bom is, en stel ondersoek in,” het sy gesê.